Local newsNews

Vroue-unie ondersteun voedingsprogram by Noord-skool

Die De Wildt-tak het Wêreldhongerdag gevier deur kos, serpe en lekkergoed aan leerders van Laerskool Voortrekker Eeufees in Pretoria-Noord te skenk. Die uitreik het ondersteuning gebied aan die skool se voedingsprogram wat daagliks sowat 72 kinders van maaltye voorsien.

Die Vrouelandbou-unie se De Wildt-tak het ter viering van ’n bewusmakingsdag oor hongersnood ’n uitreikprojek van stapel gestuur om leerders van Laerskool Voortrekker Eeufees in Pretoria-Noord te ondersteun.

Die besluit is tydens die tak se Mei-vergadering geneem, waar lede ooreengekom het om op ’n praktiese wyse by Wêreldhongerdag betrokke te raak.

Jacobs, Surina Lombaard en Lilian Bierman (takskakelbeampte) het die tak tydens die besoek aan die skool verteenwoordig.

Tydens die besoek is kosdonasies afgelewer, serpe aan leerders uitgedeel en lekkergoedpakkies aan kinders in die voedingsprogram oorhandig.

Die skool se voedingsprogram voorsien daagliks meer as 70 leerders van ontbyt en kos tydens pouse.

Die program is afhanklik van skenkings en ondersteuning uit die gemeenskap.

Volgens Jacobs het die besoek die belangrike rol beklemtoon wat gemeenskapsorganisasies speel om kwesbare kinders te ondersteun en voedselsekerheid onder leerders te bevorder.

Die tak se lede het die ervaring as ‘besonder aangrypend’ beskryf en verwys na die dankbaarheid wat die kinders tydens die besoek getoon het.

“Die glimlagte en spontane waardering van die leerders het die waarde van die uitreik bevestig,” sê Bierman.

Die organisasie het ook hul waardering uitgespreek teenoor die skoolhoof Deon Labuschagne, adjunkhoof Sonja Simon, voedingsprogram-koördineerder Lizzy van Niekerk, en voedingsprogram-assistent Elizabeth Kgonthe, vir hul volgehoue diens aan die leerders.

Die tak het die personeel geloof vir hul daaglikse betrokkenheid by die voedingsprogram en hul toewyding om te verseker dat kinders toegang tot gereelde maaltye het.

Jacobs het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om by die skool se voedingsprogram betrokke te raak en ondersteuning te bied waar moontlik.

Volgens die tak kan selfs klein bydraes ’n betekenisvolle verskil maak in die lewe van kinders wat op die program staatmaak.

Die uitreik vorm deel van die tak se poging om ’n praktiese bydrae te lewer tot die bekamping van honger en om ondersteuning aan kinders in nood te bied. Deur die projek wou die organisasie nie net kos voorsien nie, maar ook hoop en omgee aan die betrokke leerders oordra.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button