Local newsNews

Pretoria-man ernstig beseer in gru-fratsongeluk by Planet Fitness

'n Gewone gimnasiumsessie het in 'n nagmerrie ontaard toe 'n Pretoria-man ernstige brandwonde by Planet Fitness Montana opgedoen het.

Wat as ‘n gewone oefensessie begin het, het vir die 28-jarige Stéfanos Dalcos in ‘n nagmerrie ontaard. Meer as ‘n maand ná ‘n gruvoorval in die stoomkamer van Planet Fitness Montana lê hy steeds in die hospitaal nadat hy ernstige derdegraadse brandwonde opgedoen het.

⚠️ Waarskuwing: Die volgende beelde kan ontstellend wees vir sensitiewe lesers.

Die 28-jarige het tydens die voorval op 18 Junie derdegraadse brandwonde oor sowat 17% van sy liggaam opgedoen en word steeds in die Kalafong Provinsiale Tersiêre Hospitaal behandel, waar hy reeds verskeie operasies ondergaan het.

Dalcos het vanuit sy hospitaalbed aan Rekord vertel die dag het soos enige ander begin.

“Dit was net ‘n gewone dag by die gimnasium,” het hy gesê.

“Ná my oefensessie het ek gaan stort en, soos ek gewoonlik doen, die stoomkamer ingegaan.”

Volgens Dalcos was die stoomkamer vir ‘n tyd buite werking voordat dit daardie dag weer oopgestel is.

“Ek het ingegaan en dit is die laaste ding wat ek onthou. Ek dink ek het die pyp opgetel, maar ek is eerlikwaar nie seker nie.”

Volgens oogetuies het Dalcos hulpeloos op die teëlvloer gelê, magteloos om te beweeg, terwyl ‘n elektriese stroom deur die pyp én sy liggaam gevloei het.

Die volgende wat hy onthou, is dat hy agter in ‘n ambulans wakker geword het.

“My geheue is baie vaag.”

Dalcos sê hy is later meegedeel dat nog ‘n gimnasiumlid wat hom probeer help het, ook in die proses geskok is deur die elektriese stroom, asook ‘n werknemer, voordat die krag afgeskakel is.

“Ek is baie gelukkig om nog hier te wees,” het hy gesê.

“Dit was ‘n baie vreesaanjaende voorval.”

Die beserings het Dalcos met ernstige brandwonde gelaat en ‘n lang pad van herstel lê nog voor.

Sy linkerhand en -arm het ernstige skade tydens die voorval opgedoen, terwyl hy tans beperkte funksie in sy regterhand het.

“Ons weet nie of ek ooit weer volle funksie sal terugkry nie.”

Die emosionele impak van die eerste keer wat hy sy beserings gesien het, bly hom steeds by.

“Toe ek die eerste keer na my hand gekyk het, het ek gedink dit was net ‘n nat sneesdoekie.

“Eers later het ek besef dit is eintlik my vel. Toe ek die res van my beserings sien, het ek net probeer kalm bly.”

Dalcos het in Desember vanuit Ierland na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy oorsee gewerk het, onder meer op plase in die Verenigde State en in die gasvryheidsbedryf in Ierland.

Hy is tans werkloos en het geen mediese fonds nie. Hy is dus afhanklik van behandeling in ‘n staatshospitaal, terwyl sy familie ‘n BackaBuddy-insamelingsveldtog begin het om sy voortgesette behandeling en rehabilitasie te help befonds.

Klik hier om Stefanos se BackaBuddy-veldtog te ondersteun.

Dalcos sê die enigste kontak wat hy sedert die voorval van Planet Fitness ontvang het, was toe drie werknemers hom in die hospitaal besoek het.

“Hulle het vir my ‘n geskenksak met biltong gebring en een van hulle het vir my ‘n kruis gegee,” het hy gesê.

“Hulle het gesê hulle is bly ek het oorleef en het aangebied om vir my vir ‘n paar maande gratis lidmaatskap te gee.”

Dalcos sê hy het die aanbod van die hand gewys.

“Ek het vir hulle gesê ek gaan nie terug na daardie gimnasium toe nadat ek amper daar dood is nie.

“Die minste wat hulle kon doen, was om my mediese koste te betaal.”

Planet Fitness het in ‘n verklaring aan Rekord gesê sy gedagtes is steeds by Dalcos en sy familie en het hom ‘n spoedige en volkome herstel toegewens.

Die maatskappy het bevestig dat ‘n voorval waarby Dalcos betrokke was op 18 Junie by sy Montana-tak plaasgevind het, maar gesê die oorsaak en meganisme van die voorval is nog nie vasgestel nie en is steeds die onderwerp van onafhanklike tegniese ondersoeke deur sy versekeraar.

Planet Fitness het gesê personeel het onmiddellik gereageer deur nooddienste te ontbied, Dalcos by te staan totdat paramedici opgedaag het, die stoomkamer af te skakel, die area te beveilig, sy familie te kontak en sy persoonlike besittings veilig te bewaar.

Click here to read the article in English.

Die maatskappy het ook bevestig dat werknemers Dalcos later in die hospitaal besoek het en gesê dat dit standaardpraktyk ná ernstige voorvalle is en bedoel was as ’n “gebaar van omgee en ondersteuning”.

Wat die familie se kommer oor mediese koste betref, het Planet Fitness gesê geen finansiële bydrae is gemaak nie omdat die saak onmiddellik deel van ‘n formele regs- en versekeringsproses geword het nadat Dalcos prokureurs aangestel en ‘n geldelike eis ingestel het.

Dalcos se regsverteenwoordigers het egter aan Rekord gesê hulle het Planet Fitness versoek om sy mediese koste te betaal, sonder enige erkenning van aanspreeklikheid.

“Ons het vir hulle gevra om die mediese kostes te betaal, sonder enige erkenning van aanspreeklikheid.”

Volgens Planet Fitness sal enige vergoeding of betaling deur dié regsproses hanteer moet word.

Die maatskappy het verder gesê dat hy in sy ongeveer 31 jaar van bedryf en miljoene ledebesoeke nog nie van ‘n soortgelyke voorval bewus is nie. Die maatskappy het bygevoeg dat die vaste toevoerpyp van die stoomkamer deel van die infrastruktuur is, nie vir normale gebruik deur lede bedoel is nie en nie aangeraak of vasgehou behoort te word nie.

Die maatskappy het gesê hy bly daartoe verbind om die feite deur die toepaslike onafhanklike prosesse vas te stel, terwyl hy steeds daarna streef om ‘n veilige omgewing vir sy lede te bied.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Corné van Zyl

Corné van Zyl is a seasoned journalist and currently a senior reporter at Rekord, with a wealth of experience across various media platforms. She began her career after studying journalism at the Tshwane University of Technology (TUT) and first honed her skills at Media24. Corné’s career took her to Beeld, Sondag newspaper, and the South African Press Association (SAPA), where she built a strong foundation in news reporting. In her free time, Corné enjoys spending time with her family outdoors, embracing life and creating lasting memories with her loved ones.
Back to top button