News

Metro se konsepbegroting wek kommer oor tariefverhogings

Die 2026/27 konsepbegroting stel hoër tariewe, uitgebreide infrastruktuur-belegging en ’n wegskuiwing van uitgekontrakteerde dienste voor. Maar die geprojekteerde 14% styging in algehele besteding en voortdurende afhanklikheid van belastingbetalers sal waarskynlik kritiek vererger tydens die openbare deelnameproses voor die begroting later vanjaar afgehandel word.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) het die metro se voorgestelde 2026/27 konsepbegroting wat meer as R57-miljard beloop, sterk gekritiseer en waarsku dat die beplande tariefverhogings sal verdere finansiële druk op huishoudings wat reeds in die knyp is, sit.

Volgens die party, sal inwoners se maandelikse munisipale rekenings waarskynlik tussen R300 en R450 styg indien die huidige voorstelle goedgekeur word.

Die konsepbegroting, wat op 26 Maart ter tafel gelê is as deel van die metro se middeltermyn inkomste- en uitgawesraamwerk, sluit die volgende voorgestelde verhogings in: water +10%, electrisiteit +8.8%, sanitasie +5%, eiendomkoerse +5%, and vullisverwydering +4.1%.

Die VF+ voer aan dat dit onaanvaarbaar is vir inwoners om die tariefverhogings te absorbeer wat in sommige gevalle dubbel of selfs drie keer die inflasiekoers is, terwyl munisipale werkers salarisaanpassings ontvang.

Die party hou vol dat huishoudings effektief gedwing word om die metro se groeiende loonrekening te dra, ondanks die feit dat vele inwoners se inkomstes nie teen ’n soortgelyke tempo toeneem nie.

Die party se koukusleier, Grandi Theunissen, bevraagteken ook die metro se bewering dat die begroting ’n oorskot van R1.4-miljard weerspieël.

Volgens hom, is hierdie oorskot gebaseer op ’n onrealistiese inkomsteversamelingskoers van 90%, terwyl die Ouditor-Generaal herhaaldelik aangedui het dat die metro se werklike insamelingskoers onder 85% bly.

Die party waarsku dat hierdie optimistiese aanname daartoe kan lei dat die geprojekteerde oorskot in ’n werklike tekort van tussen R700-miljoen en R1-miljard verander.

Die konsepbegroting self skets ’n ambisieuse plan om munisipale finansies te stabiliseer terwyl die afhanklikheid van uitkontraktering geleidelik verminder word.

Die dokument van meer as 500 bladsye is egter slegs die aand voor die raadsvergadering op 26 Maart aan opposisie-raadslede verskaf.

Die VF+, saam met die DA en raadslid Lex Middelburg, het daarteen gestem, as gevolg van onvoldoende tyd om die inhoud te bestudeer aangesien twee aparte konsepbegrotings met verskillende bedrae gestuur is.

Die metro het die tariefverhogings verdedig as nodig om diensleweringstandaarde te handhaaf en om kritieke infrastruktuur-opgraderings te befonds.

Die kapitaalbegroting vir die 2026/27 boekjaar is vasgestel op R2.8-miljard, wat ’n 14.2%-verhoging van die vorige jaar verteenwoordig.

Die administrasie beplan om dit verder te verhoog tot R3.5-miljard in die volgende boekjaar as deel van ’n meerjarige poging om verouderde infrastruktuur aan te spreek.

Tshwane-burgemeester, dr. Nasiphi Moya, sê die stad beoog om belegging vir infrastruktuur uit te brei sonder om nog lenings aan te gaan.

Die fokus sal wees op pypvervanging, opgraderings aan watersisteme, verbeteringe in die behandeling van afvalwater, en die verkryging van nuwe padonderhoudstoerusting.

’n Sleutelkenmerk van die begroting is die beplande vermindering in besteding aan kontraktuele dienste.

Algehele uitgawes op uitkontrakteringsdienste sal na verwagting met 4.4% afneem. Besteding op watertenkwaens, byvoorbeeld, is tot R126.7-miljoen verminder, terwyl sekuriteitsverwante kontraktuele dienste is met 17% tot R475-miljoen besny.

Die metro beplan om hierdie fondse te herlei om interne kapasiteit te bou en toerusting vir munisipale besit aan te skaf, insluitend watertenkwaens, vragmotors en masjinerie vir die herstel van paaie.

