Voortrekkers steun mekaar na kamptragedie
Terwyl die gemeenskap rou oor Zané de Jager se skielike dood, skuif die fokus nou ook op die kinders wat saam met haar op die kamp was. Berading, geloof en samehorigheid help jong Voortrekkers om die trauma en verlies sinvol te begin verwerk.
’n Skool- en Voortrekkergemeenskap is steeds in rou ná die skielike afsterwe van die 17-jarige Zané de Jager.
Te midde van die hartseer, val die fokus nou ook op die jongmense wat saam met haar op die kamp was, kinders wat eerstehands ’n traumatiese ervaring beleef het en nou saam moet sin maak van verlies.
De Jager, ’n graad 11-leerling van Hoërskool Waterkloof en kommandojeugleier van die Klapperkop Voortrekkerkommando, is op 1 April dood tydens ’n Voortrekker-veldwerkkamp buite Brits.
Die tragedie het nie net haar familie en vriende geruk nie, maar ook die groep jong Voortrekkers wat saam met haar op die Thaba-veldwerkkamp was.

Volgens dr. Karin Stoffberg, hoofleier van Die Voortrekkers, was haar eerste reaksie toe sy die nuus ontvang het een van diep empatie, veral vir Zané se ouers.
“Ek het 1 April laatmiddag die nuus vanaf die kampleier Willie Wagner ontvang.”
Zané se ouers was met vakansie in Botswana.
“Ek het eerste aan die ouers gedink. Om ’n kind aan die dood af te staan is verskriklik en seker van die ergste dinge wat met ’n mens kan gebeur. My hart het na die ouers uitgegaan en ook na al die mense op die kamp wat die trauma beleef het. Hierdie gebeure was ’n absolute tragedie.”
Terwyl die breër gemeenskap steeds probeer sin maak van die verlies, is daar reeds begin om die jongmense wat saam met Zané op kamp was, emosioneel te ondersteun.
Volgens Stoffberg het Zané se spanmaats reeds bymekaargekom. “Ek weet Zané se Voortrekker-spanmaats het na die kamp ook bymekaargekom en daar is vir hulle ondersteuning gegee.”
Wagner bevestig dat berading en ondersteuning van die begin af ’n prioriteit was.
Hy sê dat twee predikante wat by die kamp teenwoordig was, onmiddellik met die kinders begin werk het. Hulle het die voorval saam met die groep bespreek en die jongmense gehelp om die skok en hul emosies te verwerk.
Die fokus op die kinders is, volgens kenners, van kardinale belang, aangesien baie van hulle nie net ’n vriend verloor het nie, maar ook die gebeurtenis self beleef het.
Hoewel Stoffberg nie self op die kamp was nie en nie die detail van die oomblikke ná die voorval kan beskryf nie, beklemtoon sy dat die organisasie sterk steun op sy netwerk van leiers en geestelike begeleiding om die voorval in perspektief te stel.
Sy voeg by dat geloof en gemeenskap ’n kernrol speel in hoe sulke tragedies hanteer word.
“Die Voortrekkers se hartklop is om te dien. Geloof, gemeenskap en saamstaan speel ’n baie belangrike rol. Die wye reaksie op die gebeure van Voortrekkers van oor die land heen getuig hiervan.”
Die vraag ‘hoekom?’ bly egter een waarmee baie worstel, ook leiers.
Stoffberg sê dit is nie ’n eenvoudige vraag om te beantwoord nie.
“Dit is ’n vraag waarmee mens dikwels worstel. Ek glo dat God nie die oorsaak is van die slegte dinge in die lewe nie. Ons leef in die wêreld en swaarkry en slegte gebeure is deel van die lewe.”
Sy verwys na die bekende woorde uit M. Scott Peck se boek The Road Less Traveled: “Life is difficult. This is a great truth, one of the greatest truths.”
Tog sê sy, is daar steeds hoop. “Ek is dankbaar vir genade en die goeie wat oor mens se lewenspad kom. Dit is so belangrik om ’n ligdraer in die wêreld te wees en om ’n verskil te maak.”
Hierdie boodskap van hoop is sentraal tot Die Voortrekkers se tema vir die jaar, het Stoffberg aan Rekord genoem. Volgens Stoffberg is dit juis in tye van tragedie dat hierdie roeping die duidelikste na vore kom.
“Ons hoop dat Voortrekkers in tye van tragedie lig vir ander sal wees.”
Intussen is begrafnisreëlings nog nie finaal vasgestel nie.
Die administratiewe proses rondom die voorval is ook aan die gang. Wagner het aangedui dat ’n amptelike verklaring oor die gebeure op 8 April aan die hoofleier van Die Voortrekkers gestuur sou word.
Hierdie verslag sal na verwagting meer lig werp op die presiese omstandighede van die voorval.
Zané word onthou as ’n jong leier met potensiaal en ’n positiewe ingesteldheid. Hoewel Stoffberg haar nie persoonlik goed geken het nie, het sy haar wel raakgesien tydens ’n vorige geleentheid.
“As deel van ’n span jeugleiers het sy met selfvertroue opgetree en ’n besondere mooi funksie aangebied.”
Hierdie indruk stem ooreen met die oorvloed huldeblyke wat sedert haar dood ingestroom het.
Vir ouers en jongmense wat nou met onsekerheid na die gebeure kyk, het Stoffberg ’n boodskap: “Ons kan nie in vrees lewe vir als wat moontlik kan gebeur nie. Ons almal se lewens op aarde is tydelik. Ons moet leef as mense van hoop, elke dag.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
