NewsSchools

Skooltuin bevorder leer en emosionele welstand

Laerskool Stephanus Roos in Sinoville het ’n unieke sensoriese tuin ontwikkel om leerders se emosionele en fisiese ontwikkeling te ondersteun. Die projek bied ’n veilige ruimte vir ontdekking en leer, en is moontlik gemaak deur sterk gemeenskapsamewerking en volhoubare inisiatiewe wat kinders se welstand en groei eerste stel.

In ’n tyd waar kinders toenemend blootgestel word aan emosionele uitdagings om op skerms te leer en kommunikeer, het Laerskool Stephanus Roos in Sinoville ’n verbeeldingryke stap geneem om leerders op ’n meer omvattende manier te ondersteun.

Die ontwikkeling van ’n sensoriese tuin by die skool bied nie net ’n plek van rus nie, maar ook ’n dinamiese leeromgewing waar kinders deur hul sintuie kan ontdek, ontwikkel en groei.

Volgens Tania Schoeman, bemarker van die skool, het die idee vir die tuin ontstaan uit ’n duidelike behoefte binne die leerdergemeenskap.

“In ’n wêreld waar baie kinders daagliks sensoriese en emosionele uitdagings ervaar, het dit noodsaaklik geword om ’n ruimte te skep waar hulle veilig kan leer, ontdek en ontwikkel,” sê sy.

Die tuin is doelbewus ontwerp om verskeie sintuie te stimuleer. Klank, sig, aanraking en beweging vorm deel van die ervaring.

Die kleurvolle balle-installasie in die sensoriese tuin stimuleer visuele waarneming en spel, terwyl leerders aangemoedig word om deur beweging en interaksie hul sintuie te ontwikkel en kreatief te verken. Foto: Verskaf

“Die sagte klank van water het ’n kalmerende effek en help leerders om te ontspan en te fokus, terwyl helder kleure in plante en ander elemente visuele waarneming stimuleer en nuuskierigheid aanwakker,” verduidelik Schoeman.

Die verskeidenheid teksture speel ook ’n belangrike rol.

“Leerders kan verskillende oppervlaktes ervaar, van grof tot glad, hard tot sag, wat deur aanraking ontdek word. Elemente soos ’n klimmuur dra verder by tot fisiese ontwikkeling en gee kinders die geleentheid om hul liggame op ’n speelse manier te gebruik,” voeg sy by.

Vir die jonger leerders, veral in Graad 1 en Graad 2, het die tuin reeds deel van hul daaglikse roetine geword.

Dit bied ’n alternatiewe manier van leer vir kinders wat moontlik sukkel met tradisionele onderrigmetodes.

“Dit is veral waardevol vir leerders wat alledaagse aktiwiteite as uitdagend ervaar. Die tuin help om emosionele balans te bevorder, selfvertroue te bou en leerders bloot te stel aan verskeie ontwikkelingsgeleenthede,” sê Schoeman.

Die pad na die vestiging van die tuin was egter nie sonder uitdagings nie.

Een van die grootste struikelblokke was om die regte span te vind wat dieselfde visie deel en terselfdertyd binne ’n beperkte begroting kon werk.

Die inligtingsbord by die sensoriese tuin verduidelik die doel en funksie van die ruimte duidelik aan leerders en besoekers. Dit beklemtoon hoe die tuin verskeie sintuie stimuleer en emosionele welstand bevorder, terwyl dit ook riglyne gee oor respekvolle gebruik en die waarde van die leeromgewing vir ontwikkeling. Foto: Verskaf

’n Belangrike bydrae tot die projek het gekom van die jaarlikse Noot vir Nood-gholfdag, aangebied deur Gys Pitzer Motoring.

Hierdie inisiatief fokus daarop om fondse in te samel vir behoeftige leerders en help om praktiese uitdagings aan te spreek, soos voedselonsekerheid en beperkte toegang tot skoolaktiwiteite.

Samewerking het ’n sleutelrol gespeel. “Die vennootskap met Gys Pitzer en die skool het ’n deurslaggewende rol gespeel. In ’n tyd waar skole onder toenemende finansiële druk verkeer, is sulke samewerkings van onskatbare waarde.

“Dit is juis deur sulke skenkings en gemeenskapsbetrokkenheid dat projekte soos die sensoriese tuin moontlik gemaak word,” beklemtoon Schoeman.

Volgens haar was die reaksie van die leerders oorweldigend positief. Hulle het die tuin met groot entoesiasme ontvang en gebruik dit met respek en waardering.

“Daar is duidelik aan hulle verduidelik dat die tuin ’n spesiale plek is wat tot hul voordeel geskep is. Dit kweek ’n gevoel van trots en verantwoordelikheid,” sê sy.

Hoewel die tuin reeds ’n groot impak maak, word dit nie as ’n afgehandelde projek beskou nie.

Die skool het planne om die ruimte verder uit te brei en jaarliks nuwe elemente by te voeg om dit vars en relevant te hou.

Morné Engelbrecht, Gys Pitzer en Johan van Rooyen. Foto: Verskaf

“Die sensoriese tuin is ’n groeiende inisiatief. Ons wil dit voortdurend ontwikkel sodat dit nog meer geleenthede vir leer, spel en emosionele groei kan bied,” verduidelik Schoeman.

Uiteindelik is die tuin veel meer as net ’n fisiese ruimte. Dit verteenwoordig ’n belegging in die welstand en toekoms van elke leerder wat dit gebruik.

“Ons is opreg dankbaar vir Gys Pitzer van Gys Pitzer Motoring vir hierdie ongelooflike skenking. Dit gaan nog lank ’n blywende indruk op die kinders maak,” sluit Schoeman af.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button