Moot-gemeenskap veg terug teen verval en soek saam oplossings
Rolspelers glo die Moot kan verval stuit deur saam verantwoordelikheid te neem.

Gemeenskapsleiers, sakelui en opvoedkundiges het op 23 Mei by Hoërskool Oos-Moot byeengekom om oplossings vir groeiende uitdagings in die Moot te bespreek.
Infrastruktuurverval en diensleweringsprobleme was van die kernkwessies, terwyl sprekers beklemtoon het dat samewerking tussen inwoners, skole en die privaat sektor noodsaaklik geword het.
Die gesprek het gefokus op hoe gemeenskappe toenemend self verantwoordelikheid moet neem vir plaaslike uitdagings, maar ook hoe samewerking met owerhede en die privaat sektor noodsaaklik bly om stedelike verval te voorkom.
Johan Kruger van Mind the Heart het gesê skole speel ’n sleutelrol in gemeenskappe omdat dit dikwels die plek is waar die meeste kennis oor plaaslike probleme en behoeftes saamvloei.
“Die skool is ’n verlengstuk van die gemeenskap en indien jy wil peil wat in ’n gemeenskap gebeur, is dit een van die eerste plekke om aan te klop,” glo Kruger.
Volgens hom lê die uitdaging daarin om die ‘gemeenskapsintelligensie’ wat in skole en woonbuurte bestaan, te aktiveer sodat gemeenskappe self oplossings kan ontwikkel.
Hy het as ’n voorbeeld gewys op veranderende woonpatrone in die Moot, waaronder die toename in meenthuisontwikkelings en die gepaardgaande verkeersdruk wat nuwe uitdagings vir inwoners skep.
“Die toename in verkeer gaan unieke probleme veroorsaak wat uiteindelik deur die gemeenskap self opgelos sal moet word, omdat inwoners die verkeerspatrone en roetes oor baie jare leer ken het,” het hy gesê.
Kruger het beklemtoon dat gemeenskappe wat saamwerk dikwels vinniger oplossings vind as strukture wat ver van plaaslike realiteite funksioneer.
Cilliers Brink, DA-koukusleier vir Tshwane, het tydens die gesprek gesê die Moot beskik steeds oor sterk gemeenskapsinstellings wat help om verval teen te werk.
“Dit is nodig dat mense weer met mekaar praat en in die Moot is dit presies wat gebeur om verval te keer en projekte aan te pak,” volgens Brink.
Hy het Die Moot-projek as voorbeeld genoem van inwoners wat self verantwoordelikheid neem om hul omgewing te verbeter.
“Die Moot-projek wys wat moontlik is wanneer mense hande vat en self oplossings begin vind,” het hy gesê.
Hy het egter gewaarsku dat gemeenskappe nie onbeperk die rolle van plaaslike owerhede kan oorneem nie.
“Daar is perke aan selfdoen. Die probleem begin wanneer die vlakke van regering wat vir dienslewering verantwoordelik is, nie hul pligte nakom nie.”
Volgens Brink speel goed-georganiseerde gemeenskappe ’n belangrike rol om owerhede aanspreeklik te hou, maar groot infrastruktuurprobleme kan nie sonder institusionele ondersteuning opgelos word nie.
“Wanneer infrastruktuur begin verval, is daar min wat ’n gemeenskap alleen kan doen. Daar moet strukture in plek wees wat daardie uitdagings daadwerklik aanpak.”
Hy het verder uitgebrei oor moontlike vennootskappe tussen die privaat sektor en plaaslike regerings as oplossing vir diensleweringsprobleme.
Brink het verwys na die organisasie Rural Maintenance wat reeds plattelandse dorpe help om groter elektrisiteitsonafhanklikheid te bereik.
Hy het ook na waterkonsessies in Mbombela en Ballitobaai verwys as voorbeelde waar alternatiewe bestuursmodelle suksesvol dienslewering ondersteun.
Prof Johan Oberholster van Die Moot-projek het die geskiedenis van die organisasie uiteengesit.
Volgens Oberholster is die projek in Julie 2022 saam met mede-stigter Hennie Mostert begin nadat inwoners toenemende frustrasie oor die toestand van infrastruktuur en openbare ruimtes ervaar het.
Die organisasie het later ’n ooreenkoms met die metro aangegaan om sekere dienste soos die verf van infrastruktuur en die verfraaiing van woonbuurte oor te neem.
“Wat aanvanklik klein begin het, het gegroei tot ’n netwerk van meer as 11 area-verteenwoordigers wat saam met borge en die gemeenskap werk om die Moot netjies en funksioneel te hou,” het Oberholster gesê.
Meer as 8 500 lamppale is reeds deur die projek geverf.
Volgens hom skep sulke projekte nie net werk nie, maar herstel hulle ook trots onder inwoners.
“Wanneer mense sien daar gebeur iets positiefs in hul buurt, begin hulle weer inkoop in die gemeenskap,” het hy gesê.
Hy het erken dat gemeenskapswerk dikwels ondankbaar kan wees, maar dat volgehoue betrokkenheid uiteindelik resultate oplewer.
Susan Theron, hoof van Hoërskool Oos-Moot, het gesê skole en die sakegemeenskap moet nouer saamwerk om jongmense in die Moot se buurte te hou om hul opvoeding te voltooi en aan te hou om daar te woon.
“Ons glo die gemeenskap moet saamstaan. Wanneer besighede en skole saamwerk, kan groot dinge vir die Moot moontlik word,” het Theron gesê.
Sy het verduidelik dat geleenthede wat deur die sakegemeenskap geskep word, help om leerders hoop en rigting vir die toekoms gee, wat uiteindelik die hele gemeenskap versterk.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel




