LifestyleNews

Boek dokumenteer stil stryd van Afrikanermans

’n Omvattende nuwe studie onder 300 Afrikanermans tussen 50 en 70 jaar werp lig op verlies, identiteit, geestesgesondheid en hoop.

’n Nuwe boek deur die sielkundige en rubriekskrywer van Pretoria-oos, dr. Mart-Marié Uys, bring vir die eerste keer wetenskaplike navorsing oor die belewenis van Afrikanermans tussen die ouderdomme van 50 en 70 jaar in postapartheid-Suid-Afrika na die openbare domein.

Die boek, Afrikanerman: Vasgevang tussen onthou en herontdek, uitgegee deur Turksvy Publikasies, is gebaseer op navorsing onder 300 respondente uit al nege provinsies. Die studie is deur ’n geakkrediteerde navorsingsmaatskappy uitgevoer en ondersoek temas soos identiteit, verlies, geestesgesondheid, kultuur, geloof en die toekoms van Afrikanerskap.

Volgens die bevindings beskryf 86.3% van deelnemers ’n gevoel van diep verlies, terwyl 87.6% sê hulle ervaar anti-Afrikanersentiment as ’n daaglikse werklikheid.

Verder glo 83.8% dat regstellende aksie ’n direkte negatiewe impak op hul bestaan gehad het.

Uys beklemtoon egter dat die boek nie geskryf is as ’n politieke dokument nie, maar as ’n sielkundige ondersoek na die ervarings van ’n bepaalde generasie mans.

“Dit is ’n produk van sielkundenavorsing wat wêreldwyd erken word. Die mense wat deelgeneem het, het eerlik geantwoord, nie op grond van hul politieke oortuigings nie, maar omdat iemand geluister het. Omdat hulle gevra is om te praat,” sê sy.

Die navorsing het sy oorsprong in ’n patroon wat Uys oor tyd waargeneem het.

Sy sê sy het herhaaldelik mans in hierdie ouderdomsgroep ontmoet wat uiterlik goed funksioneer, maar wat terselfdertyd gevoelens van verlies, vervreemding en onsekerheid beskryf.

“Wat my getref het, was dat hierdie ervarings selde deel van die openbare gesprek geword het,” sê sy.

Volgens haar het baie van hierdie mans grootgeword met bepaalde aannames oor werk, gemeenskap, kultuur en identiteit, maar moes hulle aanpas by ’n Suid-Afrika wat ingrypend verander het.

“In private gesprekke het hulle minder oor politiek gepraat en meer oor betekenis, behoort, aftrede, geloof en die vraag hoe om relevant te bly in ’n veranderende wêreld.”

Dr. Mart-Marié Uys, skrywer en sielkundige. Foto: Verskaf

Een van die mees opvallende aspekte van die studie is die fokus op geestesgesondheid.

Van die 300 respondente het 22.3% aangedui dat hulle aan depressie ly, ongeag of dit formeel gediagnoseer is. Altesaam 10.4% het ernstige selfdoodgedagtes aangemeld. Van dié groep het 61.8% aangedui dat hulle reeds ’n daadwerklike poging aangewend het.

Die navorsing toon verder dat 42.5% gereeld uitgeput en emosioneel oorweldig voel, terwyl 44.9% nie maklik hulp soek nie.

Uys beskryf dié verskynsel as ‘selfgesensureerde smart’.

“Hierdie mans dra ’n swaar en dikwels ’n selfopgelegde las. Die data wys dit onomwonde,” sê sy.

Volgens haar was dit nie net die emosionele pyn wat uit die navorsing na vore gekom het wat haar geraak het nie, maar ook die stilte waarmee baie mans hul uitdagings dra.

“Baie respondente het beskryf hoe hulle jare lank met verlies, eensaamheid of onsekerheid geworstel het sonder om dit met familie, vriende of kollegas te deel.”

Sy sê sy is ook getref deur die verskil tussen uiterlike sukses en innerlike welstand.

“Sommige van die mans was professioneel suksesvol en gerespekteerd, maar het steeds gevoelens van betekenisverlies en emosionele uitputting ervaar.”

Ten spyte van die uitdagings wat in die navorsing geïdentifiseer word, skets die bevindings nie uitsluitlik ’n beeld van pessimisme nie.

Volgens die studie ondersteun 80.1% van respondente steeds die voortbestaan van Afrikaner-kultuur, terwyl 63.8% sê hulle wil aktief help bou aan ’n nuwe, inklusiewe Afrikaner-identiteit.

Daarbenewens beskryf 84.4% hulself as gelowig, 83.6% noem Afrikaans die kern van hul identiteit, en 75.8% identifiseer steeds met Afrikanerskap.

Een respondent van 57 jaar uit Johannesburg het gesê: “Ek is nie kwaad nie. Ek is net moeg. Moeg om altyd die een te wees wat moet verduidelik hoekom ek nog Afrikaner-dinge wil doen. Dit voel asof ek elke dag my bestaan moet regverdig in my eie land.”

Boekomslag

Uys sê die navorsing wys dat verlies en hoop nie noodwendig teenoor mekaar staan nie.

“Die mees hoopvolle respondente was nie noodwendig dié wat die minste verlies ervaar het nie, maar dikwels dié wat die werklikheid van verandering die eerlikste erken het.”

Sy glo identiteit is nie staties nie, maar ’n voortdurende proses van aanpassing en vernuwing.

“Die begeerte om ’n nuwe identiteit te bou is daarom nie ’n ontkenning van verlies nie. Dit is juis ’n bewys dat mense steeds glo daar is betekenis, doel en moontlikheid in die toekoms.”

Die boek bespreek ook die konsep van ’n inklusiewe Afrikaner-identiteit. Volgens Uys is dit ’n identiteit wat gegrond is in taal, kultuur, geskiedenis en gedeelde waardes, maar wat nie afhanklik is van uitsluiting om homself te definieer nie.

“Dit beteken nie dat Afrikaners hul identiteit moet prysgee nie. Dit beteken eerder dat taal, kultuur en geskiedenis gekoester kan word op ’n manier wat oop is vir samewerking, wedersydse respek en ’n gedeelde toekoms.”

Uys meen Suid-Afrika voer dikwels gesprekke oor geskiedenis, politiek en ekonomie, maar minder oor die emosionele nalatenskap van hierdie werklikhede.

“’n Volwasse demokrasie behoort ruimte te hê vir veelvuldige verhale van verlies, trauma, hoop en herstel. Wanneer mense voel hul ervarings word nie gehoor nie, verdiep vervreemding en wantroue.”

Sy sê die belangrikste les uit die navorsing is dat mense van isolasie na verbondenheid moet beweeg.

“Wanneer mense voel hulle word gehoor, verstaan en waardeer, word dit makliker om uitdagings te hanteer en hoop vir die toekoms te behou.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button