Regeringsbeheerde ou en nuwe geboue verval al hoe meer
Verlate staatsgeboue en miljoene rande se projekte wat nooit oopmaak nie, skets ’n kommerwekkende prentjie in Pretoria se middestad. Kritici meen swak bestuur, gebrekkige aanspreeklikheid en ’n gebrek aan deursigtigheid dryf die voortdurende verval van hierdie belangrike infrastruktuur.

In die hart van Pretoria se middestad staan geboue wat eens die administratiewe en kulturele ruggraat van die stad gevorm het. Maar deesdae staan hierdie geboue, wat aan die nasionale en provinsiale regering behoort, stil, afgesluit en in sigbare verval.
Dit is egter nie net geskiedkundige geboue soos die Staatsmusem en die ou TPA-gebou wat in dié kategorie val nie.
Ook nuut opgerigte regeringsgeboue begin nou tekens van verval en verwaarlosing toon.
Die breër prentjie in die Pretoria-middestad dui daarop dat baie van hierdie verval nie bloot toevallig is nie, maar grootliks toegeskryf kan word aan die provinsiale en nasionale regering se versuim om geboue te onderhou, te benut en strategies te bestuur.
Verskeie eiendomme staan leeg of word onderbenut, terwyl ander stadig maar seker agteruitgaan.
Hierdie situasie plaas nie net druk op die stedelike omgewing nie, maar ondermyn ook pogings om die middestad te herleef en belegging te lok.
Volgens DA-lid van Provinsiale Wetgewer, Leanne de Jager, lê die kern van die probleem in ’n gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid soos wat sy onlangs weer na ’n oorsigbesoek in haar rol as lid van die provinsiale portefeuljekomitee van Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning ondervind het.
“Hierdie Gauteng provinsiale departement kan nie behoorlik rekenskap gee van die geld wat onlangs weer aan die Women’s Living Heritage Monument in Boomstraat bestee is nie. Behalwe om dit onder bykomende konstruksie- en instandhoudingskoste te klassifiseer, op ’n gebou wat nog nooit oopgemaak het nie,” sê sy.
Die monument, wat in 2016 onthul is om die nalatenskap van vroue in die stryd teen apartheid te eer, staan steeds gesluit vir die publiek.
Ten spyte van meer as R280-miljoen wat aan konstruksie en bedryfskostes bestee is, en ’n verdere R14.5-miljoen om gebrekkige vakmanskap reg te stel, toon die gebou reeds tekens van verval.
Tydens die onlangse toesiginspeksie in laat-April vanjaar deur De Jager is bevind dat verf van die mure afskilfer en dat sekere strukture begin verbrokkel.
Die sand wat in die konstruksie gebruik is, is besig om te verkrummel, ’n teken volgens De Jager van swak bougehalte wat reeds miljoene rande se herstelwerk vereis het.
Intussen bly die terrein omhein en ontoeganklik, met waarskuwingsborde wat vereis dat beskermende toerusting gedra moet word, al is daar geen sigbare konstruksie-aktiwiteit nie.
Die projek, wat bedoel was as ’n opleidings- en ontwikkelingsentrum en ’n ruimte om geskiedkundige figure soos Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophie de Bruyn te vereer, het nog nooit sy volle funksie bereik nie. Dit is ook is nie vir toeriste of besoekers oopgestel nie.
Die gebou is ook deur die metro as ’n brandgevaar verklaar weens nie-nakoming van veiligheidsregulasies.

De Jager sê die gebrek aan vordering en duidelike kommunikasie daaroor is kommerwekkend.
“Met elke besoek word daar gesê dit sal later in die jaar gereed wees, maar dit is nou al twee jaar later en daar is steeds geen konkrete tydlyn nie,” sê sy. “Selfs nadat sekere probleme, soos die verskuiwing van ’n substasie glo opgelos is, is daar geen verduideliking waarom ’n okkupasiesertifikaat nog nie uitgereik is nie.”
Sy wys ook op die afwesigheid van aanspreeklikheid binne die projek.
“Daar is geen duidelike aanspreeklikheidsmaatreëls nie, behalwe dat ’n vorige kontrakteur vervang is,” sê sy. “Die departement reageer nie op navrae nie en die LUR woon nie vergaderings of toesig in hierdie verband by nie.”
Hierdie patroon van verval en onderbenutting deur regeringsinstansies strek verder as net een projek.
Pretoria-inwoners word steeds in die duister gehou deur die provinsiale regering oor die werklike koste van die beveiliging van verlate en gehuurde regeringsgeboue in Pretoria en Johannesburg.
Byna ’n jaar nadat ’n ondersoek na 41 verlate provinsiale regeringsgeboue en 11 gehuurde eiendomme aangekondig is, is daar steeds geen duidelike uiteensetting van sekuriteitsuitgawes deur die provinsiale regering rondom hierdie geboue nie.
Meer as 20 van hierdie provinsiale regeringseiendomme is in Pretoria se middestad gekonsentreer, veral rondom Bosman-, Kerk- en Pretoriusstrate, waar verskeie geboue onderbenut of leeg staan.
Die gefragmenteerde aard van hierdie eiendomme, wat dikwels uit verskeie erwe en titelaktes bestaan maar dieselfde adresse deel, bemoeilik bestuur en instandhouding. Dit lei tot verdere onsekerheid oor verantwoordelikheid en koste, veral wanneer geboue nie ten volle benut word nie maar steeds beveilig moet word.
Nog ’n sprekende voorbeeld van die vervalle toestand van erfenisinfrastruktuur is die ou Staatsmuseum in Boomstraat.
Tydens ’n roetine-toesigbesoek op 5 Maart is De Jager toegang tot die perseel geweier, wat nuwe vrae laat ontstaan het oor die bestuur van die terrein en die toestand van sy historiese versamelings.
“Dit is ’n nasionale erfenisgebou wat al dekades lank verlate staan,” sê sy. “As LPW het ek die reg om toesigbesoeke te doen, maar ek is nie toegelaat om die toestand van die museum te inspekteer nie.”
Die museum, wat in 1892 gestig is en later deel geword het van die Ditsong Museums-netwerk, was eens ’n belangrike sentrum vir die bewaring van Suid-Afrika se geskiedenis.
Die gebou is egter in die vroeë 1990’s deur Ditsong verlaat ná ernstige waterskade, en staan sedertdien leeg. Tans is die gebou in die eiendomsregister van die nasionale Departement van Openbare Werke wat ’n gebruiksopsie aan die Pretoria-dieretuin gegee het. As ’n verklaarde provinsiale gedenkwaardigheid mag dit nie gesloop word nie.
Die versameling artefakte wat eens in die gebou was word nou geberg in die nuwe Kultuurhistoriese Museum in Visagiestraat.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
