News

Zoid Psalm: Rockkunstenaar se kragtigste musikale reis nog

Die konsert verweef rockmusiek, kerkorrel, psalms en persoonlike getuienisse in ’n unieke musikale ervaring. Die kunstenaar deel haar geloofsreis, nuwe liefde vir die orrel en haar pad na herstel.

Karen Zoid se rou, rasperige stem en energieke musiekverwerkings het ’n nuwe musikale ruimte ontdek waar rock, kerkmusiek en persoonlike geloof bymekaar kom.

Met haar Zoid Psalm-konsertproduksie neem die bekende Suid-Afrikaanse rockkunstenaar met haar kragtige stem vol emosionele diepte, gehore op ’n reis waarin die tydlose tekste van liedjies met ’n diepere inslag saamvloei.

Zoid, gebore Karen Louise Greeff op 10 Augustus 1978 in Brussel, België, is een van Suid-Afrika se bekendste rockmusikante.

Sy het later in Johannesburg grootgeword en het in 2001 bekendheid verwerf met haar debuutalbum Poles Apart, wat die treffer Afrikaners is Plesierig ingesluit het. Die lied het ikoniese status bereik en haar gevestig as een van die land se voorste rockkunstenaars.

Haar eerste twee albums, Poles Apart en Chasing the Sun, het albei goue status behaal.

Met ’n loopbaan wat oor meer as twee dekades strek, het Zoid ’n kenmerkende en veelsydige styl ontwikkel waarin Afrikaans en Engels, rock, pop en sanger/liedjieskrywer-invloede ineenvloei.

Die NG Kerk Skuilkranskoor het saam met Karen Zoid in haar konsert Zoid Psalm opgetree. Foto: Elize Parker

Die Zoid Psalm-konsert bied egter ’n ander kant van die kunstenaar aan haar gehoor.

Die produksie kombineer die atmosfeer van ’n rockvertoning met die gewydheid van kerkmusiek en ’n sonderlinge aantal gewilde liedjies wat haar rou rock-energie tot sy reg laat kom.

Die konsert word hoofsaaklik in kerke aangebied en sluit die klanke van ’n tradisionele pyporrel in saam met Zoid se elektriese kitare en haar orkes.

Haar mees onlangse optredes op 31 Julie en 1 Augustus was in die NG Kerk Skuilkrans in Pretoria-oos.

Karen Zoid se warm en helder stem het tydens haar Zoid Psalm-konsert in die puik akoestiek van die NG Kerk Skuilkrans in Pretoria-oos tot sy reg gekom. Foto: Elize Parker

Sy het vertel dat haar verhouding met die orrel deur die jare verander het.

“Kerkorrels was altyd vir my ’n vreesaanjaende instrument tot ek meer Beethoven en Hans Zimmer begin luister het.”

Die orrel het volgens haar ’n nuwe betekenis gekry met die verwerkings vir die konsert en sy het ook erken: “Ek het vrede gemaak met die orrel.”

Die produksie bring talle gewyde en ander liedjies met ’n diepsinnige aanslag na ’n nuwe gehoor deur moderne musikale verwerking.

Zoid het verduidelik dat die kerkliedere en geestelike musiek haar nog altyd geraak het. “Die kerkliedjie, Praat ek mense-, engele-tale, het my nog altyd bygebly.”

Van die mees besondere oomblikke in die vertoning word juis geskep deur die manier waarop sy moeiteloos bekende geestelike werke saam met moderne invloede aanbied.

Met haar kitaar in die lug, ’n paar kopswaaie, en haar kenmerkende swart motorfietsstylstewels, maak dit nie saak wat sy sing nie: Zoid róck!

Die orrelmusiek het tot sy reg gekom met onder meer ’n vertolking van die klankbaan van 2001: A Space Odyssey.

Die orrelspel van orrelis Salomé van Wyk het ’n belangrike rol in die produksie gespeel en die klassieke klank van die instrument met Zoid se rockbenadering verbind.

Zoid het van haar pa se aanvanklike bekommernis vertel toe sy in kerke begin sing het. “Hy het vergeet hy iets daarmee te make.”

Sy het ’n herinnering gedeel van ’n optrede in ’n katedraal in Londen met ’n Chagall-venster waar sy een van haar pa se gunstelingliedjies, A Whiter Shade of Pale deur Procol Harum, gesing het.

Die konsert bevat ’n eklektiese mengsel van liedjies, van Radiohead tot Laurika Rauch se liedjies, asook tradisionele geestelike musiek.

Die gehoor het veral haar vertolking van Soos ’n wildsbok waardeer. Haar helder en suiwer uitvoering van Pie Jesu was ook een van die hoogtepunte van die konsert.

Zoid het erkenning gegee aan Anton Eloff vir sy rol in die verwerking van die musiek en ook vir sy eie bydrae as musikant.

Sy het ook haar waardering uitgespreek teenoor die koor van die NG Kerk Skuilkrans wat haar met vriendelikheid en liefde ontvang het.

Die samewerking tussen Zoid en die koor het verdere hoogtepunte gelewer toe hulle saam haar eie lied Toe vind ek jou en Dixie van Elvis uitgevoer het. Die koor het ook saam met haar ’n a cappella-weergawe van O Heer my God gesing.

Met die Zoid Psalm-konsert wys Karen Zoid dat musiek verskillende wêrelde kan verbind. Die produksie bring rock, geloof, klassieke musiek en persoonlike stories saam in ’n vertoning. Foto: Elize Parker

Aan die einde van beide vertonings het die gehoor reageer met ’n staande ovasie.

Benewens haar musiek het Zoid ook gepraat oor haar persoonlike reis en haar verbintenis met die natuur.

Sy het melding gemaak van haar nuwe projek saam met Hiking SA, waartydens sy haar liefde vir stap en Suid-Afrika se natuurskoon deel.

Sy glo dat tyd in die natuur haar help om kreatief te bly, stres te verwerk en ’n dieper waardering vir die land se landskappe te ontwikkel.

’n Ander persoonlike deel van haar verhaal is haar stryd met verslawing en haar pad na herstel.

Zoid het vertel van haar tienerjare waartydens sy dwelmmiddels gebruik het, maar ook dat sy later haar loopbaan as sanger nugter afgeskop het op ouderdom van 21.

Sy het vertel dat haar ma oorlede is op 34, terwyl sy en haar suster nog jonger as tien jaar oud was.

Tydens die Covid-tydperk het sy vertel dat sy pynpille begin gebruik het. “Toe ek my weer kom kry was ek ’n Afrikaanse tannie wat pille pop.”

Sy het met hierdie wete in gedagte begin om Narcotics Anonymous-vergaderings by ’n kerk in Bloubergstrand by te woon.

“Ek was skaam en bang in die begin en het gewonder: Is ek regtig ’n druggie? Maar ek het elke week gegaan en die bekende Gebed om kalmte gebid.”

Dié gebed lui: “God, skenk my die kalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, die moed om te verander wat ek kan verander, en die wysheid om die verskil tussen hulle te onderskei.” Dit is wêreldwyd gewild gemaak deur Alkoholiste Anoniem (AA) by daaglikse byeenkomste.

Zoid het gesê sy sal op 21 September vanjaar twee jaar skoon wees van afhanklikheidsmiddels.

Sy het ook erkenning gegee aan ds. Elmarie Dercksen, ook ’n bekende en bekroonde skrywer, vir ondersteuning.

“Sy het my baie gehelp. Ek is nou nie meer bang vir dominees nie. Hulle is goeie mense.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button