Ervare predikant begin nuwe seisoen by Riviera/Jakaranda
Ná jare in die bediening en ’n kort aftrede, het ds. Frikkie Coetzee weer ’n pos as leraar aanvaar by NG Kerk Riviera. Hy sien sy terugkeer na die kansel as ’n voortsetting van sy roeping.
Die terugkeer van dr. Frikkie Coetzee na voltydse gemeentebediening ná sy aftrede voel vir hom soos ’n natuurlike voortsetting van ’n lewenslange roeping.
Hy beskryf die nuwe pos as ’n nuwe seisoen van diens.
Coetzee het op ’n plaas in Noordwes grootgeword en het sy skoolloopbaan by ’n klein plaasskool naby Lichtenburg begin en by Hoërskool Lichtenburg voltooi.
Hy onthou daardie jare as vormend.
“Ek het grootgeword tussen lande, diere en mense wat mekaar geken het. Daardie klein skool het my geleer dat elke mens raakgesien moet word. Jy kan nie in so ’n omgewing wegraak nie, en dit het my later in my bediening baie gehelp.”
Aanvanklik het niks daarop gedui dat hy predikant sou word nie. Hy het by die Universiteit van Pretoria ingeskryf om ingenieurswese te studeer en in die metallurgiese rigting gespesialiseer.
“Ek het baie van wiskunde en natuurwetenskaplike vakke gehou,” vertel hy. “Tot in my tweede jaar was my pad vorentoe eintlik redelik duidelik. In my derde jaar het die duidelikheid begin vervaag en omgesit in onsekerheid oor my lewensdoel. Ek het besluit om my diensplig te gaan doen om uitklaring oor my toekoms te kry.”
Soos baie jong mans in daardie tyd het die onderbreking sy studies en sy denke oor die toekoms beïnvloed.
“Dit was vir my ’n oorbruggingstyd wat baie ontwrigtend was. Skielik was jy uit jou studieroetine en moes jy oor jou lewe begin nadink.”
Tydens ’n kuier by sy ouers, het hulle ’n plaasbiduur bygewoon. Daar het hy die roeping ervaar om predikant te word.
“Ek het besef die Here roep my na iets anders en dat ek nie ’n ingenieur sou word nie.”
Hy het die besluit met sy ouers bespreek en erken dat dit nie ’n maklike gesprek was nie.
“Ek moes vir hulle sê ek glo die Heilige Gees lei my in ’n ander rigting, en dit beteken ek gaan my studies staak. Dit was ’n groot stap, ook omdat daar beursverpligtinge was, maar ek het vrede gehad dat dit die regte pad is.”
Sy eerste blootstelling aan praktiese bediening het reeds tydens sy studentejare gekom toe hy by die universiteitsbediening se sendinguitreike in Pretoria se middestad betrokke geraak het.
“Ons het op Kerkplein begin werk met haweloses en gebrokenes. Dit was vir my ’n skok om te sien hoe gebroke die situasie daar was, maar dit was ook waar ek God se hart vir mense op ’n nuwe manier leer ken het.”
Later het hy, onder leiding van ds. Pietie Victor, by meer gestruktureerde straatwerk en hawebediening aangesluit in Kaapstad by die middestadsbediening, Straatwerk.
“Dit was uitdagend, maar ek het daar geleer dat God se liefde werklik oor alle grense strek. Ons het met mense gewerk wat deur baie ander verwerp was, en tog het ek soveel wonderwerke van herstel en hoop gesien.”
Hierdie ervarings het sy besluit om teologie te studeer bevestig. Hy het met sy teologiese studies in Pretoria begin en hy het later na Stellenbosch gegaan om hom verder vir die bediening voor te berei.
Sy eerste beroep was na die NG Kerk La Rochelle in Bellville, waar hy byna 20 jaar lank gedien het.
“La Rochelle het my baie geleer. Ek moes self ’n padkaart vir die bediening daar help ontwikkel. Jy kan nie net modelle van elders neem en dink dit gaan werk nie. Jy moet luister na jou mense en jou gemeenskap.”
