ʼn Centurion pa het vermoedelik eers sy agt-jarige dogter geskiet voordat hy sy eie lewe geneem het.
Volgens polisiewoordvoerder, Kapt. Johan van Dyk, het die skietvoorval Vrydag omstreeks 20:15 plaasgevind waarna die polisie na ʼn huis in Amberfield ontbied is.
“By die beamptes se aankoms is ʼn 44-jarige man en ʼn agtjarige dogtertjie in ʼn bloedplas op ʼn bed aangetref. Die man en die kind is deur paramedici op die toneel dood verklaar.”
Van Dyk sê ʼn vuurwapen is op die toneel gevind en die misdaadtoneelbestuur is geaktiveer om met die ondersoek te help.
ʼn Moordsaak en ʼn geregtelike doodsondersoek is reeds geopen.
READ THE ENGLISH VERSION HERE.
Intussen is die pa en dogter op sosiale media geïdentifiseer as Warren en Amé Green.
Amé was glo ʼn gr. 2-leerder by Laerskool Rooihuiskraal. Sy is beskryf as ‘n pragtige dogter wat geliefd was onder haar maats en onderwysers.

“Haar afsterwe laat ʼn groot leemte en ons innige meegevoel gaan uit na die familie, vriende en almal wat deur hierdie tragiese verlies geraak word.”
Die skool sal na verwagting Maandag sielkundiges en terapeute beskikbaar hê om die nodige ondersteuning aan leerders, ouers en personeel te bied.
“Ons moedig ouers aan om met hul kinders oor hul gevoelens te praat en om ons te laat weet indien u kind addisionele ondersteuning benodig. Hou asseblief saam met ons die familie in u gedagtes en gebede. Mag ons elke herinnering aan Amé en Warren met eerbied koester. Met opregte simpatie,” het die skool in ‘n brief aan die ouers gesê.
Lees ook: Bekende Pretoria-modeontwerper Henja Schaap sterf
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
