Springbok en Bloubul legende Piston van Wyk oorlede
Piston van Wyk, een van die ware legendes en karakters van Suid-Afrikaanse rugby, wat diep spore in die ligblou trui van Noord-Transvaal en die groen en goud van Suid-Afrika getrap het, is die afgelope naweek oorlede.
Een van die legendes van Noord-Transvaal en Springbok rugby uit die laat 1960’s en vroeë 1970’s, Piston van Wyk, is die afgelope naweek op die ouderdom van 82 oorlede, nadat hy die afgelope paar jaar gereeld probleme met sy gesondheid gehad het.
Hy was in sy speeldae kleiner en ligter as wat die meeste internasionale agterspelers van vandag, maar Jacobus Frederick Beatrix (Piston) van Wyk het as rugbyspeler die hart van ’n leeu gehad.
Hierdie eienskap het hom ’n baie gedugte haker gemaak, wat in sy 15 toetste vir Suid-Afrika en 46 wedstryde vir Noord-Transvaal (Blou Bulle) menige teenstander gou laat besef het dat dié man vir niks en niemand stuit nie.

Foto: Verskaf
Van Wyk het in Johannesburg grootgeword, maar is na skool Pretoria toe waar hy as vliegtuig werktuigkundige deur die Lugmag opgelei is. Hy het sy klubrugby dus vir die Weermag gespeel en was ook in die Carltonbeker toernooi ’n legende. Sy groot tweestryd met nóg ’n legende, Gys Pitzer, wat met hom vir ’n plek in beide die Noord-Transvaal en Springbok spanne meegeding het, was die bron van baie staaltjies oor die goeie ou dae van klubrugby.
Sy Springbok loopbaan het begin met ’n toetsreeks teen die All Blacks van 1970, terwyl hy later in die laaste twee toetse van die reeks in 1976 teen dié ou aartsvyand van die Springbokke sy internasionale loopbaan afgesluit het. Hy was ook ’n staatmaker teen die beroemde Britse Leeus van 1974.

Foto: Verskaf
Hy het ’n baie noue band met die voormalige Springbok kaptein en vaskopstut, Hannes Marais, gehad en dié twee legendes het in 12 toetse langs mekaar in die Springboktrui geskrum. Van Wyk, wat as ambagsman besonder sterk vir sy kleiner postuur was, het later vertel dat hy en Marais ’n tegniek ontwikkel het waarmee hulle menige teenstanders se voorrye verniel het. Volgens hom het dít ook aanleiding gegee tot heelwat van die woeste gevegte waarvoor hy as vurige haker bekend was.
Van Wyk word oorleef deur sy vrou, Rose, met wie hy vir meer as 60 jaar getroud was en saam met wie hy enkele jare gelede in Sabie in die Laeveld afgetree het, asook twee dogters en nege kleinkinders. Hul seun, Hendrik, is sowat 25 jaar gelede oorlede toe hy as elektrisiën tydens ’n industriële ongeluk doodgeskok is.
Geen begrafnisreëlings is nog bekendgemaak nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.