News

Kompetisie brei uit met nuwe KI-afdeling

Die inisiatief poog om nuwe Afrikaanse liedjies te ontdek, terwyl dit terselfdertyd die rol van tegnologie in moderne musiekskepping ondersoek en debat daaroor aanmoedig.

Die FAK-Skryf’it-liedjieskryfkompetisie het op 16 Maart amptelik vir inskrywings geopen en bied vanjaar pryse ter waarde van R100 000, insluitend R25 000 kontant.

Die kompetisie plaas ’n sterk fokus op die ontdekking en ontwikkeling van nuwe Afrikaanse liedjieskrywers, terwyl dit terselfdertyd reageer op die vinnige tegnologiese veranderinge wat die wêreld van musiek raak.

’n Belangrike nuwe element in vanjaar se kompetisie is die bekendstelling van ’n spesiale afdeling wat die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) in musiekverwerking en -produksie verken.

Hierdie stap plaas die kompetisie op die voorpunt van gesprekke oor hoe tegnologie die kreatiewe bedryf verander en hoe kunstenaars dit op ’n verantwoordelike manier kan benut sonder om die kern van hul kuns te verloor.

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, is die kompetisie se doel wyer as net die soeke na ’n trefferlied.

Hy sê die organisasie wil ook ’n ruimte skep waar die rol van tegnologie in musiekskepping openlik bespreek en prakties getoets kan word.

“Tegnologie ontwikkel teen ’n ongelooflike tempo, en kunsmatige intelligensie speel toenemend ’n rol in hoe musiek geskep en vervaardig word. Pleks daarvan om hierdie werklikheid te ignoreer, kies ons om dit verantwoordelik te hanteer,” sê Müller.

Hoewel KI ’n groter rol in produksie en klankontwerp begin speel, beklemtoon Müller dat die kern van ’n Afrikaanse lied onveranderd bly.

“Tegnologie kan klanke skep, maar mense skep liedjies. Die hart van ’n Afrikaanse liedjie sal altyd in die lirieke wees. Woorde wat uit menslike ervaring en emosie deur storievertelling gebore word. Die hart van Afrikaans kan nie geprogrammeer word nie.”

Vir die eerste keer in die geskiedenis van Skryf’it word die kompetisie in twee afdelings verdeel.

Die eerste is die tradisionele liedjieskryfafdeling, waar elke aspek van die liedjie, van lirieke en melodie tot finale produksie, geheel en al deur mense geskep moet word.

Die tweede afdeling laat deelnemers toe om KI as hulpmiddel in die verwerking en produksie van hul liedjies te gebruik.

In albei gevalle geld egter dieselfde reël: die lirieke moet volledig deur ’n mens geskryf wees.

Volgens Müller is hierdie balans doelbewus geskep om beide tradisionaliste en tegnologies ingestelde skrywers te akkommodeer.

“Ons probeer nie tussen tegnologie en tradisie kies nie. Skryf’it bied ’n tuiste vir tradisionele liedjieskrywers, maar ook vir innoveerders wat nuwe klanke wil verken. Uiteindelik sal die publiek help besluit wat hulle in Afrikaanse musiek wil hoor.”

Volgens Barry Müller, die FAK se nasionale hoof van gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, Foto: Elize Parker

Hy voeg by dat die kompetisie uiteindelik oor die siel van Afrikaanse musiek gaan.

“Ons soek nie net treffers nie maar eerlike stories. Wat dit uniek maak is dat ons nie net wenners kroon nie maar mense ontwikkel. Alle liedjies staan ’n kans om ’n voet in die deur te kry.”

Die kompetisie bied mentorskap deur ’n groep gevestigde Afrikaanse kunstenaars wat deelnemers deur die finale rondtes begelei.

Vanjaar se mentors, of ghoeroes, sluit in Danie ‘Reënwolf’ du Toit, Ampie, Andriëtte Norman, William Wolf en John-Henry Opperman van Klopjag-faam.

Volgens Müller is hierdie mentorskap ’n kernkomponent van die projek.

“Dis een ding om ’n goeie lied te skryf, maar iets heeltemal anders om dit te slyp tot iets besonders. Wanneer ’n opkomende skrywer langs iemand staan wat al die pad gestap het, gebeur daar iets besonders.”

Benewens die mentorskap beskik die kompetisie ook oor ’n uitgebreide beoordelaarspaneel wat bestaan uit gevestigde name in die Afrikaanse musiekbedryf, onder wie Jakkals Vibes, Blixem Straat, Steve Hofmeyr, Gian Groen, Pieter Smith, Bibi du Preez, Logan Pietersen, Monica Maree, Stefan Jansen, Jannie du Toit en Machiel Roets.

Verlede jaar se Skryf’it-kompetisie-wenner van die Moot, Logan Pietersen, en sy lewensmaat Tanya Michelle. Foto: Elize Parker

Müller sê die FAK is op soek na liedjies wat werklik iets sê.

“Oor die tipe liedjies wat ons soek, is dit belangrik dat dit iets sê. Dit kan gaan oor liefde, verlies, hoop, identiteit. Ons wil stories hoor wat mense laat stil raak.”

Die bekendstelling van die KI-afdeling word deur die FAK nie as ’n bedreiging vir kunstenaars beskou nie, maar as ’n manier om nuwe kreatiewe moontlikhede te ontsluit.

“Deur ’n KI-afdeling in te bring wil ons kreatiwiteit verbreed, nie vervang nie. Dis ’n hulpmiddel wat nuwe moontlikhede oopmaak, maar die menslike hart bly die kern. Dit gee jou ook die geleentheid om nuwe genres te verken en help met die afronding van die liedjie.”

Volgens hom kan veral jong liedjieskrywers by hierdie tegnologie baat vind. “Jong skrywers kan daarby baat want KI help om gedagtes aan te wakker, nuwe klanke te ontdek en selfs produksieprosesse te versnel. Maar dit bly net ’n hulpmiddel. Die emosie, die storie, die waarheid moet altyd by die kunstenaar self begin.”

Hy hoop dat die KI-afdeling verrassende en ongewone klankkombinasies sal oplewer.

“Ek hoop om in die KI-afdeling iets te hoor wat my verras. Klanke wat ons nog nie gewoond is nie. Mengsels van oud en nuut, dalk tradisionele invloede gekombineer met moderne produksie.”

Ten spyte van die tegnologiese innovasie bly Skryf’it in wese ’n platform vir nuwe stemme. Müller sê elke groot Afrikaanse lied het êrens klein begin.

“Elke groot Afrikaanse lied het êrens begin: op ’n stuk papier, in ’n notaboek of as ’n eenvoudige idee. FAK-Skryf’it het ontstaan om daardie geïnspireerde oomblikke ’n kans te gee om tot ten volle gerealiseerde liedjies te groei.”

– Kliek hier vir ’n video van die Liedjietuin:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button