Blomme neergelê vir geliefde juffrou Elaine
Bosse blomme en klein boodskappies is by Laerskool Bakenkop in Centurion se gedenktuin neergele vir die geliefde juffrou Elaine Kuschke.
Leerlinge, ouers en kollegas het Dinsdag bosse blomme by Laerskool Bakenkop in Centurion neergelê ter nagedagtenis aan die geliefde juffrou Elaine Kuschke, wat Maandag by die skool in mekaar gesak het en oorlede is.
Volgens ‘n verklaring deur die skool is Elaine weens natuurlike oorsake oorlede.
“Dit is met ’n swaar hart en diepe hartseer dat ons die skielike heengaan van een van ons geliefde personeellede, Mej. Elaine Kuschke, aankondig. Mej. Kuschke is vanoggend weens natuurlike oorsake by die skool oorlede.
“Haar passie vir onderwys en haar deernis vir elke kind sal ’n blywende leemte by Laerskool Bakenkop laat. Ons harte gaan uit na haar ma en sussie, vriende en die leerders wat in haar sorg was.”
Die skool het bygevoeg dat beradingsdienste in plek gestel is om almal by te staan wat deur hierdie verlies geraak word.
Kuschke sou in April vanjaar 37 jaar oud geword het.
Meer inligting rakende die gedenkdiens sal bekend gemaak word sodra dit gefinaliseer is.
Dinsdag is Elaine onthou vir haar diepe impak wat sy op mense gehad het.
“Vanoggend is ons rotstuin omskep in ‘n gedenktuin; ’n plek van liefde, trane en herinneringe.
“Elke blom en elke boodskappie getuig van die diepe impak wat Juf Elaine op soveel harte gehad het.
“Dankie aan ons leerders en ouers wat hul liefde so mooi kom wys het.
“Sy sal vir altyd deel bly van ons storie,” het die skool in ‘n plasing op Facebook gesê.
Lees ook: Geliefde onderwyseres sak in mekaar en sterf by Laerskool Bakenkop
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
