Pretoria-gehore kan nou nuwe era van kunslied en poësie omarm
Die nuwe KLINK: Klank in Ink-konsertreeks skop op 29 April in Pretoria af met Die Karoo Kunslied. Hierdie innoverende samewerking tussen Unisa en Franco Prinsloo Produksies verweef poësie en musiek tot ’n geïntegreerde ervaring wat gehore uitnooi om taal, klank en betekenis op ’n vars manier te beleef.
Op 29 April word die openingsnoot van KLINK: Klank in Ink in Pretoria aangehef met die konsert Die Karoo Kunslied, ’n produksie wat reeds landwyd gehore bekoor het en nou sy weg na ’n tuisgehoor vind.
Met Chris Vale as bariton en Eugene Joubert op klavier, bied die program ’n ryk samevloeiing van die Afrikaanse poësie, kunslied en luisterliedjie. Dit is ’n viering van landskap en taal, waar die Karoo nie net as plek nie, maar as gevoel en verbeeldingsruimte opklink.
Die openingsaand dien as vertrekpunt vir ’n breër konsertreeks wat deur die jaar ontvou.
KLINK: Klank in Ink is ’n samewerking tussen die Universiteit van Suid-Afrika se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap en Franco Prinsloo Produksies.
Die doel is om gehore opnuut aan die krag van lewendige uitvoerings bloot te stel en om die verhouding tussen woord en musiek op ’n vars, toeganklike manier te herbesin.
Ná die openingskonsert op 29 April bou die reeks voort met produksies wat deur die jaar ontwikkel, met ’n sterk fokus op plaaslike kunstenaars soos Leon Gropp, Este Gross en Marcel Dednam.
Prinsloo het aan Rekord die oorsprong van die konsep as diep persoonlik beskryf: “KLINK: Klank in Ink het ontstaan uit my groot liefde vir digkuns en musiek. Ons skep ’n ruimte waar poësie nie net voorgelees word nie, maar ook gehoor, gevoel en musikale vorm aanneem.”

Hierdie benadering lê aan die hart van die reeks: dat woorde deur musiek ’n nuwe lewe kry.
Vir Klaus-Louis Jansen van Vuuren, uitvoerende vervaardiger, het die projek gegroei uit ’n natuurlike ontmoeting tussen twee wêrelde.
“Die inspirasie was ’n samekoms tussen musikante en letterkundiges. As liefhebbers van genres soos Lieder en die Afrikaanse kunslied, is dit onmoontlik om die melodie van die teks te skei. Toe die geleentheid opdaag om die viering tussen hierdie samekoms van woord en melodie te vier, het ons geweet ons is op die regte plek.”
Jansen van Vuuren verduidelik dat die produksies op die verhoog nie bloot voorlesings, gesprekke, of slegs musiek is nie. “Dit beteken dat elke konsert as ’n geheel beleef word, eerder as ’n reeks losstaande items.”
Die reeks spreek ook ’n groter kulturele behoefte aan, naamlik om ’n volhoubare konsertkultuur in Pretoria te vestig.
Hy wys daarop dat baie plaaslike kunstenaars selde die geleentheid kry om in hul eie stad op te tree.
“Soveel van ons Pretoriaanse musikante tree hoofsaaklik op by nasionale kunstefeeste of klassieke konsertreekse by universiteite regoor die land, maar kry selde kans om in Pretoria op te tree, en is eintlik meer bekend in die res van die land as in hul eie tuisdorp.”
Die opvoedkundige aspek van die reeks is vir hom net so belangrik. “Genres soos kunslied, en eintlik klassieke musiek oor die algemeen, is genres waarvoor daar nie volhoubare opvoeding gebied word nie. As sulks, is dit ons verantwoordelikheid om hierdie konsertreeks ook opvoedkundig te maak.”
Vir hom is dit soms is egter die onverwagsheid van ’n uitvoering wat die grootste impak het.
Jansen van Vuuren onthou ’n vroeë uitvoering van Die Karoo Kunslied in ’n skaapskeerhuis waar die omgewing en die inhoud op ’n besondere manier saamgesmelt het.
“Meeste van die mense het al meeste van die kunsliedere in die konsert gehoor of geken, maar min het al ooit werklik na die lirieke geluister,” vertel hy. “Die woorde het nuwe betekenis gekry want die poësie was die werklikheid.”
Hy glo sulke oomblikke wys hoe kragtig die verhouding tussen woord en musiek kan wees wanneer dit reg aangebied word.
Vir beide dra die vennootskap met Unisa by tot hierdie dinamiek.
“Die samewerking met Unisa se Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap bring ’n waardevolle dimensie na die konsertreeks. Digkuns en musiek loop hand aan hand,” sê Prinsloo.
Hy voeg by dat dit ’n besondere voorreg is om hierdie konserte in wêreldklasruimtes by Unisa aan te bied en sodoende ’n plaaslike gehoor te bereik.
Prinsloo verduidelik sy benadering tot toonsetting lê in ’n diep respek vir die oorspronklike teks.
“Wanneer ek ’n gedig toonset, begin dit altyd by die teks self. Die ritme, klankkleur en betekenis. Vir my voel dit asof ek deur musiek die digkuns selfs meer intiem kan beleef.”
Hy beklemtoon dat integriteit daarin lê om die digter se stem te respekteer, terwyl die musiek terselfdertyd ’n nuwe dimensie oopmaak. “Die doel is dat die musiek die digkuns versterk.”
Vir hom is die reeks ’n ruimte vir dialoog, waar nuwe gehore die taal se uitdrukkingskrag kan ontdek.
Prinsloo se eie werk beweeg vrylik tussen invloede en style, sonder om die kern van eerlikheid te verloor.
“Vir my is daar nie ’n skerp skeiding tussen tradisie en vernuwing nie, maar eerder ’n voortdurende gesprek,” sê hy.
Of dit nou Bach-geïnspireerde komposisies of speelse toonsettings van kinderverse is, die doel bly vir hom dieselfde: om musiek te skep wat oortuigend en betekenisvol is.
“Ons sien die konsertreeks as ’n projek met groot groeipotensiaal,” sê Prinsloo. “Ons wil ’n ruimte skep waar musiek en digkuns kan floreer en waar gehore werklik aangeraak word.”
Hy glo dat sulke ervarings nie net individue sal kan raak nie, maar bydra tot die bou van ’n lewende konsertkultuur in Pretoria.
Die konsertreeks skop af met Die Karoo Kunslied op 29 April, en word voortgesit deur ’n reeks konserte wat woord en musiek in ’n nuwe lig laat weerklink. Vir meer inligting en kaartjies besoek www.heyzuva.com.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
