Dinokeng se mense en plekke vorm lewende bosverhaal
In dié reservaat noord van Pretoria is “’n klein deel van die aardse hemel” waar besoekers mense en plekke ontmoet wat saam ’n unieke bosverhaal skep, en waar die natuur verweef is in elke ervaring.
“Dinokeng is ’n klein deel van die hemel waar daar plek is vir almal,” sê Hartogh Streicher, voorsitter van die Dinokeng Game Reserve Management Association.
Met sy kenmerkende sin vir humor en diep liefde vir die veld beskryf hy met als wat hy vertel of doen ’n reservaat wat nie net oor wildlewe gaan nie, maar oor mense, stories en ervarings wat saamvloei.
Met sowat 80 lodges en kampe versprei oor die bosveldhemel net noord van Pretoria, is Dinokeng ’n mosaïek van uiteenlopende ervarings: van luukse tentkampe, besige lodges met spa’s, tot stil, afgesonderde kampeerplekke.
Dit is ’n plek waar die ritme van die natuur stadig deur jou are begin vloei, waar die lig sag oor die grasvelde val, en waar elke draai in die pad ’n nuwe ontmoeting met mens en dier kan bring.

Onder dié wat hierdie wêreld vir besoekers ontsluit, is Sally Pule, eens ’n inwoner van Eersterust en nou ’n gids van Hammanskraal. Sy het ’n skerp sin vir humor en ’n merkwaardige kennis van die veld. Haar pad na Dinokeng het begin toe sy die geleentheid gekry het om deur die provinsiale regering as gids opgelei te word.
“Ek sou my nie kon indink dat ek eendag in ’n safarivoertuig sou rondry in ’n reservaat wat ek soos die palm van my hand moes leer ken nie. En hier is ek vandag, agter die stuur van ’n safarivoertuig,” vertel sy terwyl sy bekwaam die paaie na die onlangse sousbuie baasraak.
Pule se passie lê in die klein besonderhede van die bos. Sy ken die gewoontes van die groot troppe blouwildebeeste en buffels, en sy weet presies waar om te soek vir leeus en olifante. Maar sy kan jou ook veel vertel van die roofvoëls en die kleiner geveerdes. Sy werk nou saam met ander gidse en deel wenke om seker te maak haar gaste kry die beste moontlike ervaring.

Sy beveel graag plekke aan soos Larry se Dam vir piekniekgangers, terwyl olifantliefhebbers deur haar aangeraai word om die noordelike dele van die park te verken. Sy gesels onderhoudend oor die trop olifante wat onlangs te siene was in die suide. Vir voëlliefhebbers wys sy op spesifieke uitkykpunte waar die geveerde inwoners van Dinokeng hulself wys.
Tog bly een oomblik vir haar uitstaan: die dag toe sy ’n skaars, skugter luiperd gewaar het. “Ek was so opgewonde dat ek skaars kon praat of asemhaal,” lag sy.
Vir Jacques Gerber, kampbestuurder by The Leadwood Safari Camp, gaan dit oor die egte ervaring van die bos. Hy het by verskeie lodges gewerk, insluitend Kwalata Lodge, en bring jare se ervaring saam na sy huidige rol.
Die kamp self bestaan uit afgesonderde tente, elk met ’n eie bosveldspa-bad, kombuis en braai-area. Privaatheid is hier ’n prioriteit: geen harde musiek of geraas word toegelaat nie, en selfs internettoegang is beperk tot een sentrale punt.
Saam met eienaar Jonathan Kleynhans glo Gerber dat gaste die natuur in sy suiwerste vorm moet ervaar.
Maar die bos bly onvoorspelbaar. Hy onthou ’n dag toe twee rooibokke binne die kamp beland het nadat hulle deur ’n leeu gejaag is en sierlik oor ’n meer as twee meter hoë elektriese heining gespring het.
“Soms vloei die adrenalien in die bos maar erg,” sê Kleynhans.
By Ngata Safari Lodge bring Doornpoort se Ken Kriel ’n ander dimensie na die Dinokeng-ervaring. ‘Ngata’ beteken oorvloed, iets wat hy glo die lodge werklik beliggaam.
Een van die uniekste kenmerke van Ngata is ’n kerkgebou op die terrein waar gaste en gelowiges gereeld bymekaar kom. Langs dié gebou staan een van die oudste tambotiebome in die reservaat, ’n stille getuie van tyd en geskiedenis.
Vir Kriel is die dam voor die restaurant besonders. “Dis hier waar gaste soggens ontbyt eet terwyl diere kom drink. Dit is ’n ervaring wat jy nie kan koop nie,” sê hy.

Nog ’n unieke bestemming is Chameleon Bush Lodge, bestuur deur Therese Smit. Die lodge se vrolike, kleurvolle eenhede (selfs lemmetjiegroen soos ’n ware verkleurmannetjie), is elk in ’n ander skakering geverf, en skep ’n speelse kontras met die aardse kleure van die bos.
Die terrein self is besonders netjies en beplan, met ’n indrukwekkende versameling kanferfoeliebosse in geel en oranje skakerings wat met hul soet, geurige blomme bye en voëls lok. Eienaar Chris Pieterse het ook ’n aansienlike versameling aalwyne en doringbome oor die jare aangeplant.
Maar dit is die aalwynkapel van die lodge wat werklik uitstaan, ’n plek waar paartjies onder ’n oop hemelruim hul troubeloftes aan mekaar kan maak, omring deur klip en natuur.
In die kamp is een van die gereelde geveerdes ook die klein dapper gevlerkte dwerguil, een van die kleinste uile in Suid-Afrika. Die klein uiltjie mag oulik lyk, maar is ’n vreeslose jagter wat prooi groter as homself aanpak.

Dit is hierdie kombinasie van mense, plekke en diere wat Dinokeng so besonders maak. Dit is nie net ’n reservaat nie maar ’n lewende landskap waar elke element met die ander verbind is.
Soos Streicher dit stel: “Dis ’n plek waar die natuur jou herinner dat alles betekenis dra, en dat elke mens, elke dier en elke plek deel is van iets groter.”
– Kliek hier om na ’n video van Ngata Safari Lodge te kyk:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channe