Groot teenkanting oor Melgisedek-hervestiging in Gezina
Terwyl organisasies, inwoners en politieke partye toenemend druk plaas vir antwoorde en moontlike hersiening van die plan, duur voorbereidingswerk op die hervestigingsterrein in Gezina voort. Die komende dae kan bepalend wees vir óf die hervestiging volgens plan sal voortgaan, en óf verdere regs- en gemeenskaps-aksies die proses sal vertraag.
Verskeie organisasies in Pretoria en politieke partye mobiliseer toenemend teen die beplande hervestiging van meer as 450 inwoners van die vervalle Melgisedek-terrein na ’n terrein met ’n tentedorp op die hoek van Johan Heynsweg- en Nico Smithstraat in Gezina.
Die optrede volg nadat ’n hofbevel aan die metro toegestaan is om die huidige inwoners van Melgisedek te ontruim oor onveilige en onhigieniese omstandighede en tydelik elders te vestig.
Teen laat Woensdagmiddag, het werk op die terrein reeds merkbaar gevorder om dit as tentedorp in te rig. Heiningpale is rondom ’n stuk grond ongeveer so groot soos ’n kwart rugbyveld ingekap. Die gebied lê teenaan die spoorlyn en langs ’n klein informele nedersetting in ’n stegie langs die spoorlyn.
Werkers wat by die terrein werksaam was, het aangedui dat die kontrak behels dat ’n 1.8m hoë diamantmaasheining rondom die veld opgerig moet word, met die mikpunt dat die heining teen laatmiddag Vrydag voltooi sal wees.

Die terrein is vir residensiële bewoning gesoneer en bestaan volgens die metro se stadsbeplanningskaarte uit verskeie erwe.
Volgens inwoners van huise in die omgewing, wat bestaan uit ’n mengsel van residensiële eiendomme, woonstelle, winkelsentrums soos Gezina Galleries en groot besighede soos CTM, sowel as motorhandelaars, is daar reeds op 10 Maart slote gegrawe om water na die terrein te lei.
Reg oorkant die beoogde hervestigingsterrein is nog ’n eiendom wat volgens Vryheidsfront Plus se proporsionele raadslid vir die area, Mari Joubert, aan die metro behoort en waarvandaan elektrisiteit moontlik voorsien kan word.
Volgens die metro se voorlegging aan die hof en die hofbevel wat vir die ontruiming van Melgisedek toegestaan is, sal die inwoners, onder wie meer as 100 kinders, op die terrein in meer as 80 tente gevestig word. Tydelike toilette sal ook opgerig word.
Metrowoordvoerder Lindela Mashigo bevestig dat sommige inwoners, insluitend kinders, mense met gestremdhede en bejaardes, moontlik ook in bestaande skuilings van die metro geplaas kan word.
Hy verduidelik dat die reëling vir die tentedorp slegs vir ses maande sal geld, waarna die inwoners die verantwoordelikheid van die Gauteng provinsiale owerhede sal word.

Die plan het egter sterk reaksie ontlok by inwoners en organisasies in die Moot-gebied.
Piet Thirion, voorsitter van die Moot CPF-sektor wat verantwoordelikheid neem vir die Gezina-area, sê die huidige nedersetting by die stasie bring reeds uitdagings mee.
“Ons weet wat kom. Die metro kan ons nie wol oor die oë trek nie. Ons beswaar is dat die metro so lank reeds gehad het om ’n oplossing te vind en nou ewe skielik die Melgisedek-probleem ’n Gezina-probleem maak. Want hiermee saam gaan diefstal uit motors, huisinbrake en jongmense wat ingetrek gaan word in dwelmhandel en bedelaars gaan die winkelsentrum hiernaby oorstroom.”
Thirion beklemtoon dat die gemeenskap en forum nie teen hulp aan hawelose mense gekant is nie, maar dat beter beplanning nodig is om oplossings vir sulke uitdagings te vind.
’n Inwoner wat in 1958 in ’n huis naby die terrein gebore is en steeds in die huis woon wat sy ouers reeds in 1952 betrek het, sê die plan laat hom onseker oor die toekoms van die buurt. Die inwoner verkies om anoniem te bly.
“Ek kan my nie indink hoe dit gaan wees om een oggend uit te stap en skielik ’n tentedorp op my voorstoep met al die meegaande verkeersprobleme te hê nie. Dis ’n baie besige kruising en hier kan net probleme ontstaan al is daar ’n heining rondom die tentedorp. Dit bekommer my ook dat die mense hier kan begin kook op oop vure en dan slaan die tente aan die brand.”

