News

Uitspraak voorbehou terwyl Melgisedek-stryd verdiep

Alle oë is nou op die howe om rigting te gee in ’n saak wat die balans tussen veiligheid en menswaardigheid op die Melgisedek-terrein op die spits dryf.

Die uitspraak oor ’n kritieke artikel 18(3)-aansoek in die saak rondom die Melgisedek-terrein in die Moot is op 20 April voorbehou, terwyl alle partye nou wag op die hof se volgende stap in ’n saak wat toenemend as ’n toets vir grondwetlike behuisingsregte beskou word.

Volgens Llewellyn Hemmens, woordvoerder van AfriForum, wat die verrigtinge bygewoon het, het die metro die aansoek gebring om voort te gaan met die verskuiwing van inwoners ondanks ’n hangende appèlproses wat deur Lawyers for Human Rights namens die inwoners aanhangig gemaak is.

“Die metro het ’n artikel 18(3)-aansoek gebring om toestemming te kry om inwoners te skuif, ten spyte van die hangende appèlproses,” verduidelik hy.

Die aansoek is egter sterk teengestaan deur regsverteenwoordigers van die DA en Lawyers for Human Rights, met steun van AfriForum.

Hemmens sê hoewel daar erkenning is dat inwoners uiteindelik verskuif moet word, is die kern van die dispuut die geskiktheid van die voorgestelde terrein.

“Dit raak nou winter en die toestande in ’n tentedorp gaan koud en nat wees. Alhoewel die inwoners geskuif moet word, is dit nie die gepaste terrein nie,” sê hy.

Hy voeg by dat daar tans nie onmiddellike lewensbedreigende toestande by die gebou is nie, en dat sekere higiëniese probleme reeds aangespreek is.

Die partye wag ook op ’n moontlike datum vir die appèlverhoor in die Appèlhof in Bloemfontein.

Louise du Plessis, woordvoerder van Lawyers for Human Rights, sê: “Ons moet ook hoor of die Appèlhof die saak sal aanhoor.”

Die kwessie het sy oorsprong in ’n brand in Februarie wat die reeds berugte Melgisedek-gebou verder onder die soeklig geplaas het.

Die gebou is lank reeds as gevaarlik en ongesond beskou, wat gelei het tot ’n uitsettingsbevel deur die Gauteng Hooggeregshof na ’n aansoek van die metro vroeg in Maart.

Die stad se voorgestelde oplossing, ’n tydelike tentnedersetting in Gezina, het egter onmiddellik weerstand ontlok.

AfriForum het ’n interdikaansoek gedoen om die hervestiging na Gezina te stuit, maar het in die begin van Maart gehoor hul aansoek was onsuksesvol.

Reeds op 13 Maart het DA se koukusleier in Tshwane, Cilliers Brink, aangekondig dat die party regsaksie sal oorweeg om die verskuiwing te stop.

Hy het aangevoer dat die terrein nie geskik is vir menslike bewoning nie en dat die stad versuim het om ’n volhoubare noodbehuisingsplan voor te lê.

Op 9 April het die saak weer in die Gauteng Hooggeregshof gedien.

Volgens DA-raadslid Wayne Helfrich het die hof toe ’n inspeksie op die Melgisedek-terrein en die voorgestelde verskuiwingsplek gelas.

Hy sê die regter, John Holland-Muter, het ná die besoek minder oortuig gelyk oor die geskiktheid van die terrein, waarna die saak uitgestel is.

Helfrich is uitgesproke oor die voorgestelde oplossing.

“Melgisedek, so sleg as wat dit is, is steeds beter as die terrein in Gezina wat deur die stad voorgestel word. Daar is ander opsies beskikbaar, maar dit lyk asof die stad geen plan het vir ná die verskuiwing nie,” sê hy.

Hy beklemtoon dat die krisis nie net oor verskuiwing gaan nie, maar oor mense en hul toekoms.

Volgens hom vereis dit ’n breër samewerking tussen alle rolspelers van inwoners en gemeenskappe tot burgerlike organisasies en die staat om ’n volhoubare oplossing te vind.

Intussen hou Lawyers for Human Rights vol dat die uitsetting nie kan voortgaan sonder behoorlike waarborge vir waardigheid en veiligheid nie.

Die organisasie voer aan dat die stad nie sy grondwetlike verpligtinge nakom nie.

“Hierdie saak gaan verder as net verskuiwing. Dit wys op ’n sistemiese mislukking in beplanning en betekenisvolle betrokkenheid,” het Du Plessis vroeër gesê.

Sy het bevestig dat die organisasie ’n opdrag gegee het vir ’n ingenieursverslag om opgestel te word oor die veiligheid van die Melgisedek-terrein. “Die verslag wys dat die geboue nie vir die afsienbare toekoms gevaarlik is nie,” bevestig Du Plessis.

Die metro ontken egter dat hulle buite die wet optree.

Volgens die burgemeester se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, word geen uitsettings tans uitgevoer nie weens die hangende hofprosesse.

Hy sê die stad probeer met sy regsaksies slegs die bestaande hofbevel afdwing binne die raamwerk van die reg.

“Die dringendheid spruit uit die toestande waarin inwoners leef. Voortgesette bewoning stel hulle aan risiko bloot,” sê hy.

Hy voeg by dat die die metro enige finale hofbeslissing sal nakom.

Hy beklemtoon ook dat geen inwoners nog verskuif is nie en dat die hervestigingsproses vir eers agterweë gehou word.

“Die stad hou toesig oor die voorgestelde Gezina-terrein, en het sekuriteitsmaatreëls ingestel, om stabiliteit en veiligheid te verseker,” bevestig hy.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button