EntertainmentLifestyleNews

Renaldo se nuwe enkelsnit, Droom Te Klein, inspireer ’n generasie

Die liedjie stel ’n belangrike vraag: praat en droom ons net oor ons drome of het ons die moed om dit werklik na te jaag?

’n Bekende stem in die Afrikaanse musiekbedryf is gereed om gehore te inspireer met die vrystelling van sy nuutste enkelsnit, Droom Te Klein. Hierdie liedjie beloof om nie net ’n vars klank te bring nie, maar ook ’n diep, emosionele boodskap wat aanklank sal vind by luisteraars van alle ouderdomme.

Renaldo verduidelik: “Ek wil hê mense moet onthou dat hul drome nooit te groot is nie; dit is ons wat soms te klein droom.”

Droom Te Klein is ’n energieke en emosioneel gelaaide enkelsnit wat elemente van pop-rock kombineer met ’n subtiele alternatiewe aanslag. Die liedjie fokus op die onskuldige, groot drome wat ons as kinders gehad het, en stel die belangrike vraag: praat ons net oor ons drome, of het ons die moed om dit werklik na te jaag?

Die liedjie is geskryf deur Renaldo en Richann Brussow van die groep Reën. Die inspirasie het ontstaan tydens ’n spontane gesprek toe die woorde “ons droom te klein” na vore gekom het. ’n Eenvoudige, maar kragtige konsep wat uiteindelik die kern van die liedjie gevorm het. Alhoewel die samewerking nie tradisioneel plaasgevind het nie, het die unieke proses bygedra tot die vars en eerlike gevoel van die enkelsnit.

Met ’n moderne klank en ’n universele tema sal Droom Te Klein sterk by vandag se generasie aanklank vind. Die liedjie spreek tot mense wat dalk hul drome langs die pad laat vaar het, en dien as ’n herinnering en motivering om weer daardie drome ernstig op te neem.

Renaldo voeg by: “Hierdie liedjie is my oproep aan elkeen om weer te glo in hul eie potensiaal en om die moed te hê om dit uit te leef.”

’n Musiekvideo vir Droom Te Klein is reeds vervaardig en beeld die vryheid en vreugde van die lewe uit. Die video fokus op Renaldo en sy groep wat die oomblik geniet, afgewissel met dinamiese tonele wat simboliseer hoe hy weier om op een plek vas te staan en eerder sy drome aktief nastreef.

Die video is op verskeie ikoniese plekke geskiet, insluitend Menlyn se dak en parkeerarea, asook ’n uitkykpunt in Waterkloof met ’n uitsig oor die stad. Addisionele tonele is by Renaldo se huis verfilm om ’n persoonlike en outentieke gevoel te skep. Die produksie is behartig deur Leon Barnard, wie se passie en toewyding duidelik sigbaar is in die eindproduk.

Renaldo se liefde vir musiek het reeds op ’n jong ouderdom begin, en musiek het nog altyd ’n sentrale rol in sy lewe gespeel. Van kleins af het hy gesing. Of dit nou in die klaskamer, by die huis of saam met familie en vriende was.

Sedert 2019 is hy aktief in die musiek- en radiobedryf en het reeds op jong ouderdom begin optree by feeste en liefdadigheidsgeleenthede. Een van sy grootste loopbaanhoogtepunte sluit in die ontvangs van ’n Afri-Indie-toekenning, sowel as die erkenning as Beste Onafhanklike Kunstenaar in 2025 by die Ontbytsake Onderneming van die Jaar-toekennings.

Plaaslik tel kunstenaars soos Riaan Benade, Zaan Sonnekus, Droomsindroom, Bok van Blerk en Appel onder sy invloede, terwyl internasionale name soos Brandon Lake, Forrest Frank, Ed Sheeran, Zach Bryan, The Lumineers en Mumford & Sons ook ’n rol speel in sy musikale ontwikkeling. Sy styl kan in een woord opgesom word: passievol.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button