Kenner waarsku antieke waterbronne se verval raak ook Pretoria
Besoedeling en vervallende afvalwater-aanlegte vernietig, volgens kenners, antieke rivierstelsels wat die Wieg van die Mensdom en Pretoria verbind. Omgewingsaktiviste waarsku dat miljoene jare oue varswater-ekosisteme binne enkele dekades in biologies dooie waterlope verander het weens swak bestuur, besoedeling en ernstige vaardigheidstekorte by munisipale aanlegte.
Die rioolkrisis wat die Wieg van die Mensdom-terrein naby Krugersdorp bedreig, is volgens kenners deel van ’n veel groter omgewingsramp wat ook Pretoria se antieke riviernetwerke vernietig.
Die DA waarsku dat onbehandelde riool reeds ernstige skade aan die wêreld-erfenisgebied se sensitiewe waterstelsels en grotte aanrig, terwyl omgewingsaktiviste sê dieselfde verval het nou ook ’n impak op van die oorspronklike varswaterbronne van Pretoria.
Leanne de Jager, DA-woordvoerder vir sport, kuns, kultuur en ontspanning in Gauteng en LUR, sê die voortdurende probleme by die Percy Stewart-afvalwateraanleg in die Krugersdorp-omgewing hou ’n direkte bedreiging vir die Wieg van die Mensdom (Cradle of Humankind) in.
Volgens haar vloei onbehandelde en gedeeltelik behandelde riool reeds vir byna twee dekades in die Blougatspruit en Bloubankspruit voordat dit die Krokodilrivier en uiteindelik Hartbeespoortdam bereik.
Die DA waarsku dat die besoedeling nie net die oppervlak-ekostelsel vernietig nie, maar ook die sensitiewe ondergrondse grotsisteme waarvoor die Wieg wêreldbekend is.

Een van die bekendste fossiele in die geskiedenis was in April, 79 jaar gelede ontdek
Op 18 April 1947 het Robert Broom en John T. Robinson die fossiel ‘Mrs Ples’ (STS 5) by die Sterkfonteingrotte in die Wieg van die Mensdom opgegrawe.
Die goed bewaarde skedel van Australopithecus africanus het wetenskaplikes se begrip van menslike oorsprong verander en bied steeds belangrike insig in vroeë menslike voorouers wat miljoene jare gelede in dié gebied geleef het. Mrs Ples bly vandag ’n simbool van wetenskaplike ontdekking.
“Dit is diep kommerwekkend dat ’n Unesco-wêrelderfenisgebied onder rioolbesoedeling agteruitgaan,” sê De Jager.
Volgens Willem Snyman, voorsitter van die omgewingsorganisasie sonder winsbejag, Fresh, is Pretoria se riviere deel van dieselfde antieke fonteinwaterstelsel van die Witwatersrand wat ook die Wieg van die Mensdom voed.
Snyman het ’n verslag saamgestel oor voorgestelde rivierstelsels tussen Johannesburg en Pretoria om die streek se oorblywende varswater-ekosisteme te beskerm.
“Die waterstelsels rondom Pretoria en die Wieg van die Mensdom kom uit dieselfde oorspronklike fonteinbronne van die Witwatersrand. Hierdie waters het lewe vir duisende jare onderhou, maar is binne een leeftyd vernietig deur swak bestuur van afvalwater,” sê Snyman.
Sy verslag fokus op die Apies-, Hennops-, Pienaars- en Krokodil-rivierstelsels wat deur Pretoria en groter-Gauteng vloei.
Volgens hom is hierdie riviere van enorme historiese en ekologiese belang omdat dit deel gevorm het van die varswaterstelsels waarop vroeë menslike lewe in die streek afhanklik was.
“Tien jaar van afvalwaterwanbestuur het daartoe gelei dat riviere wat miljoene jare oud is, vernietig word. Die lewe in hierdie water en die waterstrome rondom Pretoria is ernstig benadeel deur rioolbesoedeling,” sê hy.
Snyman sê die Hennopsrivier bly een van die grootste redes tot kommer omdat dit deel vorm van die groter rivierstelsel wat met die Wieg van die Mensdom verbind word.
“Ons het reeds die verlies van honderde plant- en dierspesies in hierdie rivierstelsel gesien,” sê hy.
Volgens Snyman word die probleem vererger deur personeel- en vaardigheidstekorte by afvalwateraanlegte.
Die metro moet teen die einde van Mei ingevolge ’n opdrag van die Minister van Water en Sanitasie ’n plan voorlê vir die herstel van sy afvalwater-aanlegte.

Snyman meen egter nie die plan gaan vinnig genoeg resultate lewer nie.
“Ek glo nie die plan gaan op korttermyn ’n reuseverskil maak nie. Solank vaardigheidstekorte en personeeltekorte nie aangespreek word nie, gaan daar nie ’n volhoubare langtermynverskil wees nie,” sê hy.
Sy voorstel vir die herstel van rivierstelsels tussen Johannesburg en Pretoria behels die herstel van rivierkorridors, vleilande en graslande om die oorblywende natuurlike waterweë te verbind en biodiversiteit te beskerm.
Volgens hom is Pretoria se riviere nie bloot stedelike waterlope nie, maar deel van ’n antieke varswater-erfenis wat nou vinnig besig is om verlore te gaan.
Hy wys ook daarop dat veral ondergrondse water bedreig word deur waterbesoedeling in die omgewing van die Wieg van die Mensdom.
Hy verduidelik dat die dolomitiese formasies word toenemend bedreig deur besoedelde grondwater en chemiese onstabiliteit wat deur rioolinfiltrasie veroorsaak word.
“Hierdie water het die oorsprong van lewe en biodiversiteit op die Hoëveld onderhou. Nou sien ons hoe hele rivier-ekosisteme binne enkele jare in biologies dooie stelsels verander.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
