Bekende Pretoria-modeontwerper Henja Schaap sterf
Die modegemeenskap is in rou ná die dood van die bekende Pretoria-ontwerper Henja Schaap. Hier is meer besonderhede.
Die bekende Pretoria-modeontwerper Henja Schaap is oorlede. Die nuus van sy dood het Dinsdagaand op sosiale media versprei, maar die omstandighede rondom sy dood, insluitend waar en hoe hy gesterf het, is nog nie bekend nie.
Schaap, wat oor baie jare ’n gevestigde naam in Pretoria en die groter Suid-Afrikaanse modebedryf opgebou het, was geliefd vir sy stylvolle skeppings, uitsonderlike vakmanskap en warm persoonlikheid.
Hy het klerereekse ontwerp vir sowel mans as vroue, en was veral bekend vir sy trourokke wat elegansie en detail gekombineer het.
Op sosiale media stroom boodskappe van medelye en huldeblyke in. Vriende, kliënte en bekendes beskryf hom as ’n kreatiewe gees met ’n groot hart, iemand wat altyd tyd gehad het vir ’n grappie en ’n glimlag.
Een van sy oud-studente en bekende ontwerper van Pretoria Liezl Nortje Jansen, het ’n besonderse huldeblyk gedeel:
“Ek onthou nog hoe my hande gebewe het daardie eerste keer toe ek die foon moes optel om met jou te reël vir my eerste intern-posisie — by jóú! Nou moet ek die Legend self bel… as ek toe maar geweet het!
Daardie weke saam met jou as my mentor het my meer geleer oor patroonwerk en konstruksie as wat enige instansie ooit kon. Jy het my nie net tegniek geleer nie, maar die liefde vir mode en vir skepping self. En asseblief — moenie ooit boring wees nie!
Jy was ’n meester in jou craft, en ek was die honger student wat elke stukkie kennis wou opslurp.
Jy het altyd uitgestaan en gespot jy was die swart skaap, maar jou persoonlikheid het jou ‘larger than life’ gemaak!
Mag jy sag rus waar jy nou is, skapie. Mag daar geen pyn of kwaad wees nie — net vrede, vrolikheid, liefde en saamwees.”
Hoewel daar nog geen amptelike besonderhede oor sy dood beskikbaar is nie, is dit duidelik dat Schaap se heengaan ’n groot leemte laat in die modekringe van Pretoria.
Lees ook: Modeontwerper geteiken deur polisie
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
