Besoedelingskrisisse in ooste en noorde bedreig inwoners se gesondheid
Rou riool wat in die Moreletarivier invloei en herhalende brande by die Hatherley-stortingsterrein stel, volgens DA-politici, die gesondheid van duisende Pretoria-inwoners in gevaar. Hulle waarsku dat swak infrastruktuur, gebrekkige instandhouding en stadige optrede deur owerhede die omgewingskrisisse vererger.
Gemeenskappe in Pretoria-oos en Pretoria-Noord worstel die afgelope maande met toenemende omgewingsprobleme wat verband hou met water- en lugbesoedeling, terwyl inwoners kla oor onaangename reuke, aanhoudende rookbesoedeling en kommer oor moontlike langtermyn-gesondheidsgevare.
Die DA eis nou dringende ingryping deur provinsiale en munisipale owerhede en sê twee afsonderlike omgewingskrisisse wys op ernstige tekortkominge in infrastruktuuronderhoud, besoedelingsbeheer en omgewingsbestuur.
Volgens DA Lid van die Provinsiale Raad Leanne De Jager stort ’n rioolpyp reeds die afgelope vyf maande rou riool direk in die Moreletarivier.
“Die gesondheid en welstand van inwoners in dele van Pretoria-oos word bedreig deur ’n foutiewe rioolpyp wat rou riool van huishoudings direk in die Moreletarivier stort,” sê De Jager.
Sy sê die besoedeling vererger die ekosisteem se toestand en beïnvloed gebiede waardeur die rivier vloei, insluitend Wingate Park, Moreletakloof, Garsfontein, Faerie Glen, Murrayfield en omliggende oostelike voorstede.

Die Moreletarivier vorm deel van ’n groter watersisteem wat uiteindelik deur die Hartbeesspruit- en Pienaarsrivier-opvanggebied in die Roodeplaatdam invloei.
De Jager waarsku dat die besoedeling veel verder as die onmiddellike gebied versprei.
“Elke dag wat hierdie pyp nie herstel word nie, beweeg die besoedeling verder stroomaf en vererger die skade oor ’n hele rivierstelsel,” sê sy.
Omgewingskundiges waarsku reeds lank dat onbehandelde riool in riviere ernstige ekologiese en gesondheidsgevare kan veroorsaak, insluitend water-oordraagbare siektes, suurstoftekorte in waterstelsels en besoedeling van belangrike waterbronne.
Inwoners naby die spruit en rivier kla toenemend oor slegte reuke en die verslegtende toestand van die water.
De Jager sê die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Nasionale Waterwet plaas ’n duidelike verantwoordelikheid op die regering om sulke besoedelingsgevalle te voorkom en reg te stel.
“Die inwoners van Pretoria verdien skoon waterweë, ’n gesonde omgewing en ’n regering wat reageer wanneer probleme aangemeld word, nie een wat dit ignoreer totdat die skade onomkeerbaar raak nie,” sê sy.
Die DA het Gauteng se LUR vir Omgewing, Ewan Botha, versoek om ’n omgewingsimpakstudie te doen en die metro opdrag te gee om die beskadigde rioolpyp onmiddellik te herstel.
Die party sê ’n toekomstige DA-geleide provinsiale regering sal ’n verpligte reaksietyd van 48 uur instel vir aangemelde omgewingsgevare en dissiplinêre stappe teen amptenare neem indien daar nie betyds opgetree word nie.
Terwyl inwoners in Pretoria-oos met rioolbesoedeling worstel, ervaar gemeenskappe in die noorde en ooste van die stad ook herhalende rookbesoedeling weens brande by die Hatherley-stortingsterrein in Nellmapius in die ooste van Pretoria.
Volgens Marika Kruger-Muller het die terrein die afgelope maande herhaaldelike brandvoorvalle ervaar, insluitend nog ’n brand wat op 12 Mei aangemeld is.
“Dit is die tweede opeenvolgende maand waarin ernstige brande by die terrein voorkom, wat na bewering voorheen deur onwettige herwinners veroorsaak is,” verduidelik Kruger-Muller.
Hoewel sommige vorige voorvalle tuinvullisbrande behels het, het inwoners naby die stortingsterrein gekla oor dae lange blootstelling aan dik rook.
“Inwoners moes dae lank aanhoudende rookbesoedeling verduur, met baie inwoners wat gesondheidsprobleme soos hoes, verergerde asma en brandende oë rapporteer,” sê sy. “Hierdie situasie is onaanvaarbaar en hou ’n direkte bedreiging vir openbare gesondheid en omgewingsveiligheid in.”
Stortingsterreinbrande word as besonder gevaarlik beskou omdat metaangas wat tydens ontbinding ontstaan, maklik kan ontbrand en brande vir lang tydperke ondergronds kan laat smeul.
Kruger-Muller sê inspeksies het ernstige veiligheidsprobleme by die terrein blootgelê.
Volgens haar maak swak heinings en onvoldoende sekuriteitsmaatreëls onwettige aktiwiteite moontlik wat inwoners en die omgewing in gevaar stel.
Die DA het ook die stad se stadige reaksie op die brande gekritiseer.
“Ten spyte van die teenwoordigheid van ’n watertrok en laaigraaf wat bedoel is om brande te beheer en te blus, is dit uiters kommerwekkend dat dit dae neem om hierdie voorvalle volledig onder beheer te bring,” wys sy uit. “Hierdie lang reaksietye vererger lugbesoedeling onnodig en verleng inwoners se blootstelling aan skadelike rook.”
Die party het die metro se Departement vir Landbou en Omgewingsbestuur versoek om ’n vinnige reaksieprotokol in te stel sodat enige brand binne ure en nie dae nie geblus kan word.
Kruger-Muller waarsku dat die voortdurende rookvrystelling moontlik die Nasionale Omgewingsbestuurswet en die Wet op Luggehalte oortree.
Die DA sê die party gaan die voorvalle formeel by die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling aanmeld vir ondersoek en moontlike afdwingingsoptrede.
“Tshwane-inwoners verdien ’n veilige en gesonde omgewing,” sê Kruger-Muller. “Die voortdurende verwaarlosing van hierdie stortingsterrein is nie net onverantwoordelik nie, maar onwettig.”
Vrae is oor beide krisisse aan die metro gerig maar antwoorde is nog nie teen druktyd ontvang nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
