NewsSchools

Hofaksie dreig teen metro oor sny van krag by skole

Leerders en personeel word geraak terwyl onderrig, veiligheid en voedingskemas onder druk kom weens die metro se administrasie.

Die burgerregte-organisasie AfriForum berei tans voor om die hof met ’n dringende aansoek te nader om die herstel van kragtoevoer na verskeie skole in Pretoria en Centurion te verseker.

Die stap volg nadat die metro skole in kennis gestel het dat hul elektrisiteit afgesny sou word weens agterstallige eiendomsbelastingrekeninge.

Die situasie het reeds by sommige skole tot kragonderbrekings gelei, met verreikende gevolge vir onderrig, veiligheid en basiese dienslewering.

Die kern van die dispuut lê daarin dat skole, volgens die organisasie, hul rekeninge vir dienste soos elektrisiteit en water ten volle betaal het, maar eiendomsbelasting deur die provinsiale owerhede is nie vereffen nie.

In sekere gevalle is daar selfs vooruitbetalings vir dienste deur skole gemaak.

Eiendomsbelasting val egter onder die verantwoordelikheid van die provinsiale owerhede, en dit is juis hierdie rekeninge wat volgens berigte agterstallig is.

Dit plaas skole in ’n posisie waar hulle die gevolge dra van administratiewe versuim buite hul beheer.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se Hoof van Kultuursake, is die optrede teen skole onregverdig en onaanvaarbaar.

“Dit is onregverdig dat leerders en personeel se regte tot gehalte-onderrig, veiligheid en selfs die voorsiening in hul basiese behoeftes geskend word weens die owerhede se wanadministrasie,” sê sy.

Die impak van kragonderbrekings by skole is onmiddellik en ingrypend.

Bailey verduidelik dat onderrig nie normaal kan voortgaan wanneer daar geen elektrisiteit is nie.

“By die skole waar daar tans geen krag is nie, kan onderrig nie soos normaalweg plaasvind nie,” sê sy.

Dit raak nie net klaskameraktiwiteite nie, maar ook administratiewe funksies en digitale leerplatforms waarop baie skole staatmaak.

Veiligheid is nóg ’n groot bekommernis. “Stelsels wat veiligheid op die perseel moet beskerm, is buite werking,” waarsku Bailey.

Sy wys daarop dat sonder werkende alarms, kameras en beheerstelsels word skole kwesbaar vir misdaad en vandalisme, wat reeds ’n probleem in baie gebiede is.

Die impak strek verder as akademie en veiligheid.

Voedingskemas, wat vir baie leerders ’n noodsaaklike bron van daaglikse voeding is, word ook geraak.

“Voedingskemas wat warm etes aan die mees kwesbare kinders moet voorsien, kan nie voortgaan nie, terwyl voorrade in yskaste bederf,” sê Bailey.

Hierdie situasie raak veral leerders uit kwesbare huishoudings wat op skoolmaaltye staatmaak.

Sommige skole probeer die situasie hanteer deur kragopwekkers te gebruik, maar dit bring sy eie uitdagings mee.

“Waar skole kragopwekkers het, kan net die mees noodsaaklike dienste gelewer word en dit teen ’n uiters hoë koste weens die huidige dieselprys,” verduidelik Bailey. Sy voeg by dat selfs hierdie beperkte gebruik van elektrisiteit nie volhoubaar is nie.

Sy verduidelik die organisasie het reeds ervaring met soortgelyke geskille.

In 2009 het die organisasie ’n saak teen die metro gewen oor soortgelyke kwessies, en is nou gereed om weer op te tree.

Sy wys daarop dat die organisasie werk tans saam met minstens een skool se beheerliggaam om die hof te nader, met die doel om ’n dringende oplossing te kry.

Bailey sê dat die organisasie graag van ander skole wil hoor wat deur dieselfde probleem geraak word.

“Ons hoor graag van enige skool in die metropolitaanse gebied wat tans deur hierdie optrede van die metro geraak word,” sê sy.

AfriForum glo dat die saak nie net oor die onmiddellike herstel van kragtoevoer gaan nie, maar ook oor die aanspreek van breër administratiewe probleme.

“Dit skep ’n belangrike presedent vir alle skole wat so onregverdig benadeel word,” sê Bailey.

Sy beklemtoon dat daar uiteindelik volhoubare oplossings gevind moet word.

“Ons vertrou dat blywende oplossings ook nou vir eens en vir altyd teen hierdie onregmatige optrede van die metro en wanadministrasie van die owerhede gevind kan word,” sê sy.

Volgens Bailey is dit onaanvaarbaar dat skole en hul leerders die prys betaal vir administratiewe versuim.

“Tans word die mees weerloses en onskuldiges gestraf vir amptenare se versuim,” sluit sy af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button