PMP herstelplan in Tuine en begroting onder druk
Solidariteit sê enige voorstel vir herstel van Denel se Pretoria Metal Pressings-aanleg in Pretoria Tuine moet vyf streng toetse slaag, insluitend salarisstabiliteit, vaardigheidsbehoud, veilige produksie, goeie bestuur en meetbare resultate, te midde van breër debat oor verdediging en befondsing daaroor.
Enige voorstel om Denel se aanleg by Denel Pretoria Metal Pressings (PMP) in Pretoria Tuine te herstel, moet aan vyf streng praktiese toetse voldoen voordat dit as geloofwaardig en volhoubaar beskou kan word, sê die vakbond, Solidariteit.
Die organisasie se standpunt volg op onlangse openbare debat en verskeie berigte oor die toekoms van Suid-Afrika se verdedigingsvermoë, die finansiële uitdagings van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), en voorstelle om PMP deur nuwe beleggingsinisiatiewe en vennootskappe te herleef.
Die verdedigingsbegroting vir 2026/27 staan op ongeveer R57.6-miljard.
Die SANW is volgens kenners soos onafhanklike weermag-analis, Kobus Marais, erg onderbefonds en ontvang minder as 0.7% van die BBP (bruto binnelandse produk) in plaas van die internasionaal aanbevole 2%.
Politieke ontleders en die DA het ’n chroniese onderbesteding van 80% in militêre navorsing en ontwikkeling hewig gekritiseer, wat kritici ’n kritieke nasionale veiligheidsrisiko noem.
Volgens Marais is dit is ook waar Denel, Krygkor en die breër Suid-Afrikaanse verdedigingsbedryf relevant word.
“Ons weermag kan homself nie onderhou sonder ’n industriële basis wat sleuteltoerusting en -stelsels kan herstel, moderniseer, vervaardig en verskaf nie. Denel en Krygkor en hul affiliale moet hervorm, gemoderniseer en aanspreeklik gehou word. Suid-Afrika kan dit nie bekostig om terloops soewereine produksievermoëns in ammunisie, missiele, artillerie, lugvaartondersteuning, toetsinfrastruktuur en instandhouding te verloor nie,” glo Marais.
Volgens Derek Mans, sektorkoördineerder by Solidariteit, gaan die debat oor sulke semi-staatsinstansies van die Weermag en Krygkor soos Denel PMP, se toekoms egter oor veel meer as finansiering, beleggings of strukturele hervorming.
Denel PMP spesialiseer in die vervaardiging van ammunisie, koperprodukte en verwante verdedigingstoerusting.
Hy sê die kern van enige herstel lê by mense en nie slegs by infrastruktuur of kapitaal nie.
“PMP se toekoms gaan uiteindelik oor mense. Soewereine vermoë berus nie slegs op geboue, masjinerie of infrastruktuur nie, maar veral op die mense wat weet hoe om dit veilig en doeltreffend te bedryf. Denel PMP is ’n praktiese voorbeeld van waarom hierdie werklikheid nie geïgnoreer kan word nie,” sê Mans.
PMP word beskou as een van Suid-Afrika se belangrikste verdedigingsvervaardigingsaanlegte.
Die aanleg se voortbestaan raak nie net werknemers nie, maar ook die SANW, die SAPD, die plaaslike verdedigingsbedryf en die land se breër strategiese belange.
Solidariteit sê dit ondersteun pogings om PMP weer op ’n stabiele, veilige en volhoubare grondslag te plaas. Die vakbond steun volgens hom geloofwaardige beleggings, praktiese vennootskappe en bedryfsmodelle wat werkgeleenthede beskerm, skaars vaardighede behou en produksie herstel.
Mans sê die vraag is nie bloot of PMP gered kan word nie, maar wie die plan gaan uitvoer, hoe kritieke vaardighede behou gaan word, en hoe nóg ’n mislukte omkeerstrategie voorkom gaan word.
Werknemers by Denel het volgens die vakbond reeds jare van onsekerheid, bestuursmislukkings, bedryfsontwrigting en salarisprobleme beleef. Talle hoogs geskoolde werknemers het die organisasie verlaat, terwyl die wat oorbly steeds oor die kundigheid beskik waarop enige herstel afhanklik sal wees.
Mans sê daarom sal enige reddingsplan, huurooreenkoms, beleggingsvoorstel, publiek-private vennootskap of strategiese samewerking aan vyf kernvereistes gemeet word.
Volgens hom is die eerste vereiste salarisstabiliteit. “Werknemers moet betyds betaal word en enige geloofwaardige voorstel moet duidelik uiteensit hoe salarisse gefinansier gaan word en hoe verdere onsekerheid voorkom sal word,” glo Mans.
Die tweede vereiste is die beskerming van werknemers en die behoud van vaardighede.
Volgens Mans is PMP se grootste bate sy mense. Enige plan moet wys hoe kritieke ambagslui, ingenieurs, tegnici, operateurs, inspekteurs, programbestuurders en veiligheidskundiges behou gaan word, asook hoe opleiding, vakleerlingskappe en kennisoordrag gaan plaasvind.
Hy meen die derde vereiste is veilige produksie terwyl die vierde vereiste goeie bestuur en aanspreeklikheid is.
Die vyfde vereiste is meetbare mylpale en resultate. Herstel moet sigbaar wees met realistiese tydlyne, produksieteikens, verantwoordelike besluitnemers en gereelde vorderingsverslae sodat vordering objektief gemeet kan word.
Mans sê Suid-Afrika se fiskale uitdagings vereis praktiese oplossings, maar waarsku dat enige oplossing die land se strategiese belange moet beskerm.
Hy sê verantwoordelike publiek-private vennootskappe en strategiese samewerking kan belegging, tegnologie en marktoegang ontsluit, maar dat soewereine belange, kritieke vaardighede en institusionele kennis altyd eerste moet kom.
Volgens Mans berus strategiese vermoë uiteindelik by mense wat oor jare heen diep kennis en ervaring opgebou het.
“Fasiliteite kan herstel word. Masjinerie kan vervang word. Finansiële probleme kan opgelos word. Wat nie maklik vervang kan word nie, is die opgeboude kennis en ervaring van werknemers wat die aanleg, prosesse, produkte en veiligheidsvereistes verstaan. Wanneer daardie kennis verlore gaan, raak herstel baie moeiliker en soms selfs onmoontlik,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook ,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