“Ons moet meer interne bronne aanwend om nie afhanklik te wees van private dienste nie,” sê Moya.

Die begroting het ook R104-miljoen vir gestruktureerde batebeskerming bewillig, insluitend om die intydse misdaadbeheersentrum te versterk, sowel as die uitbreiding van gespesialiseerde eenhede soos die K9, kabeldiefstal en dwelmeenhede.

Volgens die burgemeester, om hierdie eenhede te bekragtig sal bydra om kritieke infrastruktuur te beskerm en die behoefte vir private sekuriteitsdienste verminder.

Die adjunkburgemeester, Eugene Modise het op 29 Maart gesê dat die bedryfsuitgawes R55.6-miljard beloop.

“Die konsepbegroting poog om die mees kwesbare inwoners te beskerm, die las op inwoners te beperk en die finansiële lewensvatbaarheid van die metro te handhaaf,” het Modise gesê.

Ekonoom Theuns du Buisson van Solidariteit sê die huidige administrasie het ’n aantal planne uiteengesit om die metro se finansiële posisie te verbeter, maar waarsku dat die ware toets in die toepassing sal lê.

Du Buisson sê die burgemeester het tydens haar media-inligtingsessie haar voorgangers aansienlik blameer vir finansiële en ander teëspoed, maar het ook verskeie planne uiteengesit om die metro se finansiële en diensleweringsposisie te verbeter.

Volgens hom, sal net die tyd leer watter van hierdie planne doeltreffend toegepas sal word en die beloofde resultate sal lewer.

“Terwyl geen van die nuwe uitgawes wat deur die voorgestel het, inherent vermorsend lyk nie, sal die huidige administrasie steeds hard moet werk om die vertroue van inwoners terug te wen,” sê hy.

Hy gebruik die voortdurende omstredenheid rondom die watertenkwa-besteding as ’n voorbeeld.

Die burgemeester het ’n breedvoerige verduideliking aangewend oor waarom die syfers wat in die media versprei word, onakkuraat is, maar sê hy, dit bly moeilik om te aanvaar dat om water te vervoer soveel as R621-miljoen in ’n enkele jaar beloop.

’n Verdere R15-miljoen is in die konsepbegroting opsygesit vir die aankoop van nuwe tenkwaens, en Du Buisson waarsku dat inwoners toekomstige begrotings noukeurig sal moet bestudeer om vas te stel of hierdie beleggings eintlik tot sinvolle besparings lei.

Van binne die regerende koalisie het ActionSA-raadslid, Japhta Modiba die konsepbegroting verdedig en sê dit is gebaseer op realistiese aannames en weerspieël ’n verskuiwing weg van vorige regeringspraktyke. Hy voer aan dat die administrasie poog om die stad se finansies op ’n meer volhoubare pad te plaas.

Die EFF het ook aspekte van die begroting verwelkom, veral die vermindering van kontraktuele dienste.

Raadslid Oliver Mabogwana sê die afskaal van watertenkwaens en ander uitgekontrakteerde funksies kan help om vermorsing van uitgawes te bekamp en dienslewering te versnel.

DA-koukusleier Cilliers Brink sê hierdie begroting is “’n duidelike produk van ’n administrasie wat onder mekaar rondskarrel”.

“Wat duidelik is, is dat die administrasie probeer desperaat om te wys dat hulle wegbeweeg van kontrakdienste wat in die nuus was vir die betaling van teruggedateerde fakture, moontlik bedrieglik of van dienste wat nie eens gelewer is nie.

Die vermindering van toegekende fondse aan hierdie lynitems is nie ’n aanduiding dat daar ’n werklike bedoeling is om besteding te verminder nie, aangesien hierdie regering bewys het dat hulle geen probleem het om hierdie fakture as ongemagtigde uitgawes te betaal nie,” sê Brink.

Die konsepbegroting sal nou vir openbare deelname vrygestel word.

Inwoners, besighede en burgerlike organisasies het nou die geleentheid om hul kommentare in te dien voordat die begroting later vanjaar afgehandel word. Opposisiepartye moedig die publiek aan om die proses te gebruik om hul besware uit te spreek oor die voorgestelde tariefverhogings en bestedingsprioriteite.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button