KI help leer, maar onderwysers bly nodig
'n Ondersteuningsentrum vir skole glo dat tegnologie soos Kunsmatige Intelligensie wel leer kan versterk en aanvullende ondersteuning aan leerders kan bied, maar dat die begeleiding, mentorskap, waardes en kultuur wat onderwysers aan leerders oordra, nie deur Kunsmatige Intelligensie vervang kan word nie.
Die rol van onderwysers in die onderwys bly onontbeerlik ondanks die vinnige integrasie van kunsmatige intelligensie (KI) in die alledaagse lewe.
Dit is die boodskap van die Solidariteit-skoleondersteuningsentrum (SOS), wat op 24 Junie tydens Wiskundedag by die sentrum se kongres sy nuwe Afrikaanse KI-leerassistent, Leerder Bot, bekend gestel het.
Volgens Leandie Bräsler, skolenetwerkbeampte, word KI toenemend deel van leerders se daaglikse lewe en raak die gebruik daarvan in die leeromgewing byna onvermydelik.
Volgens haar is die belangrike vraag nie of leerders KI gebruik nie, maar hoe hulle dit gebruik.
“Die uitdaging is om te verseker dat KI leerders help om beter te dink eerder as om namens hulle te dink,” sê sy.
Die bot is ontwikkel om leerders met begrip, probleemoplossing en akademiese ondersteuning by te staan, terwyl die onderwyser steeds die middelpunt van die leerproses bly.
Sy verduidelik, anders as algemene KI-platforms, maak die hulpmiddel gebruik van ’n geslote kennisbasis wat op die nasionale kurrikulum en Wolkskool se leerinhoud gegrond is.
“Dit dien as ’n aanvullende hulpmiddel wat leerders ook buite die klaskamer kan ondersteun,” verduidelik sy.
Die bekendstelling het plaasgevind tydens die sentrum se Wiskundedag, waar die fokus op kritiese denke, probleemoplossing en logiese redenasie geval het.
Sy beklemtoon dat hoewel KI nuwe geleenthede vir leer ontsluit, dit nie die rol van die onderwyser kan vervang nie.
Onderwysers bly verantwoordelik vir die ontwikkeling van kritiese denke, begeleide leer, waardevorming en die toepassing van professionele oordeel in die klaskamer.

Prof. Ignatius Gous, spreker by die bekendstelling, sê onlangse navorsing toon dat die emosionele ervaring van onderwysers en leerders in die klaskamer ’n direkte invloed op leer het.
“Van die jongste navorsing wys dat hoe onderwysers en kinders in die klaskamer voel, ’n direkte invloed het op leer. KI vervang nie die onderwyser nie; dit stel die onderwyser in staat om terug te keer na sy belangrikste rol: menslike mentorskap,” sê Gous.
Saam met die bekendstelling van die bot bevorder die sentrum ook tans sy KI-manifes, wat as ’n rigtingwyser vir onderwysers, leerders en ouers dien in ’n tyd waarin KI al hoe meer deel van die leeromgewing word.
Die manifes beklemtoon menslike oordeel, akademiese integriteit, deursigtigheid en die verantwoordelike gebruik van KI in die onderwys.
Die kernbeginsel daarvan is dat KI leer moet ondersteun en nie vervang nie.
“Verantwoordelike KI-gebruik beteken dat ’n leerder KI gebruik om beter te dink, nie om minder te dink nie. KI kan help verduidelik, oefen en orden, maar die begrip en finale werk moet steeds die leerder s’n bly,” sê KI-spesialis, Melanie Kroukamp.
Die platform waarop die bot is, stel leerders ook in staat om toegang tot ondersteuning teen hul eie tempo en op hul eie tyd te verkry.

“Die heel belangrikste werk van ’n onderwyser is nie net die inhoud nie, maar die waardes en kultuur wat aan leerders oorgedra word,” sê Valentyn van der Merwe, ontwikkelaar van die bots.
– Die bot is op die Wolkskool-platform beskikbaar: https://www.wolkskool.co.za/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
