Taal as mensereg weer in kollig
Die reg om in jou moedertaal te leer en met die staat te kommunikeer bly ’n kernfokus van die Afrikaanse Taalraad. Volgens Merlyn van der Rheede is praktiese ondersteuning, soos werkswinkels en gemeenskapsgesprekke, noodsaaklik om taalregte en beter leesuitkomste vir leerders te verseker.
Wanneer Suid-Afrikaners op Menseregtedag (21 Maart) terugkyk op die land se geskiedenis, is dit nie net politieke en sosiale regte wat onder die loep kom nie, maar ook die reg om in jou eie taal te leer, te werk en te kommunikeer.
Vir Merlyn van der Rheede, projekbestuurder vir die Noorde van die Afrikaanse Taalraad, is taalregte ’n kernaspek van menswaardigheid.
Sy verduidelik dat die Afrikaanse Taalraad beskou taalregte as ’n integrale deel van menswaardigheid en demokratiese deelname.
“Die taalraad werk oor gemeenskappe, dialekte en historiese skeidslyne heen om Afrikaans in al sy variëteite te bevorder. Vanuit hierdie perspektief is meertaligheid nie ’n struikelblok vir samehorigheid nie, maar ’n grondwetlike beginsel wat aktief beskerm en bevorder moet word.”
Sy verduidelik dat Menseregtedag ’n belangrike geleentheid bied om nie net oor historiese onregte te praat nie, maar ook oor die hedendaagse uitdagings wat steeds bestaan.
“Ons praat dikwels oor stemreg en vryheid van beweging, maar minder oor taal. Tog is taal die kanaal waardeur al hierdie regte uitgeoefen word,” sê Van der Rheede.
Volgens haar is moedertaalonderrig nie net ’n kulturele ideaal nie, maar ’n bewese opvoedkundige noodsaaklikheid.
“Internasionale en plaaslike navorsing wys herhaaldelik dat kinders beter leer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig ontvang, veral in die grondslagfase,” sê sy. “Dit gaan nie daaroor om Engels uit te sluit nie, maar om ’n sterk grondslag te lê waarop meertaligheid kan groei.”
Sy voeg by dat baie ouers Engels kies as ’n skooltaal vir hul kinders omdat hulle dit met geleenthede en ekonomiese vooruitgang verbind.
“Ons verstaan daardie keuse. Ouers wil die beste vir hul kinders hê. Maar wanneer ’n kind nie eers met begrip in sy moedertaal kan lees nie, word die aanleer van enige ander taal en vakke later ’n struikelblok,” sê sy.
Die leeskrisis in Suid-Afrika, waar ’n groot persentasie leerders in die vroeë grade nie met begrip kan lees nie, hou volgens haar direk verband met taal van onderrig.
“As ’n kind eers die taal van onderrig moet ontsyfer voordat hy die inhoud kan verstaan, is hy reeds op ’n ongelyke beginlyn,” sê Van der Rheede. “Dit is nie ’n kwessie van vermoë nie, maar van toegang.”
Om hierdie uitdagings aan te spreek, werk die taalraad nou saam met organisasies soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk en Vriende van Afrikaans in Pretoria om opvoeders en gemeenskappe prakties met taalregte te ondersteun.
“Op 8 en 9 April bied ons twee werkswinkels aan by Laerskool Generaal Nicolaas Smit in Hercules,” verduidelik Van der Rheede.
“Die doel is om onderwysers, ouers en gemeenskapsleiers toe te rus met kennis en hulpmiddels om moedertaalonderrig effektief te bevorder.”
Die werkswinkels bou voort op soortgelyke dae wat deur die taalraad in Eersterust aangebied is.
Sy beklemtoon dat die werkswinkels nie net teoreties van aard is nie.
“Ons fokus op praktiese strategieë soos hoe om leesbegrip in die moedertaal te ontwikkel, hoe om tweetaligheid op ’n volhoubare manier te bou en hoe skole hul taalbeleide binne die raamwerk van die Grondwet kan versterk,” sê sy.