Joubert sê ’n groot bron van kommer is die ligging van die terrein langs ’n roete wat baie treinpendelaars gebruik.
“Dit gaan al hoe onveiliger vir hulle word. Tans moet hulle alreeds verby die nedersetting by die stasie stap en van die kassiere in die winkels het al aangedui hoe onveilig dit voel,” sê sy.
Joubert, wat self net ’n paar blokke van die terrein woon, het verduidelik die party se koukusleier, Grandi Theunissen, het ook ’n formele dispuut reeds op 10 Maart oor die projek by die metro ingedien.
Sy voer aan dat daar nie voldoende openbare deelname was voordat die besluit geneem is nie.
Volgens haar word administratiewe besluite soos hierdie in Suid-Afrika deur die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid gereguleer, wat vereis dat enige besluit wat die publiek wesenlik raak, ’n regverdige en deursigtige konsultasieproses moet insluit.
Joubert het ook ’n petisie teen die hervestiging begin. Teen 11 Maart om 17:00 het meer as 2 152 mense al die petisie geteken.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook indringende vrae aan die stadsraad gestel oor die plan.
Llewellyn Hemmens, projekbestuurder en woordvoerder van die organisasie, sê ’n brief met verskeie vrae is reeds op 11 Maart aan die stadsbestuurder gerig.
“Ons is ook bekommerd oor die humanitêre sy van die hervestiging. Dit raak eersdaags winter en ’n tent is nie ideale behuising vir sulke weersomstandighede nie. Ons is ook bekommerd oor die dwelmhandel wat kan toeneem in die onmiddellike omgewing met nuwe dwelmhandelaars wat van Melgisedek inbeweeg in die omgewing,” sê Hemmens.
Volgens Hemmens kan die organisasie moontlik regstappe oorweeg indien daar nie teen 13 Maart duidelike antwoorde van die stadsbestuurder ontvang word nie.
Die DA se koukusleier in Tshwane, Cilliers Brink, het ook kritiek uitgespreek en sê die stad moet seker maak dat die hervestiging nie bloot die probleem verskuif nie.
“Ons is bekommerd dat dekades-lange sosiale probleme van Melgisedek nou bloot na ’n ander deel van die stad verskuif gaan word sonder dat ’n werklike oplossing aangebied word,” sê hy.
“Die ANC-administrasie moet die impak op omliggende gemeenskappe deeglik oorweeg, want om inwoners van Melgisedek na ander gemeenskappe te verskuif sonder om die onderliggende sosiale probleme aan te spreek of ’n langtermynplan te hê, sal bloot ’n nuwe Melgisedek skep.”
Hy sê die DA het versoek dat die stad se behuisingsoorsigkomitee ’n verslag moet lewer oor die pad vorentoe.
Brink wys ook daarop dat ’n soortgelyke probleem onlangs deur die DA in Bloemfontein aangespreek is by wyse van regsaksie en dat ’n voorgenome hervestiging deur die stadsraad hierdeur gestop is. Hy beklemtoon dat dit ook ’n moontlike weg is wat die DA in Pretoria oor die Gezina-hervestiging kan volg.
Die metro sê die beplande ontruiming van inwoners uit die Melgisedek-gebou in Gezina word hoofsaaklik deur ernstige veiligheidskwessies gedryf en nie deur ’n onmiddellike en toekomstige ontwikkelingsprojek op die terrein nie.
Sommige gemeenskapsleiers glo dat die eiendom van die Melgisedek-terrein moontlik in die toekoms vir ontwikkeling oorweeg kan word, moontlik in samewerking met die private sektor.
Mashigo sê egter geen tender is egter al uitgereik en geen ontwikkelaar is aangewys nie.
Hy voeg by dat geen verkrygingsproses nog begin het om ’n ontwikkelingsvennoot aan te stel nie.
– Kliek hier om die terrein vroegoggend op 11 Maart te sien:
– Die petisie kan hier geteken word: https://c.org/ZzgHvBxLWs
LEES:
- Eviction order stands after Melgisedek appeal unsuccessful
- Melgisedek demolition begins as occupants served eviction notices
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel


