Metro sê stadsaal se herstel deel van middestadhernuwing
Die verhaal van Pretoria se stadsaal is een van kontras: van glorie tot verval, en moontlik weer na herlewing.
Die toekoms van Pretoria se ikoniese stadsaal staan weer sentraal in ’n breër poging deur die metro om sy eiendomsportefeulje te herposisioneer.
In die vernuwingsplan word die herstel van die stadsaal nie net as ’n administratiewe las gesien nie, maar as ’n ekonomiese hefboom.
Volgens die nuwe burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Flora Monama, is die stad besig om “’n gestruktureerde program te implementeer om die prestasie van sy eiendomsportefeulje te optimaliseer.” Daar word spesifiek gefokus op die “herlewing van onderbenutte en slapende bates om ekonomiese aktiwiteit te ondersteun en langtermyn volhoubaarheid te verbeter”.
Monama het kommentaar gelewer op vrae van Rekord oor ’n verslag wat voor die raad oor die stadsaal se vervalle toestand gedien het in Maart.
Sy glo die herposioneringsbenadering plaas die vervalle stadsaal vierkantig binne ’n groter visie van middestad-herlewing.
Monama verduidelik: “As deel van hierdie breër strategie is ’n aantal strategiese eiendomme soos die stadsaal geïdentifiseer vir moontlike ontwikkeling deur die private sektor, in lyn met die stad se doelwitte om die middestad te hernu.”
Die stadsaal, lank reeds ’n simbool van Pretoria se burgerlike trots, het egter oor die afgelope dekades eerder ’n simbool van verval en wanbestuur geword.
Volgens ’n 2015-verslag is die gebou, wat in 1935 ingewy is, vir jare reeds buite werking en toon dit ernstige tekens van strukturele en infrastruktuur-agteruitgang.
Ingenieurs het uitgebreide waterindringing, vervalle dakstrukture, grootskaalse vandalisme en diefstal, asook die byna totale ineenstorting van elektriese en loodgieterstelsels, geïdentifiseer.
Die verslag stel dit duidelik dat “gewone opknapping nie meer voldoende sal wees nie” en dat ’n volledige restourasie nodig is.
Die beraamde koste van sowat R179-miljoen plaas die projek buite die bereik van die metro se huidige finansiële vermoëns.
Dit is juis hier waar Monama voel die nuwe strategie inskop.
“Die stad oorweeg verskeie finansiële en operasionele modelle om te verseker dat die gebou herstel en volhoubaar onderhou kan word oor die lang termyn, sonder om onnodige druk op munisipale hulpbronne te plaas,” sê sy.
Sy beklemtoon dat geen finale besluit nog geneem is nie.
Een van die voorstelle wat tans oorweeg word, behels ’n langtermyn-huurkontrak van 30 jaar of langer aan ’n private entiteit wat die restourasie op eie koste sal onderneem.
In ruil daarvoor sal die stad uiteindelik ’n volledig-herstelde erfenisgebou terugkry, terwyl dit intussen huurinkomste kan genereer.
Monama stel dit so: “In die oorweging van herontwikkelingsopsies word die stad gelei deur die doelwit om duidelike openbare waarde te lewer. Dit sluit in die ondersteuning van plaaslike ekonomiese aktiwiteit, werkskepping en die herlewing van die middestad.”
Tog is hierdie jongste voorstel nie sonder konteks nie.
Die geskiedenis van die stadsaal se opknappingspogings is lank en omstrede.
Die forensiese verslag uit 2015 het ernstige onreëlmatighede in die destydse tenderproses blootgelê. Kontrakteurs is aangestel sonder dat hulle aan kernvereistes voldoen het, dokumentasie was onvolledig, en werk het begin sonder ’n goedgekeurde begroting of geldige diensvlakooreenkomste.
Volgens daardie verslag is meer as R60-miljoen reeds teen Mei 2015 uitbetaal, insluitend werk wat nie behoorlik geverifieer is nie. HIerdie bedrag is in 2025 deur die stadsraad afgeskryf as ’n vrugtelose uitgawe.
Teen hierdie agtergrond is daar ’n mate van skeptisisme oor die huidige planne rondom die gebou.
Volgens Monama is erfeniskenners dit eens oor die belangrikheid van openbare deelname.
“Na oorweging deur die raad van ’n volgende verslag beoog die stad om ’n gestruktureerde openbare deelnameproses te onderneem. Dit sal verseker dat inwoners en belanghebbendes sinvol kan deelneem aan besluite oor die toekomstige gebruik, operasionele model en langtermyn rol van die fasiliteit,” verduidelik sy.
Sy beklemtoon haar verbintenis tot deursigtigheid en goeie bestuur is sentraal tot haar nuwe benadering.
Monama, ’n raadslid van ActionSA, het vroeg in April die leisels as burgemeesterskomiteelid oorgeneem by Kholofelo Morodi wat deur die burgemeester van haar pligte in Maart onthef is. Dit nadat haar naam by die Madlanga-kommissie oor die beweerde verskaffing van tenderdokumente aan sersant Fannie Nkosi van die polisie ter sprake gekom het.
Morodi het op 28 Mei 2025 opspraak verwek toe sy aangekondig het gesprekke met die Iranse ambassade vorm deel van planne om onderbenutte stadseiendomme, insluitend die Pretoria Stadsaal, vir herontwikkeling te oorweeg.
Monama sê met hierdie rondte oor die stadsaal se toekoms sal alle besluite onderhewig wees aan toepaslike bestuurs- en toesigraamwerke, insluitend raadprosesse en openbare konsultasie.
Intussen waarsku die verslag dat die hestelkoste net sal toeneem. Die gebou se toestand versleg vinnig, terwyl die stad steeds moet betaal vir sekuriteit en basiese instandhouding.
Dit skep ’n dringende behoefte aan ingryping, ’n werklikheid wat Monama erken.
“Tydlyne sal gelei word deur die voltooiing van interne prosesse en raadsoorweging. Sodra hierdie stappe afgehandel is, sal die stad duidelik kommunikeer oor die pad vorentoe en geleenthede vir openbare betrokkenheid bied,” sê sy.
LEES: Misdaadoperasie takel rooftogte, swendelary en kabeldiefstal in Silverton en Villieria
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
