Scheppel skitter as vroue-unie se Kunstenaar van die jaar

Die bekroonde vioolster Scheppel se unieke rockviool-klank wen nog harte.

Die veelsydige rock-violis Scheppel is onlangs aangenaam verras met ’n Kunstenaar van die Jaar-toekenning.

Die vroue van VLU Noord Koraalstreek verkies elke jaar ’n kunstenaar en vanjaar het die toga op Scheppel se skouers geval.

“Dit is ’n groot voorreg vir my om genomineer te word omdat die VLU so ’n groot Afrikaanse organisasie is,” het hy aan Rekord gesê.

Scheppel met sy toekenning saam met lede van die VLU Valencia-tak: Sonel Kotze en Wilna Coetzee, voor die uitstalling.
Foto: Facebook

Scheppel het die VLU Noord-president Leanda le Cornu asook Wilna Coetzee en die VLU Valencia-tak bedank vir die mooi uitstalling van sy musiekbydraes.

“Die moeite en liefde wat jul ingesit het word opreg waardeer.”

Scheppel is bekend vir sy energieke rock-vertonings met sy viool. Hy meng verskillende genres van klassiek en jazz tot harde rock saam wat hom ’n unieke klank gee.

Hy was ses jaar oud toe hy begin viool speel het.

“Ná ’n streng klassieke opleiding tydens my kinderjare wat voordragte, universiteite, beurse en kompetisies van Suid-Afrika tot Duitsland ingesluit het, het ek uiteindelik die wêreld van rock and roll ontdek, en die res, wel, is geskiedenis,” vertel hy.

Hy het onder andere saamgewerk op die Metal All-Star Vivaldi Metal Project in 2016. Vivaldi Metal Project is ’n unieke simfoniese-metaal-groep geskep en vervaardig deur die Italiaanse klawerbordspeler, komponis en vervaardiger Mistheria. Die debuutalbum, The Four Seasons, is ’n simfoniese-metaal-opera geïnspireer deur die Barok-meesterwerk van Antonio Vivaldi. Wat hierdie album onderskei, is die samewerking van meer as 130 vokale en instrumentale kunstenaars van beide metal en klassieke agtergronde (Spotify).

Scheppel met sy toekenning en Aitsa-beeldjie
Foto: Facebook

In 2021 het Scheppel sy eerste enkelsnit Thunderstruck bekendgestel.

Sy bekroonde weergawe van Toe Vind Ek Jou is genomineer vir ’n SAMA vir Instrumentale van die jaar en het die AITSA vir Beste instrumentale musiek in 2022 gewen vir Dorp Toe.

Sy jongste treffers is Eye of the Tiger en The Final Countdown in 2024.

Scheppel tree eersdaags by DoppioZero in Hazelwood vir Vadersdag (20 Junie) op.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button