Die Funda Uphumelele (FUNS-studie), ’n landwye studie wat in November 2025 deur die Departement van Basiese Onderwys bekend gestel is, het bevind dat lees met begrip by 30% van graad 3-leerders en 50% van graad 4-leerders ontbreek.
Volgens haar is daar dikwels ’n gaping tussen beleid en praktyk.
“Die Grondwet erken 12 amptelike tale en verbind die staat tot die bevordering van meertaligheid, maar in baie skole en instellings word Engels die vanselfsprekende taal van onderrig en administrasie,” sê sy. “Ons werk is om gemeenskappe te help om hul regte te verstaan en prakties toe te pas.”
Volgens Stats SA se Sensus 2022 praat ongeveer 12% van inwoners in Pretoria Afrikaans as huistaal. Afrikaans is die derde grootste taal in die stad. Die statistiek wys die verspreiding van Afrikaans in Pretoria is egter geografies ongelyk. In die suidelike en oostelike voorstede soos Eersterust, Centurion, Moreleta Park en Faerie Glen, is die persentasie Afrikaans-sprekendes die hoogste, met tussen 40% en 78% van inwoners wat die taal gebruik.
Die syfers wys ook die landelike gebiede soos Bronkhorstspruit en Cullinan het ook sterk Afrikaanse gemeenskappe van ongeveer 47–49% wat dit as huistaal gebruik. In die noordelike voorstede soos Pretoria-Noord, Akasia en Moot wissel die persentasie tussen 20% en 25%, terwyl Afrikaans in buurte soos Mamelodi, Soshanguve en Atteridgeville slegs 5–10% van die huistale vorm.
Van der Rheede wys daarop dat taalregte nie net in skole ter sprake is nie, maar ook in alledaagse situasies soos klinieke, howe en polisiekantore.
“Wanneer iemand ’n verklaring moet aflê in ’n taal waarin hy of sy nie volkome gemaklik is nie, kan belangrike besonderhede verlore gaan,” sê sy. “Dit raak nie net die kwaliteit van kommunikasie nie, maar ook mense se gevoel van veiligheid en respek.”
Sy glo dat die gesprek oor taal dikwels verkeerdelik as verdelend beskou word.
“Om vir taalregte op te staan, beteken nie om ander tale te benadeel nie,” sê sy. “Inteendeel, dit gaan juis oor die beskerming van almal se reg om in hul eie taal te funksioneer. Meertaligheid is een van Suid-Afrika se grootste bates.”
Die werkswinkels in April vorm deel van ’n breër program wat die taalraad deur die jaar aanbied in Pretoria.
Van der Rheede sê daar is reeds beplanning vir ’n jeuggesprek in Junie en ’n vrouegesprek in Augustus in Pretoria.
Verlede jaar se gesprek vir vroue en taalregte in die Atterburyteater het belangstellendes van oraloor gelok.
“Ons wil jongmense en vroue spesifiek betrek omdat hulle dikwels die draers van taal in gemeenskappe is,” sê sy. “Wanneer ’n ma in haar moedertaal met haar kind lees en praat, bou sy nie net woordeskat nie, maar ook selfvertroue en identiteit.”
Sy glo dat gemeenskappe ’n aktiewe rol moet speel in die beskerming van taalregte.
“Die staat het ’n grondwetlike plig, maar burgerlike samelewing en ouers het ook ’n verantwoordelikheid,” sê Van der Rheede.
“Wanneer ouers ingeligte taalkeuses maak en skole ondersteun wat moedertaalonderrig aanbied, versterk dit die hele onderwysstelsel.”
Met die komende werkswinkels en gesprekke hoop die taalraad om die debat oor taalregte uit die teorie en in die praktyk te skuif.
“Ons wil hê mense moet weet dat hulle nie magteloos is nie,” sê sy. “Taalregte is deel van hul grondwetlike beskerming, en saam kan ons werk om seker te maak dat moedertaalonderrig nie net ’n ideaal bly nie, maar ’n werklikheid in elke klaskamer.”
LEES MEER: Koedoespoort businesses reel after prolonged power outages
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
