Local newsNews

Fietstoer verruil teer vir opwindende bergpaadjies

'n Gewilde fietsryresies kry in 2026 ’n nuwe baadjie met uitdagende bergfiets- en gruispadroetes, ’n feestelike atmosfeer en hope gesinspret.

Die gewilde Die GROOT Trap, wat oor die jare bekend geword het as een van Pretoria se grootste padfietswedrenne, kry vanjaar ’n splinternuwe baadjie met die skuif na ’n opwindende bergfietservaring.

Die bekende wedren verruil die teerpad vir grondpaaie en natuurroetes wanneer fietsryers op Saterdag, 23 Mei by Bosveld Venue gaan saamtrek vir die nuwe formaat.

Drie gewilde omroepers, Anelma van Heerden en Charonike Nel sowel as Francois van Rensburg gaan ook saam met ywerige fietsryers saamtrap.

Anelma van Heerden sien uit daarna om deel te wees van die nuwe era van ‘n gewilde fietsren. Foto: Elize Parker

“Die afgelope paar jaar het ons eerstehands ervaar hoe deelname aan padfietswedrenne afneem as gevolg van veiligheid. Ons hou baie van die idee van ’n bergfietswedren, en kan ons op hierdie manier nog steeds ons gemeenskap dien met ’n geleentheid wat nie net fiks- en aktief-wees aanmoedig nie, maar een waar kinders en volwassenes saam ’n dag in die natuur kan geniet,” sê Annemarie Pretorius, projekbestuurder van GROOTfm 90.5.

Van Heerden is effe lugtig vir die fietsryery want sy het in ’n oefenlopie voor die radiostasie in ’n klein onderonsie met ’n plant of twee beland toe sy nie betyds kon rem nie. Sy het as kind nie te dikwels fiets gery nie en is skugter om op ’n fiets te klim maar stuit nie graag vir uitdagings nie.

“[Dit was] my eie ‘O aarde Marelize!’-oomblik! Maar niks gaan my keer nie,” sê Van Heerden. “Ek oorweeg dit egter om, net vir ingeval, die kinderroete aan te pak.”

Organiseerders glo die verandering bring nie net nuwe energie na die geleentheid nie, maar skep ook ’n veiliger en meer gesinsvriendelike ervaring vir deelnemers van alle ouderdomme en fiksheidsvlakke.

Die nuwe bergfietsformaat bied vier afstande waaruit deelnemers kan kies. Dit sluit 15km-, 30km- en 60km-roetes in, asook ’n uitdagende 80km gruispad-opsie vir meer ervare ryers. Daar sal ook ’n 2km-kinderroete wees om jong fietsryers deel van die dag se aktiwiteite te maak.

Volgens Pretorius pas die nuwe formaat perfek by die waardes van die radiostasie en die gemeenskap wat dit bedien. Sy sê die Bosveld Venue is een van Pretoria se ‘versteekte juwele’ en bied die ideale ruimte vir ’n dag van avontuur, natuur en gemeenskapsgees.

Die organiseerders werk saam met Fritz Pienaar van Plus27 Events, wat reeds vir jare betrokke is by groot fiets- en buiteluggeleenthede in Gauteng.

Pienaar was onder meer betrokke by die gewilde Trailseeker-wedrenne en glo die nuwe formaatren kan ontwikkel tot die grootste eendag-fietswedren in Pretoria.

“Toe die radiostasie my genader het nadat die vorige organiseerder se kontrak verstryk het, was ek vuur en vlam om die organisasie van hierdie wedren aan te pak,” sê Pienaar. “Die aanbod het op presies die regte tyd gekom en ek sien uit daarna om iets besonders vir Tshwane se fietsrygemeenskap te bou.”

Die eienaar van die groep, Pieter van Heerden, sê hulle sien daarna uit om deel te wees van die nuwe hoofstuk van die wedren.

“Die gemeenskap beteken alles vir ons, en ons sien hierdie borgskap as ’n manier om ons dankbaarheid te wys, nuwe verhoudings te bou en saam met ons mense pret te hê,” sê hy.

Vir meer inligting of om in te skryf, besoek GROOTfm 90.5 en volg die GROOT Trap-skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button