Voormalige vroedvrou Yolande Maritz-Fouchee (48) van Pretoria-oos is op 28 Mei, deur regter Mokhine Mosopa in die Gauteng Hooggeregshof in Pretoria tot ’n effektiewe 23 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig bevind is aan strafbare manslag, verskeie aanklagte van aanranding en bedrog.
Maritz-Fouchee het tussen 2019 en 2020 die You and Me Midwife-led Maternity Care-praktyk in Pretoria bedryf, waar sy swanger vroue ondersoek en met geboortes bygestaan het.
Alysia von Kloeg, se seun Noah is in April 2019 by Maritz-Fouchee se You&Me-geboortesentrum gebore. Hy het later by die Steve Biko Akademiese Hospitaal gesterf.
Die hof het vroeër tydens haar verhoor gehoor dat sy gereeld swangerskapkomplikasies geïgnoreer het en versuim het om pasiënte na spesialiste of hospitale te verwys.
Sy het glo ook aan verwagtende moeders voorgehou dat sy bevoeg was om normale en lae-risiko geboortes te hanteer, ondanks die feit dat sy nie daarvoor gekwalifiseer was nie.
Tydens vonnisverrigtinge het die staat aangevoer dat Maritz-Fouchee geen berou of insig in haar optrede toon nie en ’n hoë risiko vir herhaling inhou.
Aanklaer Jennifer Cronjé het gesê rehabilitasie is nie ’n opsie nie omdat Maritz-Fouchee geen aanspreeklikheid vir haar dade aanvaar nie.
Volgens die klagstaat het sy selfs voortgegaan om as ’n ‘tradisionele geboorte-assistent’ te praktiseer nadat die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging haar lisensie ingetrek het.
Die hof het gehoor dat sy water gemeng met swangerskap-induserende medikasie aan pasiënte toegedien het sonder hul kennis of toestemming.
Verskeie vroue het haar in 2020 by die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SANC) aangemeld.
Agt slagoffer-impakverklarings is aan die hof voorgelê, insluitend verklarings van vroue wat glo sonder toestemming met inspuitings behandel is om kraam te induseer.
Volgens getuienis gelei in die hof het twee kinders geboortebeserings opgedoen as gevolg van haar wanpraktyke, terwyl ’n nege dae oue baba in haar sorg dood is.
Volgens ’n voorvonnisverslag deur maatskaplike werker en proefbeampte Heidi Buhrow het Maritz-Fouchee geen berou getoon nie en geen begrip van die erns van haar optrede gehad nie.
Haar regsverteenwoordiger, Nico Raubenheimer, het die hof versoek om ’n ligter vonnis op te lê. Hy het aangevoer dat sy geen vorige veroordelings het nie en reeds groot reputasie en emosionele skade gely het weens die openbare blootstelling van die saak.
Maritz-Fouchee het in Julie 2024 vir die eerste keer in die Pretoria-landdroshof verskyn op 14 aanklagte, insluitend strafbare manslag, aanranding en bedrog.
Die saak is later na die Gautengse Hooggeregshof oorgeplaas waar regter Papi Mosopa haar in 2025 op al die aanklagte skuldig bevind het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
