News

Kenners waarsku oor ongeregistreerde maerword-inspuitings ná herroeping

Sahpra en twee ander gesondheidsreguleerders waarsku dokters, aptekers en pasiënte om die gebruik van spesifieke herroepte saamgestelde semaglutied- en tirzepatiedprodukte onmiddellik te staak.

Gesondheidswerkers word gewaarsku om onmiddellik op te hou om herroepte saamgestelde semaglutied- en tirzepatied-produkte voor te skryf, af te lewer of toe te dien.

Die waarskuwing is gerig deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte Reguleringsowerheid (Sahpra), die Suid-Afrikaanse Apterkrsraad (SAPC) en die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPSCA).

Die drie reguleerders sê enige voortgesette gebruik van die produkte kan tot dissiplinêre optrede lei.

Die waarskuwing volg nadat Sahpra ’n Klas I Tipe A-herroeping uitgereik het vir spesifieke saamgestelde semaglutied- en tirzepatied-produkte.

Die volledige lys van produkte wat deur die herroeping geraak word, is in Sahpra se amptelike herroepingskennisgewing beskikbaar.

Geregistreerde produkte soos Ozempic, Wegovy en Mounjaro word nie deur die herroeping geraak nie.

Die waarskuwing kom te midde van ’n skerp toename in die gebruik van inspuitbare gewigsverliesmiddels, waarvan kenners meen baie buite die formele gesondheidsorgstelsel bekom word.

Peptiede is kort kettings aminosure wat vir verskillende mediese behandelings gebruik word.

Semaglutied en tirzepatied is peptiedprodukte. Hulle is gewild vir gewigsverlies en word ook deur tipe 2-diabeteslyers gebruik. Hulle werk deur eetlus te verminder en jou langer versadig te laat voel.

Dr. Thys Heyns, ’n mediese dokter van Pretoria wat in estetiese, regeneratiewe en hormoonoptimaliseringsgeneeskunde spesialiseer, sê hy sien daagliks pasiënte wat peptiedprodukte vir gewigsverlies, spierbou of herstel gebruik.

“Daar is beslis ’n toename in pasiënte wat peptiede of inspuitbare gewigsverliesmiddels sonder behoorlike mediese toesig gebruik. Dit word baie duidelik deur sosiale media, beroemdes en mense wat ten alle koste gewig wil verloor, aangevuur,” verduidelik Heyns.

Volgens Heyns is dit veral kommerwekkend dat ongereguleerde produkte maklik via webwerwe, kennisse, gimnasiums of selfs haarkappers bekom kan word.

“Mense is nie werklik bekommerd oor die gevolge, die newe-effekte of die langtermynprobleme nie. Selfs die risiko van ’n ernstige allergiese reaksie pla hulle nie. Vir baie gaan dit net daaroor om gewig te verloor,” verduidelik hy.

Hy waarsku dat die grootste gevaar van produkte wat buite die gereguleerde stelsel verkry word, die onbekende gehalte en samestelling daarvan is.

“Die ergste scenario is dat jy van ’n besmette peptied kan sterf. Jy weet nie hoe suiwer die produk is nie. Dit kan met bakterieë of swamme besmet wees of ander onsuiwerhede bevat wat ’n ernstige allergiese reaksie kan veroorsaak. Onsuiwerhede kan ook lewerversaking veroorsaak.”

Volgens Heyns weet mense wat produkte op die internet of swartmark koop, nie werklik wat in die inspuiting is nie.

“Daar is geen gehaltebeheer nie. Jy het geen idee wat jy koop nie. Die mense wat dit verkoop, stel dikwels net daarin belang om wins te maak,” beklemtoon hy.

Volgens hom wissel die komplikasies van allergiese reaksies tot ernstige orgaanskade.

“Die komplikasies kan wissel van ligte newe-effekte en uitslae tot lewerversaking, anafilaktiese skok en selfs die dood. Dit is nie iets wat ligtelik opgeneem kan word nie.”

Hy sien die probleem daagliks in sy praktyk.

“Dit is baie algemeen. Mense begin dit gebruik, raak later bekommerd en kom dan vir professionele advies,” wys Heyns uit.

Volgens hom is veilige behandeling veel meer as bloot die uitskryf van ’n voorskrif.

“As ’n dokter peptiedprodukte voorskryf, moet hy die pasiënt fisies ondersoek, ’n volledige geskiedenis neem en waar nodig bloedtoetse doen. Soms is daar onderliggende hormonale of ander mediese probleme wat eers aangespreek moet word,” glo Heyns.

Hy sê verantwoordelike mediese praktyk vereis dat dokters die regte produk deur geregistreerde fasiliteite verkry en die pasiënt deurlopend monitor. “Dit bring ’n hele stel verantwoordelikhede vir die dokter mee.”

Cindi Benjamin, farmakovigilansie- en nakomingsapteker by Pharma Dynamics, sê die groeiende belangstelling in inspuitbare gewigsverliesmiddels beklemtoon die belangrikheid van behoorlike mediese toesig en die gebruik van medisyne wat deur die formele regulatoriese stelsel goedgekeur is.

Sy sê die kernvraag is nie of semaglutied as middel veilig is nie, maar of die produk deur die toepaslike regulatoriese prosesse gegaan het.

“Pasiënte aanvaar dikwels dat alle produkte wat as semaglutied bemark word, dieselfde is, maar dit is eenvoudig nie die geval nie. ’n Sahpra-goedgekeurde middel is omvattend vir gehalte en doeltreffendheid geëvalueer. By ongeregistreerde produkte kan daar onsekerheid wees oor bestanddele, steriliteit, sterkte, bergingstoestande en dosisakkuraatheid,” verduidelik Benjamin.

Benjamin sê vervaardigers van geregistreerde semaglutiedprodukte moet uitgebreide inligting oor gehalte, vervaardigingsprosesse, stabiliteit, etikettering, dosering en kliniese data aan Sahpra voorlê voordat goedkeuring verleen word.

Volgens haar word inspuitbare produkte ook vir steriliteit, suiwerheid, dosis-konsekwentheid en kouekettingvereistes beoordeel.

Sy waarsku verbruikers om versigtig te wees vir produkte wat deur sosiale media, aanlyn verkopers of ongemagtigde verspreiders bemark word.

“Pasiënte mag deur laer pryse of makliker toegang aangetrek word, maar hulle moet eers seker maak dat die produk formeel vir gehalte en doeltreffendheid beoordeel is en dat dit opgespoor en gemonitor kan word indien daar veiligheidskwessies ontstaan,” maan Benjamin.

Sy sê verbruikers behoort slegs semaglutied te gebruik wat deur ’n gesondheidsorgpraktisyn voorgeskryf en afgelewer word, met hul apteker te bevestig dat die produk by Sahpra geregistreer is en produkte wat via sosiale media of ongeverifieerde aanlyn platforms verkoop word, te vermy.

Die regulatoriese optrede waarna die Sahpra-kennisgewing verwys, word tans deur die betrokke maatskappy deur die regsproses betwis. Vir die volledige Sahpra-herroepingskennisgewing en lys van produkte, besoek: https://tinyurl.com/4rsm474f

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button