Moot-reisiger onthul Afrika se ware lesse
Cooper het tydens die reis dagboek gehou van al hul ervaringe en lesse.
Die Moot-sielkundige en leierskapspesialis, dr. Jean Cooper se nuwe boek, Waar die teerpad ophou, vertel die verhaal van ’n motorfietsreis deur Afrika, maar getuig ook van ’n diep persoonlike reis van selfontdekking.
Die boek volg Cooper en sy vriend, dr. De Witt Oosthuizen, wat oor drie maande in 2023 op twee motorfietse van Pretoria tot in Spanje deur Afrika gereis het.
Hoewel die avontuur aanvanklik as ’n motorfiets-ekspedisie begin het, sê Cooper hy het reeds tydens die beplanning besef dat die reis se uitdagings veel meer sou behels as die fisieke afstand.
Volgens Cooper het die spontane besluit om so ’n omvangryke reis aan te pak hom laat besef dat daar ’n dieper proses in sy menswees aan die gang was.

Hy het daarom besluit om tydens die reis ’n daaglikse joernaal te hou. Elke oggend om 05:00 het hy oor die vorige dag se ervarings geskryf. Hy sê dié dissipline het hom gehelp om voortdurend aandag te gee aan die dieper betekenis van wat hy beleef het.
“Om te besef wie mens nog altyd was, weggesteek onder die lae en lae van verwagtinge en voorgee, is seker die mees vrymakende verandering wat mens kan ervaar. Die reis, en veral die skryfproses, het my gehelp om my dieper, kwesbare self met meer selfvertroue toe te eien.”
Een van die temas wat sterk in die boek na vore kom, is identiteit en manwees.
Cooper erken dat dit moeiliker was om eerlik oor sy eie onsekerhede en kwesbaarheid te skryf as om deur sand, modder en gevaarlike paaie te ry.
“Is dit Mohamed Ali wat gesê het, ‘Everyone has a plan until they are punched in the face?’ Soms hou die teerpad op, of slaan die lewe jou in die gesig, en dan verdwyn die antwoorde wat mens gedink het jy het.”
Volgens hom moes hy leer om sonder selfbewustheid te skryf en nie voortdurend te dink aan hoe lesers sy eerlikheid sou ontvang nie.
Noudat die boek beskikbaar is, sê hy voel hy meer gespanne oor lesers se reaksie as wat hy tydens sommige van die gevaarlikste gedeeltes van die reis gevoel het, net soos wat hy soms gespanne gevoel het oor omstanders se menings tydens hul reis.

“Ek het gedink hulle wonder dalk wat op aarde maak hierdie paloekas op groot lomp motorfietse hier op ons sukkelpaaie.”
Vir hom was een van die grootste verrassings van die reis die vriendelikheid wat hulle oral in Afrika ervaar het. Voor hul vertrek is hulle dikwels gewaarsku oor die gevare van die vasteland, maar volgens hom was hul ervaring die teenoorgestelde.
Hy verwys na ’n voorval op pad na Xangango in Angola, waar ’n sak met sy paspoort, dollars en ander reisdokumente van sy motorfiets afgeval het sonder dat hy dit agtergekom het. ’n Plaaslike inwoner het die sak opgetel, agter hom aangehardloop en dit terugbesorg voordat hy weer na sy groep teruggehardloop het.
Cooper sê die voorval het vir hom gevoel asof Afrika sy hand oor hulle gehou het.
Ondanks die talle uitdagings sê Cooper daar was nooit ’n stadium waar hy ernstig oorweeg het om die reis te beëindig nie. Hy het homself vooraf voorgeneem om die kontinent oor te steek ongeag die struikelblokke.
Hy sê die reis is egter nie voltooi weens sy eie vermoë of deursettingsvermoë nie, maar ten spyte van sy beperkings en kwesbaarheid.
“As my motorfiets onherstelbaar sou breek, het ek myself voorgeneem dat ek ’n klein Chinese Afrika-motorfietsie koop en verder ry. Of loop. Maar dit was alles grootpraatvoornemens. Die punt is: Mens voltooi nie só ’n reis as gevolg van jou eie vernuf of vasbytvermoë nie, maar ten spyte van jou onvermoë en kleinserigheid. Selfs net ’n klein ongelukkie waar mens ’n enkel breek, sal die einde van die reis beteken.”
Hy onthou wel ’n oomblik in Nigerië waar hy en De Witt erken het dat die reis begin lank voel.
Hy beskryf ook die bergagtige gebied tussen Kameroen en Nigerië as een van die moeilikste gedeeltes van die ekspedisie, waar plaaslike inwoners uiteindelik gehelp het om hulle deur die moeilike terreine te kry. “Nigerië mergel mens uit.”

Die vriendskap tussen Cooper en De Witt vorm ook ’n belangrike deel van die verhaal. Die twee ken mekaar reeds drie dekades nadat hulle destyds in Sonop-manskoshuis aan die Universiteit van Pretoria ontmoet het.
Cooper sê hulle het vooraf geweet hul verskillende persoonlikhede sou soms spanning veroorsaak, veral omdat hulle vir bykans 80 dae onafgebroke saam gereis, kamers gedeel en elke dag saam deurgebring het.
“Met De Witt kan mens oorlog toe gaan.”
Hy glo hul lang geskiedenis as vriende en wedersydse begrip het egter gemaak dat hulle hul irritasies kon oorkom en hul vriendskap verder kon verdiep.
Terugskouend sê Cooper daar is ’n paar praktiese dinge wat hy anders sou doen indien hy weer vandag uit Pretoria sou vertrek.
Hy sou minder bagasie saamneem, op ’n kleiner motorfiets ry, hom minder bekommer oor moontlike probleme en vooraf Frans leer om beter met mense langs die pad te kommunikeer.
Ná afloop van die ekspedisie is die motorfietse in Madrid verkoop. Cooper sê hy ry deesdae op ’n Husqvarna Norden 901, die minder- toegeruste weergawe van die Expedition-model waarmee die Afrika-reis aangepak is.
Volgens hom het die reis hom geleer hoe min ’n mens werklik kan beheer en hoe belangrik dit is om met ander mense kontak te maak.
Hy sê die ervaring het hom laat besef dat ’n eenvoudiger lewe met minder besittings moontlik is en dat mense dikwels veel minder nodig het as wat hulle dink. Hy voeg by dat die reis hom ook geleer het om minder waarde aan ander mense se oordeel te heg en meer getrou aan homself te wees.
Cooper hoop lesers sal ná die laaste bladsy besef dat mense se antwoorde oor die lewe dikwels onvolledig is en dat die lewe onverwags kan verander.
Die oorspronklike ekspedisie is ook aan ’n waterprojek vir gemeenskappe gekoppel. Cooper sê hoewel die projek nie die rede vir die reis was nie, was dit vir hom belangrik dat die avontuur ook ’n positiewe bydrae kon lewer en die entoesiasme rondom die reis tot voordeel van ander gekanaliseer kon word.
Hy sê die reis en veral die skryfproses het hom gehelp om sy dieper en meer kwesbare self met groter selfvertroue te aanvaar.
“Ek wil ook meer onbeskaamd myself wees, en minder omgee oor ander mense se opinies en oordele. As mens so ver is van almal af, besef jy dat die stemme wat jou veroordeel eintlik in jou eie kop is.”
Die boek word in Pretoria op 22 Augustus om 11:00 by Die Boekeplek en Kuierstoep in Garsfontein bekendgestel. Bespreek by 083 708 3366.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel