News

Plaaslike skrywers blink uit op boekpryse se kortlyste

Verskeie skrywers en redakteurs uit Pretoria tel onder die finaliste vir die Andrew Murray-Desmond Tutu-boekpryse en die Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026. Die kortlyste, wat op 31 Maart bekend gemaak is, beklemtoon die stad se groeiende invloed in die boekewêreld en bevestig die gehalte van plaaslike skryftalent.

Pretoria se skrywers- en redakteursgemeenskap het rede tot trots nadat twee belangrike skryfpryse se kortlyste en benoemings bekend gemaak is, met verskeie plaaslike skrywers en redakteurs wat onder die finaliste tel.

Die aankondigings, wat onderskeidelik die Andrew Murray-Desmond Tutu Prysfonds se boekpryse en die Tafelberg Jeugboekpryse insluit, beklemtoon die stad se voortgesette bydrae tot Afrikaanse en Suid-Afrikaanse literatuur en leesstof in beide fiksie en nie-fiksie genres.

Name van Pretoria-skrywers soos Jozine Botha, Jacques Beukes, Hannes Knoetze, en Fay van Eeden pryk op die kortlyste en onderstreep Pretoria se rol as sentrum vir skrywers, teoloë en redaksionele kundigheid.

Pretoria skrywers en redakteurs Hannes Knoetze en Jacques Beukes se redaksionele werk aan die bundel ‘Diaconia’, sowel as Fay van Eeden se betrokkenheid by ‘Care for Africa’, is vir ‘n boekprys benoem. Foto: Linked in/Mias van Jaarsveld

Knoetze en Beukes se redaksionele werk aan die bundel Diaconia, sowel as Van Eeden se betrokkenheid by Care for Africa, wys op die sterk akademiese en teologiese skryftradisie wat steeds in Pretoria gevestig is.

Jozine Botha maak haar debuut met ‘Die jare tussen ons’. Foto: Elize Parker

Terselfdertyd verteenwoordig Botha van Pretoria-Noord se debuutroman Die jare tussen ons ’n nuwe geslag skrywers wat hul stemme laat hoor en temas van identiteit, familie en geloof op vars maniere in Christen-fiksie verken.

Botha sê dit is vir haar ’n groot eer om op die kortlys vir die Desmond Tutu–Gerrit Brand-prys vir debuutwerk te wees.

“Die jare tussen ons is ’n baie persoonlike verhaal wat temas soos gebrokenheid, vergifnis en genade aanspreek, iets wat ek glo baie mense se harte diep aanraak. Om te weet dat hierdie storie raakgesien en erken word, beteken vir my ongelooflik baie,” sê sy.

Sy sien hierdie benoeming nie as ’n persoonlike prestasie nie, “maar as ’n getuienis van God se getrouheid en genade. Dit motiveer my om aan te hou skryf en stories te vertel wat mense nader aan Hom trek en herinner dat herstel altyd moontlik is”.

Die Andrew Murray-Desmond Tutu Prysfonds het onlangs die kortlyste vir sy boekpryse vir 2026 bekend gemaak.

Volgens Eddie Orsmond, waarnemende voorsitter van die Andrew Murray-Desmond Tutu Prysfonds, dien die pryse veral as aansporing en erkenning vir skrywers om gehalte publikasies op teologiese en Christelike gebied in al die landstale te lewer.

Rudi Swanepoel en skrywer Tom Smith by ‘n bespreking van Smith se boek ‘Vind God in die gewone’. Foto: Facebook/Tom Smith

Vir die Andrew Murray-prys is die volgende werke genomineer: Stilweg. Gedagtes oor stilte en vertroue deur Carel Anthonissen, Betereinder deur Schalk van Heerden en Vind God in die gewone deur Tom Smith.

Hierdie kategorie se beoordelaarspaneel het bestaan uit prof. Christo Lombard, prof. Kobus Schoeman en dr. Guillaume Smit.

In die kategorie vir die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys, wat fokus op werke wat temas van geregtigheid, versoening en geloof in die breër samelewing aanspreek, is Displacement deur Daniël Louw, Diaconia deur Knoetze en Beukes as redakteurs, en Care for Africa, saamgestel deur Beukes, Hasan Musa, Van Eeden en Mias van Jaarsveld, op die kortlys.

