Staatsdienswerkers juig oor laer GEMS-verhoging
Onderwysers en staatsdienswerkers slaak ’n sug van verligting nadat GEMS sy voorgestelde 2026-bydraeverhoging van 9.8% tot 7.5% verlaag het. Dit ná druk van vakbonde en vreedsame protesoptogte oor die bekostigbaarheid van mediese fondsbydraes in ’n moeilike ekonomiese klimaat.
Onderwysers en ander staatsdienswerkers regoor die land vier vandag ’n belangrike oorwinning nadat die Government Employees Medical Scheme (GEMS) aangekondig het dat sy voorgestelde bydraeverhoging verder verlaag word.
Die nuwe aankondiging bring die gemiddelde verhoging op 7.5%, nadat GEMS aanvanklik ’n verhoging van 9.8% aangekondig het.
Ná druk van vakbonde is dit eers na 9.5% aangepas voordat verdere onderhandelinge en protesoptogte tot die jongste verlaging gelei het.
Die Suid-Afrikaanse Onderwyserunie (SAOU) het die aankondiging as ’n groot verligting vir onderwysers beskryf, veral in ’n tyd waarin staatsdienswerkers reeds onder ernstige finansiële druk verkeer weens stygende brandstof- en voedselpryse.
Volgens Paul Sauer, hoof uitvoerende beampte van die unie, was die 4%-salarisverhoging wat in April ingestel is, nie voldoende om die skerp styging in mediese fondsbydraes te absorbeer nie.

In 2025 het die gemiddelde verhoging in GEMS-bydraes reeds op 13.5% gestaan, wat groot kommer onder lede veroorsaak het.
Die vakbond sê GEMS het tydens vorige inligtingsessies met vakbonde aangedui dat die 2026-verhogings aansienlik laer sou wees. Dit het daarom as ’n skok gekom toe die fonds ’n byna dubbelsyferverhoging aangekondig het.
“Vakbonde het daarna druk op GEMS verhoog deur verskeie interaksies en vreedsame protesoptogte. Ons was deel van die optrede en het aangevoer dat die fonds sy lede onder onbillike finansiële druk plaas,” verduidelik Sauer.
Daar is aangevoer dat staatsdienswerkers deur ’n kollektiewe ooreenkoms feitlik verplig word om aan GEMS te behoort indien hulle staatsubsidies vir mediese fondse wil ontvang.
Dit beteken baie werkers het beperkte alternatiewe wanneer groot bydraeverhogings aangekondig word.
Die SAOU meen die verlaging na 7.5% is ’n oorwinning omdat GEMS oorspronklik geskep is om bekostigbare mediese voordele aan staatsdienswerkers te bied en nie om ’n winsgedrewe instelling te wees nie.
Sauer sê, “Die huidige ekonomiese klimaat maak dit vir baie onderwysers onmoontlik om tussen noodsaaklike lewenskoste en mediese dekking te kies. Daarom moet ’n geslote mediese fonds soos GEMS verantwoordbaar en sensitief teenoor sy lede se finansiële werklikhede optree.”
Hy het lede bedank vir hul ondersteuning en deelname aan die proses, en belowe om aan te hou veg vir die beskerming van staatsdienswerkers se regte en voordele.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
