News

Planne om Pretoria stadsaal aan privaat vennoot te verhuur

Die huurder sal egter ook die vervalle gebou moet restoureer. Die voorstel volg op jare van mislukte opknappingspogings en ernstige bevindings in ’n 2015-forensiese verslag oor onreëlmatige besteding en swak projekbestuur.

Die metro oorweeg dit om Pretoria se historiese stadsaal in die middestad aan ’n private vennoot te verhuur in ’n poging om die vervalle gebou te restoureer en terselfdertyd die finansiële druk van die bate op die stad te verlig.

Die voorstel, wat op 26 Maart aan die raad voorgelê is, beoog ’n langtermyn-huurkontrak van 30 jaar of langer, maar slegs nadat ’n openbare raadplegingsproses voltooi is en markbelangstelling getoets is.

Volgens die verslag is die ikoniese gebou, wat in 1935 ingewy is, reeds vir etlike jare leeg en toon dit ernstige strukturele en infrastruktuur-agteruitgang.

’n Onlangse ingenieursbepaling het uitgebreide waterindringing weens die vervalle dakstruktuur, grootskaalse vandalisme en diefstal, asook ernstige verval van elektriese, loodgieters- en lugversorgingstelsels, uitgewys.

Die skade is volgens die verslag só omvangryk dat amptenare nie meer meen dat gewone opknapping voldoende sal wees nie en ’n volledige restourasie word aanbeveel.

Pretoria se geskiedkundige stadsaal, eens ’n spilpunt vir konserte, burgerlike geleenthede en kulturele byeenkomste, staan vandag leeg en in ’n toestand van ernstige verval veral aan die binnekant van die gebou. Foto: Elize Parker

Die beraamde koste van sowat R179-miljoen is volgens die metro eenvoudig nie bekostigbaar nie.

Die Groep Eiendomsdepartement stel daarom voor dat ’n private entiteit die gebou op eie koste restoureer en in ruil daarvoor ’n langtermyn-huurreg bekom, terwyl die stad uiteindelik ’n volledig herstelde erfenisgebou sal terugkry mettertyd en intussen huurinkomste kan ontvang.

Die verslag waarsku dat die stadsaal se toestand vinnig sal versleg indien dit ongebruik bly, terwyl die stad steeds vir sekuriteit en basiese instandhouding moet betaal.

Daar word verder aangevoer dat kommersiële gebruik, soos konferensies en geleenthede, ekonomiese aktiwiteit en toerisme kan stimuleer en die gebou se kulturele waarde kan bewaar.

Die stadsaal het weer omstrede geword in Julie 2025 toe die metro se moontlike plan om die historiese gebou aan die Iranse regering te verkoop of te verhuur.

Dié voorstel, wat uit die kantoor van die voormalige ActionSA-burgemeesterskomiteelid Kholofelo Marodi gekom het, en toe deur die regerende koalisie ondersteun was, het gevolg nadat Iran se kulturele afdeling belangstelling getoon het om die gebou vir kulturele aktiwiteite te gebruik.

Marodi is laat-Maart van haar pligte onthef en as burgemeesterskomiteelid en raadslid geskors deur die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, nadat bewerings rondom moontlike verskaffing van vertroulike stadsraadsdokumente by die Madlanga-kommissie ter sprake gekom het.

Na die bekendmaking van die jongste plan rondom die stadsaal het die VF Plus-raadslid Sakkie du Plooy en voorsitter van die Pretoria Erfeniskomitee, gesê die stadsaal is lankal aan totale verval oorgelaat.

“Die pragtige en kosbare stadsaal staan afgesper asof dit in ’n tronk toegesluit is, terwyl daar voorheen hoogstaande uitvoerings plaasgevind het en die indrukwekkende orrel nou onder stof en verval ly,” sê Du Plooy.

Die dak van Pretoria se stadsaal het oor jare ernstige skade opgedoen, wat tot wydverspreide waterlekkasies en verdere strukturele verval binne die gebou gelei het. Hierdie skade het nie net die estetiese waarde van die gebou aangetas nie, maar ook die stabiliteit van die struktuur en die bewaring van waardevolle erfeniselemente in gevaar gestel. Foto: Elize Parker
Beskrywing: Dak

Volgens hom moet die gebou veilig bewaar en bewaak word om verdere diefstal van koper en ander waardevolle materiaal te voorkom.

Du Plooy het die huidige toestand verbind met vorige pogings om die gebou op te knap, veral die projek voor 2016 toe die destydse ANC-stadsbestuur beplan het om die burgemeester se kantoor in die stadsaal te vestig.