Mias van Jaarsveld het saam met Fay van Eeden aan ‘Care for Africa’ gewerk. Foto: Linked in/Mias van Jaarsveld

Die beoordelaars in hierdie kategorie is prof. Demaine Solomons, dr. Sandiswa Lerato Kobe en dr. James Goddard.

Vir die Desmond Tutu Gerrit Brand-prys vir debuutwerk is Botha se Die jare tussen ons saam met Proud to be Deaf deur Mark James en Vredemaker deur Reginald Hufkie Peace benoem.

Die beoordelaars vir hierdie afdeling is prof. Eugene Baron, prof. Douglas Lawrie en prof. Juanita Meyer.

Die wenners van die drie boekpryse, sowel as die ontvangers van vier addisionele toekennings, word op Donderdag, 30 April bekend gemaak.

Benewens die boekpryse sal vier spesiale toekennings ook tydens dieselfde geleentheid oorhandig word.

Dit sluit in die CLF-Elise Tempelhoff Toekenning vir Omgewingsbewaring en -Geregtigheid, die Jaap Durand-Denise Ackermann Toekenning vir Eenheid, Geregtigheid en Versoening, die Andrew Murray-SAKOV-Toekenning vir Kerkmusiek en die Eerwaarde Andries Dreyer-Toekenning vir Kerkhistoriese Navorsing.

Aniel Karsten se ‘Die wonderlike wensblik’ is in die kategorie vir jonger lesers tussen 8 en 12 jaar benoem. Foto: Facebook/Aniel Karsten

Die amptelike oorhandiging van al hierdie pryse sal op 29 Mei plaasvind.

Jonathan Ball Uitgewers het ook die finaliste vir sy Tafelberg Jeugboekpryse vir 2026 aangekondig, wat op manuskripte vir jong lesers fokus.

Eben Pienaar, woordvoerder van Jonathan Ball Uitgewers, sê skrywers is landwyd genooi om manuskripte vir lesers van 8 tot 12 jaar, en vir 13 jaar en ouer, voor te lê.

In die kategorie vir jonger lesers tussen 8 en 12 jaar is Marion Erskine se Die Veldkrokodille, Aniel Karsten se Die wonderlike wensblik en Brigette Langford se Bleeksiele kan brul as finaliste aangewys.

Vir tiener- en jongvolwassene lesers ouer as 13 jaar is François Bloemhof se Dagboek van iemand in die moeilikheid, Sandy Schoeman van Klerksdorp se Aliens het nie hare nie en Marita van der Vyver se Twee halwes maak ’n hele op die kortlys.

Sandy Schoeman se ‘Aliens het nie hare nie’ is benoem. Foto: Facebook/Sandy Schoeman

Die ses finaliste is uit altesaam 103 inskrywings gekies, wat volgens Pienaar ’n aanduiding is van die groeiende belangstelling in Afrikaanse jeugliteratuur.

Die wenner in elke kategorie sal met prysgeld van R50 000 beloon word, en die wenboeke sal onder die Tafelberg-druknaam uitgegee word.

Pienaar sê, “die beoordelingsproses het anoniem plaasgevind, wat beteken het dat gevestigde en debuutskrywers op gelyke vlak kon meeding”.

Volgens hom was die beoordelaarspanele vol lof vir vanjaar se inskrywings.

Hulle het veral opgemerk dat manuskripte vir ouer lesers daarin slaag om die tydsgees in uiteenlopende gedaantes te weerspieël en skrywers se aanvoeling vir die geleefde ervarings van hedendaagse tieners te illustreer.

By die manuskripte vir jonger lesers het die beoordelaars die avontuur, aksie en humor geloof, asook die manier waarop temas soos randfigure, selftwyfel, afwesige ouers en sosio-ekonomiese kwessies op ’n ouderdomstoepaslike wyse hanteer word.

Die wenners van die Tafelberg Jeugboekpryse sal teen die einde van April aangekondig word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button