CrimeNews

Misdaadoperasie takel rooftogte, swendelary en kabeldiefstal in Silverton en Villieria

Kommerwekkende misdaadneigings is tydens ’n vergadering van die distrikspolisiebestuur by die Villeria-polisiestasie uitgelig. Owerhede waarsku dat rooftogte, motor- en trokkapings sowel as sosiale media swendalery bekamp moet word.

Plaaslike wetstoepassers het ’n grootskaalse slag teen misdaad in Villieria en Silverton geslaan met die inhegtenisneming van 325 verdagtes tydens ’n gesamentlike operasie.

Die operasie is behartig deur lede van die Villieria- en Silverton-polisiestasies, die metropolisie sowel as amptenare van die Departement van Binnelandse Sake.

Die operasie is voorafgegaan deur ’n bespreking deur die distriks-polisiebestuur oor kommerwekkende misdaadneigings in die buurte.

“Hierdie operasie wys wat moontlik is wanneer wetstoepassers en die gemeenskap saamwerk,” het distrikskommissaris Generaal-Majoor Samuel Thine ná die optrede gesê. “Ons bly verbind tot die bekamping van misdaad in hierdie gebied.”

Volgens Thine is 222 van die 325 verdagtes vir ernstige misdade soos moord, verkragting, gewapende roof en huisbraak in hegtenis geneem.

“Ons het 514 persone en 233 voertuie deursoek tydens padblokkades en hoësigbaarheidspatrollies,” het Thine gesê. “Dit is deel van ons strategie om misdaadbrandpunte doelgerig te teiken.”

Gemeenskapsleiers het ook hul kommer oor spesifieke misdaadtendense in Villieria tydens die voorafbespreking genoem.

Uit die bespreking het dit geblyk dat prioriteitsmisdade wat aandag in Villieria deur polisielede kry, bly diefstal uit voertuie, motorkapings en diefstal uit voertuie by gimnasiums en winkelsentrums.

Kolonel MS Thoka, Villeria-polisiestasie se stasiebevelvoerder. Foto: Elize Parker

Nog ’n groeiende probleem is swendelaars wat sosiale media gebruik om slagoffers te teiken.

“Mense moet baie versigtig wees wanneer hulle goedere aanlyn koop of verkoop,” het Thine gewaarsku. “Baie van hierdie transaksies eindig in bedrog.”

Volgens Thine is kabeldiefstal nou ook ’n prioriteitsmisdaad om met spesiale aandag bekamp te word.

“Dit raak kritieke infrastruktuur en kan nie geïgnoreer word nie,” het hy gesê.

Een van die mees ontstellende bevindings deur die misdaadintelligensie-eenheid is die toename in besigheidsrooftogte gedurende die laatmiddag.

’n Duidelike patroon is geïdentifiseer van misdadigers wat tussen 16:00 en 18:00 toeslaan.

Wat vir die polisielede kommerwekkend is, is dat sowat 80% van besighede se kameras nie werk nie of afgeskakel is. Dit maak ondersoeke baie moeiliker.

Die misdaadstatistiek toon ook dat residensiële misdaad dikwels plaasvind wanneer huiseienaars nie tuis is nie. Selfs al is dit net vir ’n kort tydperk, soos wanneer kinders skool toe geneem word, is dit genoeg tyd vir inbrekers. Hulle teiken items soos TVs, fietse en gereedskap – al die items wat vinnig verkoop kan word.

Godfrey Tladinyane van die Departement van Buitelandse Sake. Foto: Elize Parker

Geografies bly East Lynne en Queenswood brandpunte vir diefstal uit voertuie.

Met motorkapings, bly Toyota-voertuie die gewildste teikens, en baie van hierdie voertuie word later in Limpopo gevind.

Benewens tradisionele misdaad, moet die polisie uit die Villieria-kantoor ook sosiale uitdagings aanspreek as een van die probleme in die buurte van die Moot wat tot misdaad lei.

Statistiek wys alkoholmisbruik bly ’n groot faktor in baie misdade in die Moot-buurte. “Die stasie fokus daarom ook op opvoedingsprogramme,” volgens Thine.

’n Nuwe tendens in dwelmhandel is ook geïdentifiseer. Smokkelaars vervoer nou kleiner hoeveelhede op ’n slag. Dit beteken dat wanneer hulle voorgekeer word, daar dikwels geen dwelms in die voertuig is nie.

Thine het die gemeenskap bedank vir hul rol in die verskaffing van inligting.

“Ons kan nie sonder informante en gemeenskapsbetrokkenheid slaag nie,” het hy gesê. “Samewerking is die sleutel.”

Plaaslike leiers het die polisie se werk geloof, maar ook uitdagings uitgelig.

DA-raadslid Adriana Randall het gesê: “Ons waardeer die polisie se harde werk, en die gemeenskap moet ook bemagtig word om saam te werk. Veiligheid is ’n gedeelde verantwoordelikheid.”

Sy het ’n beroep op die Suid-Afrikanse Padagentskap gedoen om padreserwes beter te onderhou. “Lang gras en digte bosse langs hoofpaaie bied skuilplekke vir misdadigers,” glo Randall. “Dit moet dringend aangespreek word.”

Kolonel Evon Cedras van die metropolisie tydens die bespreking. Foto: Elize Parker

Randall het ook die probleem van swak straatbeligting uitgelig.

“Dit bly ’n voortdurende stryd om straatligte herstel te kry,” het sy gesê. “Donker strate maak dit makliker vir misdadigers om ongemerk te beweeg.”

Sy het lof uitgespreek vir sekuriteitsmaatskappye se harde werk om misdaad te bekamp. “Die gebruik van hommeltuie het reeds ’n verskil gemaak in die bekamping van kabeldiefstal,” het sy gesê.

Susan Andrews, voorsitter van die Villieria GPF (gemeenskapspolisiëringsforum), het die polisielede en -bestuur en raadslede vir hul ondersteuning bedank.

“Ons werk strategies van die forum se kant saam met die polisie. Ons moet deurlopend onthou dat misdaadbekamping begin by die gemeenskap self,” glo Andrews.


Titel: Moot-klopjag
Onderskrif: DA-raadslede Anru Meyer en Adriana Randall saam met Susan Andrews, uitvoerende voorsitter van die Villieria GPF. Foto: Elize Parker

DA-raadslid Anru Meyer het daarop gewys dat die Koedoespoort-substasie behoort teen einde Mei herstel te wees.

“Dit sal help om kragonderbrekings te verminder wat beide die polisie en die gemeenskap se werksaamhede raak.”

Hy het egter ook ’n waarskuwing gerig: “Ons moet sigbare polisiëring verhoog om te verhoed dat grootskaalse vandalisme weer by kragstasies plaasvind.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button