Hy het gesê ’n tender van meer as R138-miljoen is destyds uitgereik, maar dat min werklike verbetering plaasgevind het en dat sommige van die werk wat gedoen is, die gebou eerder verder beskadig het omdat die kontrakteurs nie die erfeniswaarde en boustyl behoorlik verstaan het nie.

Hy het verwys na getuienis wat later in forensiese ondersoeke na vore gekom het, waarvolgens groot bedrae vir sogenaamde fase 1-werk betaal is, terwyl die werklike werk op die terrein slegs ’n gedeelte van daardie bedrag werd was.

Volgens hom het korrupsie en swak bestuur nie net die destydse projek ontspoor nie, maar ook die karakter van die stadsaal aangerand omdat daar nie rekening gehou is met die tydperk en argitektoniese styl waarin dit opgerig is nie.

Die jongste raadverslag kom teen die agtergrond van ’n omstrede geskiedenis rondom die stadsaal se opknapping.

Die 2015 forensiese verslag waarna Du Plooy verwys, het bevind dat die proses om kontrakteurs aan te stel gebrekkig was en dat die tenderproses nie aan die vereistes van die munisipale voorsieningskettingregulasies voldoen het nie.

Die verslag het spesifiek uitgelig dat kontrakteurs en konsortiums aangestel is ondanks die feit dat hulle nie aan sleutel tendervereistes voldoen het nie en dat sekere dokumentasie en kwalifiserende bewyse ontbreek het.

Die ondersoek het ook bevind dat werk aan die stadsaal begin het voordat ’n finale begroting goedgekeur is en sonder dat daar ’n geldige diensvlakooreenkoms tussen die stad en die kontrakteurs bestaan het.

Verskeie projekbestuurders is binne ’n kort tyd aangestel, wat tot swak koördinering, veranderende projekspesifikasies en stygende koste gelei het.

Finansiële beheer was volgens die verslag eweneens gebrekkig. Teen Mei 2015 is meer as R60-miljoen reeds deur die metro aan kontrakteurs betaal, insluitend betalings vir fakture wat nie behoorlik geverifieer is nie.

Geboue rondom Pretoria se stadsaal, insluitend die nabygeleë Natuurhistoriese Museum, vorm deel van ’n historiese en kulturele kern in die middestad. Die gebied, wat eens ’n bedrywige sentrum vir toerisme, opvoeding en openbare geleenthede was, weerspieël vandag die breër uitdagings van stedelike verval, maar bly steeds ’n belangrike versameling van argitektoniese en erfenisbates. Foto: Elize Parker

Du Plooy meen “die stad sit vandag nog met die gevolge van daardie mislukte projek”.

Hy het self die gebou besoek toe dit reeds in ’n skokkende toestand was, met halfvoltooide werk, mure wat met helder kleure geverf is wat nie by die oorspronklike styl pas nie en bouwerk wat onafgehandel gelaat is.

Volgens hom is dit nou ironies dat die stad, ná jare se wanbestuur en mislukte projekte, oorweeg om die gebou vir dekades aan ’n private party te verhuur omdat dit nie self die restourasie kan bekostig nie.

Hy het egter bygevoeg dat die voorgestelde openbare raadplegingsproses noodsaaklik is en dat inwoners en erfenisorganisasies die geleentheid moet gebruik om hul stem te laat hoor.

Die raad het op 26 Maart formeel goedkeuring gegee dat openbare deelname begin en dat ’n versoek om uitdrukking van belang aan die sake- en eiendomsmark gerig word.

Hierdie proses sal bepaal watter kommersiële modelle lewensvatbaar is en hoe die gemeenskap oor die toekoms van die stadsaal voel voordat enige finale besluit geneem word.

Du Plooy het ’n beroep op die publiek gedoen om “nie net in sitkamers en by braaivleisvure oor die verval van die stadsaal te kla nie, maar om aktief aan die raadplegingsproses deel te neem en oplossings voor te stel”.

Hy het ook ’n beroep op welgestelde maatskappye gedoen om te oorweeg om die gebou te huur en te restoureer, mits dit uiteindelik weer tot voordeel van die inwoners van Pretoria gebruik kan word.

Die metro beklemtoon in sy verslag dat die stadsaal as ’n graad II-erfenisbron geklassifiseer is en dat dit belangrike kunswerke, beeldhouwerke en een van die grootste pyporrels in die suidelike halfrond huisves.

Enige veranderinge sal dus streng deur provinsiale erfenisowerhede gereguleer word en openbare toegang vir funksies en geleenthede sal in die huurooreenkoms beskerm moet word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button