News

Metro vat Kleinfontein hof toe oor ‘ongeldige’ soneringsaansoek

Ten spyte van 'n metro-hofaansoek van 12 Augustus teen Kleinfontein, bly hierdie gemeenskap vasbeslote om hul reg op bestaan, eiendom en kulturele identiteit te beskerm.

Die Kleinfontein-gemeenskap in die kultuurdorp oos van Pretoria sê hulle is diep teleurgesteld oor die metro se besluit om ’n hofsaak teen hulle aanhangig te maak, wat duidelik daarop gemik is om van hul kultuurgemeenskap ontslae te raak.

Op 12 Augustus is die gemeenskap beteken met ’n regskennisgewing wat poog om Kleinfontein se bestaansreg in twyfel te trek, ondanks jare lange pogings van die gemeenskap om hul status as selfstandige nedersetting binne Pretoria formeel te laat erken.

In die hofaansoek stel die metro voor dat indien die gemeenskap nie aan al die bepalings van die nasionale Ruimtelike Beplanning- en Grondgebruikbestuurswet voldoen nie, ’n bevel om die gemeenskap se geboue en huise te sloop, aangevra sal word.

Sedert 2013 is daar verskeie pogings aangewend om die hangende hersonerings- en formaliseringsaansoek van Kleinfontein af te handel.

Volgens die bestuur se dokumente en argiefinskrywings het Kleinfontein met nie minder nie as vyf burgemeesters geskakel, insluitend die huidige minister van energie, dr. Kgosientso Ramokgopa, wat destyds as burgemeester in die openbaar belowe het om Kleinfontein se formalisering te prioritiseer.

Opeenvolgende burgemeesters het soortgelyke beloftes gemaak, en onlangse gesprekke en mediaberigte het hoop geskep vir ’n positiewe uitkoms.

Die nuutste regsoptrede kom daarom as ’n skok volgens verteenwoordigers van die gemeenskap.

Wat hierdie stap meer ontstellend maak vir die bewoners en direksie, is dat die metro hof toe gaan ten koste van belastingbetalers, terwyl Kleinfontein in 2024 self voorgestel het om ’n gesamentlike taakspan te stig om die aansoek te finaliseer.

Volgens die woordvoerder, Dannie de Beer, het die metro nou ’n volledige ommeswaai gemaak. Die metro voer aan dat die oorspronklike soneringsaansoek nie meer verwerk kan word nie en deur ’n nuwe uitgebreide aansoek volgens die Ruimtelike Beplanning- en Grondgebruikbestuurwet vervang moet word.

Die aansoek is ingestel ten spyte van dat Kleinfontein, sonder die hulp van ’n ontwikkelaar, die aansoekproses self gefinansier het met bydraes van lede en reeds miljoene rande spandeer het op die oorspronklike aansoek en indien van planne deur stadsbeplanners.

“Dit gaan baie duur wees en is ’n lang proses. Dit beteken ons sal omtrent alles moet oordoen wat ons reeds miljoene gekos het. Ons regspan is egter positief oor ons kanse op sukses. Tshwane gaan van bakboord na stuurboord en is duidelik bevooroordeeld,” sê De Beer.

“Is Leeuwfontein of Mooikloof gedagvaar of is dit net die Afrikaner-nedersetting Kleinfontein?”

Hy verwys hiermee na die onlangse verslag van ’n subkomitee van die metro dat daar meer as 10 000 onwettige huise in Tshwane in 17 gebiede is waaronder meestal luukse strukture sonder goedgekeurde planne of regte sonering. Slegs nege gebiede, met 8 431 strukture, kom moontlik in aanmerking vir regularisering, afhangend van beskikbare dienste.

Die kulturele gemeenskap Kleinfontein word as ‘n nedersetting deur die metro voor die hof gedaag om ‘n nuwe, duurder soneringsaansoek volgens ‘n nasionale wet in te dien om hul voortbestaan te versker. Foto: Elize Parker

Die komitee het Kleinfontein uitgesluit met die aanbeveling rondom gebiede wat geregulariseer kan word omdat dit buite die stedelike grens val.

Stefan Wiese, hoof uitvoerende beampte van Kleinfontein, het sy teleurstelling uitgespreek: “Die feit dat die metro bereid is om die hof te gebruik as ’n instrument teen ’n klein, selfstandige kultuurgemeenskap, wys op ’n sistemiese onwilligheid om oplossings te vind. Hierdie is ’n gemeenskap wat self alle dienste voorsien soos water, riool, elektrisiteit, vullisverwydering en sekuriteit sonder enige steun van die metro. En tog is dit ons wat vervolg word.”

Hy wys daarop dat Kleinfontein geleë is op wettig verkrygde private grond, ten volle betaal deur sy lede. Die gemeenskap het geen staatsubsidies of regeringshulp ontvang nie.

“Wat verder kommer wek, is die feit dat verskeie ander informele nedersettings in Tshwane toegelaat word om voort te bestaan sonder enige vorm van basiese dienste of formele beplanning. In teenstelling hiermee is Kleinfontein professioneel ontwerp en bestuur. Die stad se eis dat die gemeenskap se huise gesloop moet word indien daar nie aan die Ruimtelike Beplannings en Grondgebruikswet se vereistes voldoen word nie, wys op duidelike dubbele standaarde.”

Wiese sê verder: “Om sowat 650 huise en strukture te probeer sloop is nie net onprakties nie, maar is ’n ernstige skending van basiese menseregte en ’n klap in die gesig van die Grondwet wat toegang tot behuising waarborg. Hierdie boelie-taktiek teenoor ’n vreedsame, kulturele gemeenskap is eenvoudig wreed.”

Hy glo Kleinfontein-gemeenskap het oor die afgelope drie dekades alles in hul vermoë gedoen om te voldoen aan regulasies, hetsy by die Oostelike Diensteraad, Kungwini of die metro. Die konstante skuif van regulasies en die metro se onwilligheid om hul eie beloftes na te kom, het ’n situasie geskep waarin vooruitgang doelbewus belemmer word.

Die gemeenskap glo dat die regsoptrede nie net administratief van aard is nie, maar moontlik ook polities gemotiveerd.

Volgens Wiese dui die metro se houding teenoor Kleinfontein op ’n duidelike minagting van hierdie regte.

“Ons sal nie stilbly nie. Die regte van die inwoners van Kleinfontein sal beskerm word. Ons kies steeds om die pad van samewerking te volg, maar ons sal onsself verdedig met alle wettige middele.”

Kommentaar is van die metro aangevra maar is nog nie teen publikasietyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button