Local LifestyleLocal newsNews

Hoop om bekende koffiekafee op Kerkplein te laat herleef

Met ’n onlangse besoek op Kerkplein, is die Erfeniskomitee toegang geweier tot die eertydse Café Riche. Die groep het die beste van die situasie gemaak met ’n buitelug-tee en koffie- byeenkoms, terwyl hoop vir toekomstige herlewing van die historiese bistro groei.

Die Pretoria Erfeniskomitee het onlangs ’n simboliese stap geneem in hul poging om nuwe lewe in en om op Kerkplein te blaas, toe hulle ’n groep besoekers op ’n begeleide toer na ’n historiese bistro reg oorkant die Plein geneem het.

Die groep en komitee kon egter nie toegang tot die gebou self verkry nie.

Die groep, bestaande uit lede van die Dameskring Pretoria-Oos, was deel van ’n kulturele uitstappie onder leiding van toergids Johan van Wyk en voorsitter van die komitee, Sakkie du Plooy.

Van Wyk bied maandeliks Kerkplein-toere op die eerste Saterdag van elke maand aan.

Volgens Du Plooy was die doel van die besoek om belangstelling te wek vir die moontlike heropening van Café Riche as ’n erfenis- en toerismebestemming sowel as ander om vernuwing aan te wakker vir talle van die erfenisterreine rondom die Plein.

Du Plooy sê die ervaring was frustrerend, maar hy het ook veel hoop daaruit geskep.

“Ons wou die dames behoorlik onthaal en vir hulle wys hoe Café Riche weer ’n lewendige deel van Kerkplein se erfenis kan word en die onthaalgeleentheid op die perseel in die ou koffiekafee aanbied,” sê hy.

“Ongelukkig het ons nie vooraf toestemming van die Gauteng Departement van Infrastruktuurontwikkeling ontvang nie, ondanks telefoonoproepe en e-posse.”

Terugblik op Café Riche se vroeë dae op Kerkplein, toe die bistro ’n lewendige ontmoetingsplek was met historiese dekor, besige tafels en ’n atmosfeer wat Pretoria se ouwêreldse sjarme weerspieël het. Foto: Facebook/Cafe Riche

Volgens Du Plooy is die komitee toegang geweier om ’n eenvoudige tafel binne te dek of die besoekers te bedien.

Sekuriteit op die perseel het hulle nie toegelaat om die gebou te betree nie, wat die beplande binnenshuise funksie buite op die sypaadjie laat plaasvind het.

“Ons het toe die beste van ’n slegte saak gemaak,” sê Du Plooy. “Ons het buite in die son tee, koffie en eetgoed bedien. En weet jy, dit was baie spesiaal. Die dames het dit terdeë geniet, ongestoord, in die lieflike sonskyn, reg in die hart van Pretoria, langs Kerkplein.”

Die groep se lede het ook resepte van die destydse koffiekafee en herinneringe aan besoeke aan Café Riche uitgeruil tydens die informele samekoms.

Volgens Van Wyk was die buite-ervaring baie suksesvol. “Dit het gewys dat Kerkplein steeds mense kan lok. Daar is lewe hier, selfs al is die geboue nie almal toeganklik nie,” sê hy.

Du Plooy beklemtoon dat Café Riche se binnekant nie in ¹n slegte toestand is nie en dat daar groot potensiaal bestaan sou heropening kan plaasvind.

“Ons wil die hoop vestig dat hierdie plek weer kan funksioneer as ’n koffiehuis en ontmoetingspunt, soos dit jare gelede was,” voeg hy by.

Lede van die Dameskring Pretoria-Oos geniet ’n kulturele uitstappie op Kerkplein, waar hulle koffie, tee en eetgoed in die son deel. Die groep het saam met die Pretoria Erfeniskomitee die historiese omgewing verken as deel van ’n begeleide toer deur Johan van Wyk (agter in die middel), met fokus op erfenisbewaring en nostalgie. Foto: Verskaf.

Die Erfeniskomitee sien ook talle ander positiewe ontwikkelings rondom Kerkplein.

Volgens Du Plooy is daar nuwe aktiwiteit in die omgewing, insluitend die opening van ’n nuwe kantoor vir die Tshwane Housing Company in ’n voormalige Nederlandse Bankgebou. Daar word ook beplan om die toerismekantoor weer in die gebied oop te stel.

“Daar is beslis beweging op Kerkplein,” sê hy. “Ons glo met ’n paar rand se opknapping en samewerking met die Gauteng Departement van Infrastruktuurontwikkeling kan hierdie ou tradisies rondom die koffiekafee herleef word.”

Hy voeg by dat sekuriteitsmaatskappye steeds die gebou monitor, hoewel daar steeds probleme is met gebreekte vensters en algemene agteruitgang van sekere andere strukture in die omgewing.

Volgens hom was die oggend van 9 Mei, ten spyte van die uitdagings, ’n hoogtepunt om die gemeenskap by erfenisbewaring betrokke te kry.

“Dit was heerlik om saam te sit en weer die atmosfeer van eertydse Pretoria te beleef,” sê Du Plooy. “Ons hoop regtig hierdie plek kry weer sy glorie terug.”

Die historiese Café Riche-gebou aan die westekant van die Plein is in 1904 gebou en ontwerp in die Art Nouveau-styl deur Amsterdam-argitek Frans Soff in samewerking met beeldhouer Anton van Wouw.

Binne het die antieke hout- en glasdeure vir talle koffiewinkelgangers ’n rustige, ouwêreldse atmosfeer weg van die moderne stadsgejaag gebied.

Café Riche op Kerkplein is in 2018 gesluit, wat ’n einde gebring het aan ’n bekende ontmoetingsplek in Pretoria. Herstelwerk aan die bistro, ryk aan geskiedenis en kultuur, het sedertdien stilgestaan al het die Gauteng Departement van Infrastruktuurontwikkeling reeds toe te kenne gegee die gebou word vir restourasie gesluit. Foto: Verskaf.

Die deure en vensters is van die gesloopte tweede kerk op die Plein afkomstig. Die gebou het ook eertyds die African News Agency, ’n tabakwinkel en ’n apteek gehuisves.

Die koffiewinkel was tot sluiting in 2018 bekend as die oudste bistro in Pretoria en het koffie, varsgebakte lekkernye en ’n verskeidenheid plaaslike en internasionale drankies aangebied.

Die gebou is in 2018 deur die eienaars, die Gauteng Departement van Infrastruktuurontwikkeling, gesluit vir gebouverbeteringe en restourasie. Die verbeteringe het egter nog nie plaasgevind nie.

Die gebou het kunswerke van Anton van Wouw gehuisves. Dit is ook in die 1990’s gerestoureer en was lank ’n belangrike kulturele ontmoetingsplek waar politici, kunstenaars sowel as Pretoria-bekendes ingeskuif het. Dit was ook die ontmoetingsplek van lede wat aan ’n Pretoria-filosofieklub, Die Filosofiekafee, behoort het.

Destydse koffiewinkel-eienaar Lamé Ebersohn, nou in die Wes-Kaap woonagtig, het tydens haar eienaarskap die warm, intieme karakter van die koffiekafee behou en word deur menige Pretorianer onthou as ’n koffiewinkel-ikoon.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button