Local newsMunicipalNews

Metro vertrou op ekonomiese groei en werkskepping met toerismeplan

Die toerisme meesterplan beoog om meer as 100 000 werksgeleenthede te skep en besoekersgetalle ’n hupstoot te gee, maar die Vryheidsfront Plus maak die strategie af as 'onrealisties en finansieel-riskant’.

Die Tshwane-raad het die Tshwane Toerisme Strategie en Hoofplan goedgekeur wat ’n duidelike pad stel om toerisme te groei en meer as 100 000 werksgeleenthede teen 2030 te skep.

Burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, Sarah Mabotsa, sê die strategie beoog om plaaslike besoekers van 2.6 miljoen to 3.2 miljoen per jaar te vermeerder, en internasionale besoekers van 800 000 tot 1.2 miljoen.

Hierdie groei word verwag om omtrent R10-miljard by die jaarlikse besteding tot die plaaslike ekonomie te voeg.

“Die Tshwane Toerisme Strategie en Hoofplan stel ’n duidelike en meetbare plan uiteen om toerisme te groei, ons besoekersbasis uit te brei, en betekenisvolle ekonomiese geleenthede vir ons inwoners te ontsluit,” sê sy.

Die plan fokus op verskeie sleutelprioriteite, insluitend die uitbreiding en diversifikasie van toerisme-aanbiedinge, om bemarking te versterk en die posisionering van Tshwane as ’n toerismehandelsmerk, en bou van sterker vennootskappe regoor die toerismesektor.

“Ons is doelbewus besig om Tshwane as ’n kompeterende toerismebestemming te herposisioneer, beide plaaslik en wêreldwyd, terwyl daar verseker word dat die voordele van toerisme verder strek as tradisionele sentrums binne informele nedersettings en landelike ekonomieë,” sê Mabotsa.

Sy sê die stad het reeds die Tshwane Toerisme Forum gestig om samewerking tussen openbare en private rolspelers te verbeter.

Die strategie plaas sterk klem op ekonomieë binne informele nedersettings, met ’n voorgestelde toerismeknooppunt van Wonderboom Lughawe tot Hammanskraal wat na verwagting geleenthede in streke 1 en 2 sal ontsluit.

Sy sê die plan bevorder ook nistoerisme in kultuur, erfenis, leefstyl, gebeurtenisse en buitelug ervarings.

“Toerisme moet vir alle gemeenskappe werk. Hierdie strategie stel inklusiewe groei eerste deur ondernemings binne informele nedersettings te ondersteun, nuwe toerismeknooppunte te ontsluit, en ruimte te skep vir klein besighede om betekenisvol aan die sektor deel te neem,” sê sy.

Mabotsa beklemtoon dat toerisme een van Suid-Afrika se vinnigste groeiende en mees arbeidsintensiewe sektors bly en dit word gesien as ’n sleutelbestuurder van entrepeneurskap en werkskepping.

Sy verduidelik dat die strategie ooreenstem met die Tshwane Ekonomiese Herlewingstrategie, wat toerisme identifiseer, insluitend die besigheidsgerigte sektor wat fokus op vergaderings, aansporings, konferensies en uitstallings [MICE], as ’n prioriteit vir groei.

“Ons bou ’n gediversifiseerde toerisme-ekonomie, met ’n sterk fokus op die MICE-sektor, om beleggings te lok, besoekersgetalle te groei en volhoubare werkskepping te bestuur,” sê Mabotsa.

Tshwane metro lok steeds groot gebeurtenisse, met die Gastronomie Afrika konferensie en uitstalling wat 3–4 Augustus in die stad sal plaasvind, en bedryfsleiers van regoor die kontinent bymekaar sal bring.

“Deur gebeurtenisse soos Gastronomie Afrika aan te bied, versterk ons Tshwane se posisie as ’n gasheerstad vir kontinentale en wêreldwye byeenkomste, met direkte voordele vir ons plaaslike ekonomie,” sê sy.

“Tshwane het ’n unieke en oortuigende toerisme-aanbod. Ons is gereed om dit na die wêreld te neem en die wêreld in ons hoofstad te verwelkom,” sê sy.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) het egter sterk kritiek teen die plan uitgespreek, en beskryf die Tshwane metro se onlangse aankondiging van ’n R26-miljard toerismeplan as ’n ekonomiese droombeeld wat buite voeling is met die fiskale werklikheid van die hoofstad.

VF+-raadslid Mari Joubert sê om 80 000 nuwe werksgeleenthede teen 2029 te belowe terwyl die metro se basiese bates en infrastruktuur ineenstort is onrealisties en kom neer op politieke opportunisme.

Die voorgestelde Tshwane Ekonomiese Herlewingstrategie maak sterk staat op openbare-private vennootskappe (PPPs) vir die ontwikkeling van munisipale eiendomme, insluitend sportfasiliteite, reservate en erfenisterreine.

Sy lig verskeie bekommernisse uit oor die uitvoerbaarheid en risiko’s van die strategie.

Joubert sê haar party voer aan dat dit onverantwoordelik is om grootskaalse toerisme-groei te projekteer terwyl die metro sukkel om sy bestaande bates in stand te hou, veral sportstadiums en museums wat reeds vervalle is weens jare se verwaarlosing.

Sy voeg by dat sonder behoorlike roetine-instandhouding, is dit onwaarskynlik dat private beleggers hulle tot stadsprojekte sal verbind.

Sy waarsku ook teen die risiko’s rakende die potensiale vervreemding van bates, aangesien die plan grootskaalse oordrag van strategiese stadseiendomme, soos die Tshwane Events Centre en Pilditch-stadion, aan private ontwikkelaars toelaat.

“Sonder streng oorsig en onafhanklike waardasies, kan die metro waardevolle openbare bates verloor en slegs ’n fraksie van hul waarde herwin.”

Joubert spreek boonop ook kommer uit oor fiskale blootstelling vir belastingbetalers, en waarsku dat langtermyn PPP-kontrakte dikwels onvoorsiene finansiële verpligtinge vir munisipaliteite kan skep.

Sy sê in die huidige ekonomiese klimaat, kan die metro nie bekostig om openbare fondse te gebruik om hoërisikoprojekte te verseker nie.

Sy waarsku dat die herhaling van vorige foute onder die vaandel van ekomoniese ontwikkeling kan ernstige gevolge vir die metro se finansies inhou.

“Volhoubare ekonomiese groei hang af van betroubare basiese dienste en deursigtige regering, eerder as grootskaalse finansiële beloftes wat nie deur ’n gesonde begroting ondersteun word nie.”

Die party sê dit sal voortgaan om te beywer vir ’n ontwikkelingstrategie wat gefokus is op fiskale dissipline, deursigtigheid en die beskerming van munisipale bates tot voordeel vir alle inwoners.

VF Plus-raadslid Mari Joubert Foto: Facebook/Mari Joubert

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Itumeleng Mokoena

Itumeleng Mokoena is a skilled journalist with experience in investigative reporting, interviewing, photography, and writing accurate news. Based at Pretoria Rekord East, he covers various beats and is dedicated to informing and educating the community. With a diploma from Tshwane University of Technology and previous experience at Lowveld Media, he is a passionate and hardworking journalist.
Back to top button