News

Sanger deel haar reis van genesing deur haar nuwe liedjie

“As jy val’ is in 'n tyd van diepe verlies en hartseer geskryf. Lucia Poggenpoel vertel die storie van haar reis om die pyn te verwerk en hoe sy weer haar doel gevind het.

Sanger en liedjieskrywer Lucia Poggenpoel praat oor haar reis van genesing, geloof en herontdekking in her jongste Afrikaanse liedjie,
“As jy val”.

Dit is meer as net ’n liedjie vir haar. Poggenpoel beskryf dit as ’n gebed, ’n getuienis en ’n kragtige herinnering dat dit maak nie saak hoe hard die lewe is en jou probeer onderkry nie, jy kan altyd weer opstaan.

“As jy val” is gebore uit ’n diep persoonlike seisoen van verlies en hartseer, en volg Lucia se pad deur hartseer en hoe dit haar terugneem na ’n doel.

“Toe ek iemand na aan my verloor het, was ek verpletter,” sê sy.

“Die skryf van hierdie liedjie was terapie. Dit het my gehelp om die pyn te verwerk en het my herinner dat God die een is wat ons weer oplig,” verduidelik sy.

Poggenpoel sê die lirieke van die liedjie, wat gewortel is in eerlikheid en geloof, spreek direk tot enigiemand wat donker tye in die gesig staar.

“Daar was ’n tyd wat ek skaam gevoel het oor wat ek moes deurmaak,” sê sy.

“Maar nou besef ek dat soveel mense ’n stil stryd voer. Ons is nie alleen nie en God het steeds ’n plan. Hy lig ons op op die regte tyd.”

Lucia Poggenpoel has released her new song, As jy val. Photo: Facebook/ Lucia Poggenpoel

Sy hoop dat luisteraars bowenal met een boodskap sal wegstap: dit is goed om te val, maar moenie bly lê nie.

“Foute gebeur, die lewe raak rof. Maar daar is altyd ’n tweede kans, en die liedjie beskryf presies dit,” sê sy.

“As jy val” dui ’n nuwe hoofstuk vir Poggenpoel aan.

“Hierdie liedjie bied ’n hand aan enigiemand wat al ooit gestruikel het. Dit herinner hulle dat genesing moontlik is en dat hoop nooit ver weg is nie.”

Sy sê haar liefde vir musiek het in haar kinderjare begin. Sy kon sing nog voordat sy behoorlik kon praat en sy het op elke ritme gedans.

Sy het by die skoolkoor in laerskool aangesluit en klavierlesse geneem. Dit het die grondslag vir ’n lewenslange passie gelê.

Poggenpoel sê Afrikaanse kunstenaars soos Joshua na die Reën en Riana Nel, musikante wat bekend is vir hul boodskappe van geloof en liefde, is sommige van die kunstenaars wat haar inspireer.

“My geloof, my familie, my boesemvriende en die gemeenskap rondom my, veral my hardloopklub, is my grootste inspirasies,” sê sy.

“Hulle het nog altyd in my geglo, en daardie geloof bly die brandstof vir alles wat ek doen.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button