Gedurende sy tyd in Bellville was die gemeente betrokke by uitreike na Oekraïne en Japan.
“Dit het my oë weereens oopgemaak vir hoe die kerk wêreldwyd funksioneer. Jy besef skielik dat gelowiges oral met soortgelyke vrese, vrae en hoop leef.”
Na sy jare in die Kaap het Coetzee na Pretoria teruggekeer en vir 12 jaar by die missionale gemeente Lux Mundi gedien. Hy sê hy het daar groot vrede ervaar.
“Lux Mundi het ’n sterk fokus op uitreik en gemeenskapsbetrokkenheid, en dit het baie goed by my hart gepas, en hulle het ook uitreikaksies na die Oekraïne.”
Met sy aftrede het hy nie verwag dat hy weer so gou ’n gemeente sou bedien nie.
Tog het gesprekke oor die moontlikheid om by NG Kerk Riviera-Jakaranda betrokke te raak toegeneem.
“Toe die naam Riviera en die droom van die gemeente ter sprake kom, het dit my dadelik laat dink aan ’n stroom. Vir my het dit ’n geestelike betekenis, naamlik die stroom van lewende water waarvan die Bybel praat. Dit het vir my gevoel asof die Here sê: ‘Hier is nog ’n stroom waarin jy kan instap’.”
Hy beskryf die Moot as ’n besonderse gemeenskap.
“Mense is vriendelik en daar is ’n sterk gevoel van ons behoort aan hierdie plek en sy mense, maar die demografie is besig om vinnig te verander.”
Hy sien dit as ’n voorreg en geleentheid dat groot instellings soos die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, hospitale en die mediese fakulteit in die omgewing is.
“Dit bring ’n enorme verskeidenheid mense na die buurt, en dit skep ook nuwe geleenthede vir bediening.”
Samewerking met ander kerke is vir hom ’n prioriteit.
“Ons kan nie meer as geïsoleerde eilande funksioneer nie. Ek sien veral uit daarna om saam met ander kerke in die omgewing te werk en werklik saam bediening te doen.”
Hy noem ook dat hy uitsien na samewerking met pastoor Elijah Mahlangu se Cornerstone-bediening.
“Daar is soveel wat ons by mekaar kan leer en saam kan doen.”
Studente lê hom na aan die hart, en hy hoop om weer ’n sterk studentebediening in die Moot te sien.
“Daar was in die verlede ’n florerende studentebediening hier, en ek glo ons kan weer daarby uitkom. Jongmense soek leiding en sin, en die kerk het ’n rol om daar te speel.”
Hy is bewus van die frustrasie wat baie mense tans oor dienslewering en die stand van die land ervaar.
“Ons kan nie toelaat dat ons harte negatief en hard word nie. Dan verloor ons iets van God se deernis.”
Sy boodskap aan inwoners is om eerder weer geleenthede raak te sien.
“Party van die opsies wat ons gehad het, was dalk ongeleefde geleenthede, maar dit beteken nie daar is nie weer nuwe geleenthede nie. Die Here bly nuwe deure oopmaak.”
Coetzee vind baie aanklank by Riviera-Jakanda se kernwaardes van oë wat raaksien, harte wat omgee en hande wat dien.
“Ons wil mense met God se oë raaksien. Dit beteken jy kyk nie net na iemand se omstandighede of foute nie, maar jy sien hul potensiaal en hul waardigheid.”
Hy glo die kerk moet met ‘oog, hart en hand’ dien om raak te sien, om te gee en om prakties te dien en te help.
Hy sien ook daarna uit om by organisasies soos Hospivision betrokke te raak. Die gemeente en die organisasie loop reeds lank saam ’n pad met hospitaalbediening.
Vir hom bly die lewe, saam met sy eggenoot, Rayline, en dogter, Andreia, selfs ná aftrede, ’n avontuur.
“God laat Hom nie vasvang deur grense nie, en ons behoort ook nie. As Hy jou roep om weer iets nuuts aan te pak, moet jy die moed hê om ja te sê.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf:
Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
