Zonnebloem blom met vier benoemings
Van kitaar leer speel tot vier benoemings – Zonnebloem se musiekreis neem vinnig vlerke.
Zonnebloem oftewel Juaney Niewoudt mag dalk net 18 jaar oud wees, maar sy het reeds vier Afri Indie toekennings benoemings vanjaar ontvang.
Die benoemings is vir Beste enkelsnit onder 18 vir Iewers Mooi, Beste Country & Gospel enkelsnit vir First Place en vir Beste liedjieskrywer.
Die Afri Indie Toekennings vereer onafhanklike kunstenaars – hetsy musikante, liedjieskrywers, vervaardigers en videograwe – wat ’n betekenisvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf lewer.
Dit is deur Rea le Roux in 2019 vir die eerste keer aangebied, en gaan elke jaar van krag tot krag.
Niewoudt sê sy het verlede jaar akoestiese kitaar leer speel en kan sedertdien nie ophou liedjies skryf nie.
Haar oom het uit die bloute met die verhoognaam Zonnebloem vorendag gekom. Zonnebloem beteken ‘sonneblom’ in Duits en dit is toevallig haar gunstelingblom.
“Die mooiste en spesiaalste was dat die betekenis van Zonnebloem hoop, geloof en liefde is, en dis presies alles wat ek aan mense wil oordra in my musiek; waarhede wat ek wil uitstraal deur my lirieke en melodieë.”

Sy doen dit tans net deeltyds. Sy studeer Teologie met die fokus op berading. “Ek glo my roeping en my passie sal mekaar mooi aanvul en dalk mekaar aanhelp op ’n manier, alles volgens Liewe Jesus se wil.”
Haar musiek is op alle digitale platforms beskikbaar. Sy het tans drie enkelsnitte en sê sy is kinderlik opgewonde om nog van haar musiek met mense te deel.
“Ek glo altyd hoe meer uniek hoe beter, so ek wil graag nuwe, vars, unieke en lekkervoel-klanke, melodieë en instrumente wat net saamwerk in die musiekbedryf inbring, want ek glo mense smag bietjie na iets vars en uniek.”
Die toekenningsaand vind vanjaar plaas op Dinsdag, 25 Augustus by die AfriForum Teater in Pretoria.
Luister hier na First Place https://open.spotify.com/artist/25NKNRk2DQV3B0VwLmdAJc
Luister hier na Iewers Mooi https://music.youtube.com/watch?v=QRdhMhnHvJM&list=OLAK5uy_lfnQvAHMqHW5nGqbp9xXEi65WsqWO2Kek
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel