Toe die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Ekspedisie (SANAE)-span laat in Desember 2025 met die SA Agulhas II suidwaarts na Antarktika vertrek, het geoloog en akademikus, dr. Herman van Niekerk, geweet die reis sou nie net ’n wetenskaplike sending wees nie. Dit sou ook ’n toets van uithouvermoë, spanwerk en oorlewing wees.
“Ons kon werklik nie raai wat op ons sou wag nie,” het hy onlangs aan die Protea-aftreeoord in Pretoria-oos se inwoners vertel.
Van Niekerk, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg se Department van Geologie, was deel van die 2025/26-seisoen se geologiese ekspedisie na die ysbedekte vasteland.
Die legendariese ysbrekerskip, die SA Agulhas 2, het op 24 Desember 2025 uit Suid-Afrika vertrek.
Die son het reeds toe op 21 Desember begin draai, ’n verontrustellende gedagte vir Van Niekerk wat gevoel het hul mos moontlik vroeër vertrek het.
Altesaam 1.6 ton toerusting moes deur die geologie-span saamgeneem word. Van tente en wetenskaplike instrumente tot brandstof en kos is in ’n skeepshouer vir die span gelaai. Die toerusting is met die ysbrekerskip vervoer en later met CAT Challengers en sleë na die Suid-Afrikaanse navorsingsbasis, SANAE4, op die vasteland geneem met aankoms.

Van Adar is dit deur die geologies span met sneeumotorfietse en sleë na hul navorsingsgebied, 170km van die basis, geneem.
Van Niekerk het vertel hoe die grootste uitdaging in hierdie stadium van ’n sending is om juis eers ’n veilige aflaaipunt op die ysbank langs die see te vind.
Hy het uitgebrei oor hoe deeglik voorbereiding vir hierdie tipe sending is, veral ook die opleiding met sneeumotorfietse.
Hy het beklemtoon dat oorlewing ook afhanklik is van die regte toerusting: “As jy nie reg ingerig is nie, gaan jy dit nie maak nie.”
Hoewel baie mense Antarktika as ’n eindelose wit vlakte beskou, is die werklikheid meer kompleks.
“Min mense weet onder die ysoppervlakte het Antarktika berge en rotsformasies ook,” het hy verduidelik.
Hierdie onderliggende geologie is deel van die rede waarom geoloë na die vasteland gestuur word sodat navorsing gedoen kan word oor juis wat die rotse en die verandering daaraan, oor kwessies soos globale verwarming aan navorsers kan uitwys.
Van Niekerk neem sy persoonlike leuse uit die woorde van die Britse avonturier en Antarktiese ekspedisie leier, Sir Ernest Shackleton: “Deur volharding oorwin ons.”
Shackleton is op 5 Januarie 1922 op 47-jarige ouderdom oorlede aan ’n hartaanval. Hy het gesterf aan boord van sy skip, die Quest, terwyl dit in die hawe van Grytviken op Suid-Georgië geanker was tydens sy vierde Antarktiese ekspedisie. Op versoek van sy vrou is hy in Grytviken begrawe.
Van Niekerk het in 2018 Shackleton se graf op Antarktika besoek en vertel dat hy homself in moeilike tye tydens ekspedisies afvra: Wat sou Shackleton gedoen het?
Volgens die ervare geoloog is lewensbedreigende situasies volop in Antarktika. Hy beskryf die vasteland onomwonde: “Antarktika wil jou eintlik doodmaak en dis hoekom niks daar maklik is nie.”

Die ekspedisie se span het met hul veldwerk en navorsing weg van die SANAE-basis in tente gebly tydens veldwerk.
Een van die grootste gevare om op die vasteland te beweeg is skeure, oftewel diep krake in die ys waarin ’n mens of voertuig kan val.
Tydens een van die projekte is Van Niekerk en sy span na ’n ou depot gestuur om toerusting te herwin. Die reis is in uiters moeilike omstandighede aangepak. Winde het tot 145km per uur gewaai en die sneeumotorfietse het herhaaldelik in sagte sneeu vasgesit.
“Gelukkig is daar meesal ’n satellietverbintenis, ook vir rigtingaanduidings en leiding vanaf die basis,” het Van Niekerk gesê.
Dit was nog lank nie die enigste emosioneel uitdagende voorval nie. ’n Storm het hulle op ’n slag tien ure vertraag en teen die tyd dat hulle by veldwerkbasis aangekom het, was hulle reeds vir 24 uur wakker.
In ’n stadium moes hulle ontdek dat die brandstof in een van die voorraaddromme minder was as wat hulle gedink het.
Tog moes die veldwerk altyd voortgaan al het die weer min saamgespeel.
Elektroniese toerusting het met hul terugtog begin vries. GPS-skerms, horlosies en beskermbrille is met yslae oortrek, wat navigasie nog moeiliker gemaak het.
Uiteindelik het ’n weerstoestand hulle ook getref waarin sigbaarheid en kontras ernstig verminder was deur sneeu.
Die span het met die amper katastrofale terugtog besef hulle is 800 meter van hulle beplande roete af en hulle niks kon sien nie. In die swak sigbaarheid het een van die sneeumotorfietse ’n skeur getref en ’n spanlid is van die voertuig afgegooi. Dit het ure geneem om almal en alles weer te organiseer om die tog verder aan te pak.
Van Niekerk het vertel oor hierdie gevaarlike oomblikke: “Ek het amper my span verloor.”
Sy span het bestaan uit professor Marlina Elburg en studente Dewan Isaacs en Nina Woithe.
Uiteindelik na al die veldwerk voltooi is en verskeie krisisse afgeweer is, het hulle met drie sneeumotorfietse en vier sleë by die basis aangekom.
“Dit is net die Here se genade dat ons betyds terugvertrek het. ’n Paar uur later en ons sou bes moontlik nie by die basis uitgekom het nie.”
Elburg het ernstige vriesbrand aan haar hande en voete opgedoen.
“Nog ’n genade is dat ons wel ’n paar windlose dae gehad het.”
Kort na hul terugkoms by die hoofbasis is Van Niekerk en sy span per helikopter terug na die wagtende ysbrekerskip. Die SA Agulhas II kon egter nie onmiddellik teruggekeer Suid-Afrika toe nie. Die skip is herlei om ’n siek 17-jarige meisie op die eiland Tristan da Cunha op te laai en na mediese hulp in Kaapstad te vervoer.
Die ekspedisie-span het eers op 27 Februarie weer in Suid-Afrika aangekom.
Van die geologiese span se navorsing in Antarktika fokus onder meer op klimaatsverandering en voedselsekerheid. In kort, verduidelik Van Niekerk, spits een van die projekte se navorsers hul toe op die beweging van gletsers en hoe dit oseaanstrome beïnvloed. Dit het weer ’n direkte impak op die verspreiding van voedingstowwe in die see en dus op die mariene hulpbronne waarvan mense wêreldwyd afhanklik is.
Die voorbereiding vir die 2026/27-ekspedisie het reeds begin en Van Niekerk is reeds gereed om hom sielkundig voor te berei.
“Antarktika haal alles uit ’n mens uit: fisies, emosioneel en geestelik. Tog, dit bly ’n plek waar wetenskaplikes belangrike antwoorde soek en vind oor die toekoms van die planeet.”
Kyk hier na beeldmateriaal van die span se tuiskoms in Februarie: https://www.facebook.com/reel/1870953086950700
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
