News

R25-miljoen projek vir verouderde waterpype in Waverley vorder goed

’n Nuwe fase van die pypvervangingsprojek in Waverley het afgeskop ná jare se waterverliese en gebarste pype. Die gefaseerde projek, wat reeds resultate toon, bring hoop vir meer betroubare watervoorsiening.

Die afskopsvergadering op 15 April vir die volgende fase van Waverley se grootskaalse waterpypvervangingsprojek het onlangs nuwe momentum aan ’n jare lange stryd teen vervalle infrastruktuur gegee.

Terwyl werkspanne reeds weer in die strate besig is, is die projek terselfdertyd ’n blik vorentoe én ’n terugblik op jare se uitdagings wat inwoners se daaglikse lewens ontwrig het.

Chris Jordaan, wykskomiteelid van Wyk 52 in Waverley, sê die probleem van verouderde waterpype strek oor baie jare en het uiteindelik ’n kritieke punt vier jaar terug bereik.

“Ons sukkel al jare met vrot infrastruktuur in Waverley, veral met pype. Jare gelede het ons begin met die vervanging van ’n waterpypstruktuur in Moultonlaan en die projek word tans uitgebrei na ander dele van Waverley,” verduidelik hy.

Volgens Jordaan, is gebarste pype nie net ’n tegniese probleem nie, maar ’n daaglikse frustrasie vir inwoners.

“Die gebarste pype was ’n groot frustrasie, ook veral in Trumperstraat. Dit het so erg geraak dat ons moes begin planne maak.”

Hy beskryf hoe die toestand van die infrastruktuur in sommige gevalle so verswak het dat dit ’n direkte impak op die watervoorsiening gehad het.

“Soms was dit so erg met gebarste pype en verlore water dat die twee reservoirs leeg geloop het. Die pyp moet eers reggemaak word voordat die reservoir weer kon volmaak.”

Hierdie siklus van herstel en verlies het uiteindelik die dryfveer geword vir ’n groter, meer gestruktureerde projek.

Jordaan sê die inisiatief is uit nood gebore.

“Ons het begin deur die pype in Moultonlaan te vervang, en nou word daar aan die pype in Trumperstraat gewerk.”

Die omvang van die probleem het egter beteken dat ’n allesomvattende oplossing nie oornag moontlik was nie. ’n Afskopvergadering is reeds vier jaar gelede gehou om die pad vorentoe te beplan.

“Daar is verskillende pyplyne wat herstel nodig het, soos in Starkey- en Lawsonlane. Ons het saam met die metro besluit om nie alles op een slag te doen nie, maar die projek in fases aan te pak,” sê Jordaan.

Die gefaseerde benadering begin reeds vrugte afwerp.

Volgens hom het die vervanging van ou pype ’n merkbare verskil gemaak.

Nietemin kom die verbeterings nie sonder ’n prys vir inwoners nie. Jordaan erken dat die werk aansienlike ontwrigting veroorsaak.

“Dit is ’n groot frustrasie vir huiseienaars. Baksteenplaveisel van opritte moet opgebreek word, grasperke en blombeddings moet oorgeplant word, en mense moet soms ander roetes gebruik.”

Ten spyte hiervan sê hy was daar ’n doelbewuste besluit om met die projek voort te gaan.

“Ons het besluit om deur te druk vir die gemeenskap se onthalwe, maar ook om water vir die groter Pretoria te spaar deur seker te maak daar is nie meer lekkasies nie.”

Nog ’n dryfveer agter die projek was die toenemende voorkoms van strate sonder water.

“Een van die redes hoekom die pype vervang moes word, was dat daar chronies volle strate sonder water was. Die stadsraad kon eenvoudig nie byhou om die probleem stuk vir stuk op te los nie,” voeg Jordaan by.

Wykskomiteelede en spanne van die kontrakteur van die metro wat aan die vervanging van die waterpype in Waverley gaan werk, het op 15 April bymekaar gekom vir die loodsing van die projek. Foto: Verskaf

Hy beklemtoon dat die werk nog lank nie klaar is nie.

Jordaan meen egter daar is steeds ruimte vir verbetering in gemeenskapsbetrokkenheid.

Hy doen ’n beroep op inwoners om meer betrokke te raak by plaaslike strukture. “Ons wil graag sien dat wyksvergaderings beter bygewoon word.”

Die jongste fase van die projek, wat nou momentum kry ná die onlangse afskopvergadering, word ook deur plaaslike leiers verwelkom.

DA-raadslid Frans Smith beskryf die ontwikkeling as ’n belangrike stap vorentoe.

“Dit is fantastiese nuus dat die nuwe fase van die projek begin het. Dit is beslis ’n stap in die regte rigting,” sê Smith.

Volgens hom is die doelwit om die projek teen Maart 2027 te voltooi.

Smith plaas klem op die rol wat die gemeenskap speel in die sukses van die projek. “Ons is trots op almal wat bereid is om opofferings te maak.”

Die projek, met ’n begroting van sowat R25-miljoen, fokus op infrastruktuur wat in baie gevalle uit die 1960’s dateer. Volgens Smith is die vervanging daarvan lankal nodig.

Hy wys ook daarop dat die projek nie net plaaslike voordele inhou nie, maar ’n wyer impak op Pretoria se waterbestuur kan hê.

“Ons voel ons maak ’n bydrae tot groter Pretoria se waterbestuur deur waterverliese te beperk, want dit is ook ’n kostebesparing vir die metro by Rand Water as daar nie water deur lekkasies verloor word nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button