Egpaar vier 10-jaar huwelik én 100 bloedskenkings saam
Die paartjie hoop hul gesamentlike mylpaal sal ander paartjies inspireer om saam bloed te skenk, 'n gesonde leefstyl te handhaaf en op 'n praktiese manier 'n verskil in ander mense se lewens te maak.
Jacques en Allanah Strydom het nie net hul 10de huweliksherdenking in Junie gevier nie, maar ook ’n besondere mylpaal van diens aan ander.
Op dieselfde dag waarop hulle ’n dekade van getroude lewe saam met hul twee kinders gevier het, het hulle elk hul 50ste eenheid bloed geskenk.
Hierdie skenking bring hul gesamentlike bydrae op 100 eenhede te staan.
Die egpaar, wat saam met hul dogter, Karyn, en seun, Basson, in Weavind Park woon, hoop hul storie sal ander paartjies inspireer om saam bloed te skenk en mekaar te ondersteun in ’n gesonde en aktiewe leefstyl.
Die mylpaal val saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) se viering van 25 jaar van diens, iets waaraan die Strydoms graag hul eie verhaal wil koppel.
Allanah vertel dat sy en Jacques albei op 16-jarige ouderdom op skool begin bloed skenk het. Vir Jacques was die inspirasie sy pa, wat jare lank self ’n gereelde bloedskenker was.
“Dit het hom gemotiveer om dit ook deel van sy leefstyl te maak,” verduidelik sy.
Vir haar was die aanvanklike motivering heelwat eenvoudiger.
“Ek weer, wou graag stokkies gedraai het op skool. So die bloedskenk was ’n manier om uit die klas te bly,” bely sy met ’n vonkel in die oog.
Ná skool het sy egter aanhou bloed skenk nadat haar broer haar deur sy eie getroue skenkings geïnspireer het.
Alhoewel sy met lae bloeddruk en ysteranemie leef, sê sy sy het deur die jare seker gemaak dat sy goed voorberei vir elke skenking.
“Ek het seker gemaak dat ek ’n goeie ete voor elke bloedskenk eet en my ysteraanvullings elke dag klokslag drink.”
Met verloop van tyd het bloedskenking ’n vaste deel van hul huwelik geword. Sy hou jaarliks kalenderinskrywings by waarin sy presies aandui wanneer hulle weer mag bloed skenk.
Omdat bloedskenking elke 56 dae moontlik is, beplan hulle vooruit en maak gebruik van geleenthede wanneer hulle op plekke is waar ’n skenkingsveldtog aangebied word.
Die feit dat hul 10de huweliksherdenking saamval met hul 50ste bloedskenking elk, was nie doelbewus beplan nie.
“Dis ’n groot voorreg om twee spesiale mylpale op dieselfde dag te kan vier. Ons lag eintlik lekker hieroor, want dit het met baie min beplanning so uitgewerk en nou sal ons altyd ons 10de herdenking so kan onthou.”
Hoewel skenkers nie ingelig word oor wie hul bloed ontvang nie, sê Allanah sy weet hul bydraes maak ’n verskil.
“Die bloeddiens se webwerf het stories van mense wat bloed ontvang het toe hulle dit rerig nodig gehad het. So ons weet dat dit baie ander mense help,” vertel sy.
Die tienjaarreis van gereelde bloedskenkings was egter nie sonder uitdagings nie.
Sy vertel dat sy ná die geboorte van hul dogter weer begin bloed skenk het, maar later gesukkel het om swanger te raak toe hulle hul gesin wou uitbrei.
“Eendag by ’n bloedskenkingsdag, toe vra ’n suster vir my of ek op vrugbaarheidsbehandeling is. Ek het gesê nee, maar ek wil graag weer swanger raak. Toe sê sy vir my dat ek nie sal swanger raak as ek gereeld bloedskenk nie, omrede dit jou liggaam onder stres plaas,” verduidelik sy.

Sy het daarna opgehou bloed skenk en kort daarna weer swanger geraak.
Ná haar swangerskappe het sy haar gereelde bloedskenkings hervat.
Die egpaar glo dat ’n gesonde leefstyl ’n bewuste keuse is wat ook aan hul kinders oorgedra moet word. Hulle beplan oefening as deel van hul weeklikse roetine en neem gereeld saam aan Parkruns deel.
Vir die Strydom-gesin is besoeke aan die bloeddiens ook ’n gesinsuitstappie. Allanah sê hul kinders sien dit as ’n opwindende ervaring.
“Dis goed om ons kinders se opgewondenheid te sien om bloeddiens toe te gaan. Hulle dink hulle dra by deur koekies te eet en vrugtesap te drink!”
Aan ander paartjies het die egpaar ’n eenvoudige boodskap. “As ’n getroude egpaar, moet mens aktief besluite maak om ook dinge saam te doen. En watter beter manier as om dinge saam aan te pak wat ander mense se lewens positief kan beïnvloed?”
Wanneer hulle terugkyk op hul eerste tien jaar van huwelik en hul gesamentlike 100 eenhede bloed, sê sy waarop hulle die trotste is, is dat hulle dit saam kon bereik.
“Ons is ook dankbaar dat ons kinders blootgestel kan word aan hierdie lewenwyse van omgee vir ander.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel