Nege dekades van omgee en impak
Stories van hoop en herstel is by ’n glansgeleentheid gedeel. Van 'n nederige begin tot ’n organisasie wat duisende ondersteun, bly CMR Noord se missie gefokus op kinderbeskerming, waardigheid en volhoubare verandering in gemeenskappe waar nood steeds groei en uitdagings voortduur.
CMR Noord het op 14 April sy 90ste bestaansjaar met ’n glansryke aand by die Atterburyteater gevier, waar seremoniemeester Marion-Rose Banks en ds. Danie Janse van Rensburg as voorsitter van die beheerraad van CMR Noord, die verrigtinge gelei het.
Die geleentheid is verryk deur optredes van operasangers Papi en Bongi Musa en Henry van Dyk, asook aangrypende getuienisse van hoop.
Twee kliënte van die organisasie, Carina Erlank en Lucky Makgatho, het hul verhale van hoop gedeel.
Janse van Rensburg, ook die voorsitter van die beheerraad van CMR-Noord, het die organisasie se pad oor nege dekades só saamgevat: “Ons herken die Here se hand en getuig ons was nooit alleen nie. Ons het nooit weggestaan van groter nood nie. Ons hoop is altyd meer as die uitdagings en gebrokenheid van elke dag.”
Vandag bedien CMR Noord meer as 22 000 families.
Die organisasie het sy oorsprong in 1936 toe kerke in die noorde van Pretoria die Christelik Maatskaplike Raad gestig het as ’n gestruktureerde reaksie op armoede en kinderkwesbaarheid in ’n tyd sonder formele kinderbeskermingstelsels.
In die vroeë jare is basiese maatskaplike hulp en krisisondersteuning gebied, met projekte soos Berg en Dal wat ongehude moeders ondersteun het.
Teen die 1950’s en 1960’s is professionele maatskaplike werkers aangestel en formele gevallebestuur ingestel.
In die 1990’s is CMR Noord as ’n organisasie sonder winsbejag en kinderbeskermingsorganisasie geregistreer, wat ’n wetlike rol in hofverslae en pleegsorg moontlik gemaak het.
Ná uitdagings en reputasiekwessies in 2022 en 2023 is die organisasie se status in die howe herstel.
Vandag funksioneer CMR Noord deur ’n netwerk van sentrums en fasiliteite, insluitend Sentrums van Hoop.

In Pretoria bedien die sentrums onder meer gebiede soos Daspoort, Derdepoort, Lotus Gardens, Lynnwood, Queenswood, Wonderboom en Wierdapark.
Die organisasie werk met ’n span van gekwalifiseerde maatskaplike werkers wat holistiese dienste lewer om gesinne te ondersteun, kinders te beskerm en gemeenskappe te versterk.
Een van die aand se mees aangrypende verhale was dié van Erlank, wat vertel het hoe sy en haar gesin uit ’n moeilike situasie gekom het. Sy het uit ’n plaas na ’n vervalle huis in die stad getrek sonder elektrisiteit om nader aan haar vier kinders se skole te wees.
Haar man het sy werk verloor en die gesin het gesukkel om kop bo water te hou. Ná kontak met CMR Noord het hulle nie net kosondersteuning ontvang nie, maar ook emosionele en praktiese begeleiding.
“Dit is nie te sê as jy arm is, het jy nie trots nie,” het sy gesê, en beklemtoon hoe hulle met deernis behandel is.
Haar kinders kon terugkeer skool toe met hulp van skoolklere, en sy het self ondersteuning deur groepe ontvang. Vandag werk sy by ’n CMR Noord-kleuterskool en is haar dogter ook ’n gekwalifiseerde kindertuinonderwyseres danksy die organisasie. ’n Onverwagse geskenk van die CMR Noord soos ’n gasbottel het op kritieke oomblikke in haar gesin se lewe ’n groot verskil gemaak.
“Ek sou dit nooit op my eie kon doen nie,” het sy getuig.
Tydens die geleentheid is ook ’n nuwe gelukbringer vir die organisasie, Toby the Turtle, bekendgestel wat fokus op bewusmaking rondom kinderbeskermingsprojekte.

Die algemene bestuurder van CMR Noord, dr. Ronel Aylward, het die organisasie se strategiese pad vorentoe beklemtoon en gesê elke kind het die reg om veilig te voel. Sy het onderstreep dat “namate die behoefte groei, die organisasie se vasberadenheid ook toeneem om in die beste belang van elke kind op te tree, waardigheid te herstel en hoop te bring waar daar trauma is”.
– Besoek CMR Noord se nuwe webwerf vir Sentrums van Hoop se adresse en telefoonnommers: https://cmrn.co.za/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel


