NewsSchools

Kenner waarsku teen oningeligte vakkeuses op hoërskool

Ouers en leerders kan ’n gratis inligtingsessie op 6 Augustus by die Riviera-Jakarandakerk bywoon vir hulp oor hoe om regte keuses te maak.

Graad 9-leerders regoor Suid-Afrika staan in Augustus voor een van die belangrikste besluite van hul skoolloopbaan wanneer hulle hul vakke vir graad 10 tot 12 moet kies.

Volgens loopbaanontwikkelingspraktisyn dr. Pieter Clase kan hierdie besluit ’n bepalende invloed op toekomstige studie- en loopbaangeleenthede hê, en daarom is dit noodsaaklik dat ouers en kinders die proses ingelig aanpak.

Clase bied op 6 Augustus om 17:30 ’n gratis inligtingsessie aan vir ouers van graad 9-leerders by die Riviera-Jakarandakerk in Blakestraat in die Moot. Die sessie is daarop gemik om ouers toe te rus met die kennis om hul kinders effektief deur die vakkeuseproses te begelei.

Dr Pieter Clase Foto: Verskaf

Hy sê die meeste skole vereis dat graad 9-leerders gedurende Augustus hul vakkeuses vir die volgende jaar finaliseer sodat skole hul rooster- en personeelbeplanning betyds kan afhandel.

Volgens Clase is dit ook belangrik dat die besluit vroeg afgehandel word omdat dit gemoedsrus vir beide leerders en ouers bring.
Dit stel leerders in staat om hul aandag ten volle op hul graad 9-eindeksamen te vestig, waarvan die uitslae bepalend is vir die oorgang na graad 10.

Hy waarsku dat die grootste fout wat ouers en leerders maak, is om vakke te kies sonder om die leerder se beroepsbelangstellings, persoonlikheid, akademiese vermoë en werksetiek in ag te neem.

“Dit gee dikwels aanleiding tot onrealistiese vak- en studiekeuses en toekomsverwagtings.”

Clase beklemtoon dat graad 9-leerders nie reeds op ’n spesifieke beroep hoef te besluit nie, maar dat hulle wel ’n breë beroepsrigting behoort te identifiseer voordat vakke gekies word.

“As ’n leerder byvoorbeeld tans ’n belangstelling toon in die gesondheids- maar ook in die finansiële wetenskappe, moet vakke sodanig gekies word dat die leerder in graad 12 vir studieprogramme in beide hierdie beroepsvelde sal kan aansoek doen.”

Volgens hom is een van die redes waarom eerstejaarstudente aan tersiêre instellings in verkeerde studieprogramme beland en later uitsak, dat hulle nie reeds op skoolvlak aan die verskillende beroepsmoontlikhede blootgestel word nie.

Hy sê baie leerders neem later haastige besluite bloot omdat hulle aan die minimum toelatingsvereistes vir ’n kursus voldoen, eerder as omdat dit hul voorkeurstudierigting is. In ander gevalle beperk verkeerde vakkeuses hul toekomstige opsies.

Clase meen studie- en loopbaanevaluerings deur professionele kundiges speel daarom ’n belangrike rol voordat vakke gekies word.

Hy moedig ouers ook aan om inligtingsgeleenthede soos die gratis sessie by Riviera-Jakarandakerk by te woon.

Hy sê vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en, afhangend van die studierigting, Lewenswetenskappe en Rekeningkunde, bied die meeste geleenthede vir verdere studie.

“Dit maak egter geen sin om hierdie vakke in ’n vakpakket in te sluit as die leerder nie oor die akademiese vermoë beskik om die vakke op die voorgeskrewe prestasie-vlakke te slaag nie.”

Hy voeg by dat Wiskundige Geletterdheid steeds toegang tot ’n verskeidenheid studie- en loopbaangeleenthede bied vir leerders wat nie Wiskunde suksesvol kan voltooi nie.

Clase sê dit is belangrik dat leerders onderskei tussen vakke wat hulle geniet en vakke wat noodsaaklik is vir hul beoogde beroepsveld.

Volgens hom behoort die leerder se beroepsbelangstellings eers bepaal te word, waarna die vereiste vakke vir toelating tot relevante studieprogramme geïdentifiseer kan word. Daarna kan die vakpakket aangevul word met een of twee vakke wat die leerder geniet en makliker vind, wat terselfdertyd kan help om ’n hoër gemiddelde persentasie te behaal.

Vir leerders wat nog onseker is oor hul toekoms, beveel Clase aan dat hulle so gou moontlik studie- en loopbaan-belangstellingsevaluerings ondergaan.

Hy sê skole, private professionele diensverskaffers en inligtingsessies kan waardevolle leiding bied. Daar is ook verskeie aanlyn hulpmiddels beskikbaar, maar hy beklemtoon dat leerders self verantwoordelikheid vir hul loopbaanbeplanning moet aanvaar.

Volgens Clase is ouers se betrokkenheid by die vakkeuseproses ononderhandelbaar, maar hy waarsku ook teen onrealistiese verwagtings.

“Ouers het tereg hoë verwagtings van hulle kinders omdat hulle net die beste vir hulle kinders wil hê.”

Hy sê dit lei soms daartoe dat ouers hul kinders probeer oorreed om beroepe te volg waarin hulle geen belangstelling het nie.

“Ouers moet in gedagte hou dat hulle kinders vir 30 tot 40 jaar ná studies gelukkig moet wees in ’n beroepsveld en dat ’n realistiese besluit belangrik is en nie noodwendig die ouer se keuse sal wees nie.”

Clase moedig leerders verder aan om loopbaanskoue by te woon, navorsing oor beroepe te doen en, waar moontlik, skaduwerk by mense in hul belangstellingsvelde te doen.

Volgens hom help dit leerders om ’n realistiese beeld van beroepe te kry eerder as om hul indrukke slegs op TV-programme of rolprente te baseer.

Hoewel verkeerde vakkeuses later reggestel kan word, sê Clase dit is verkieslik om van die begin af ingeligte besluite te neem.

Hy verduidelik dat leerders wat reeds in graad 10 is en besef hulle het die verkeerde vakke gekies, gewoonlik tot twee vakveranderings kan aanbring, maar beklemtoon dat deeglike beplanning hierdie situasie kan voorkom.

Sy raad aan graad 9- en 10-leerders is om nie paniekerig te raak nie, maar die proses saam met hul ouers as ’n opwindende geleentheid te sien.

Hy moedig leerders aan om hul beroepsbelangstellings te ondersoek, navorsing te doen oor verskillende beroepe, skaduwerk te verrig, die nodige vakke vir toekomstige studies te identifiseer en hard te werk om aan toelatingsvereistes te voldoen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button