News

Kwesbare kinders kry hulp met volgehoue tutorwerk

Meer as 60 onderwysstudente ondersteun deur die jaar kinders by ’n skuiling vir hawelose gesinne in die Moot. Die projek het uit navorsing oor diensleer ontstaan en navorsingsresultate daarvan is nou internasionaal tydens ’n onderwyskonferensie in Denemarke as ’n voorbeeld voorgehou.

’n Projek van onderwysstudente maak reeds langer as ’n jaar ’n verskil in die lewens van kinders by ’n skuiling vir hawelose gesinne in die Moot.

Wat as ’n navorsingsprojek begin het, het ontwikkel tot ’n deurlopende diensleer-inisiatief waarin meer as 60 tweedejaar-, derdejaar- en vierdejaar-onderwysstudente betrokke is.

Die projek vorm deel van die onderwysstudente se diensleer binne hul diensleermodule en fokus daarop om akademiese ondersteuning aan kinders by die skuiling te bied, terwyl toekomstige onderwysers terselfdertyd praktiese ervaring opdoen.

Volgens San-Marié Weyers, onderwysdosent by Emeris Pretoria, het sy die tutorprojek in 2025 as deel van ’n navorsingstudie by Emeris in vennootskap met die skuiling begin.

“Ek het gehoop om maniere te identifiseer waarop onderwysopleidingsprogramme voornemende onderwysers beter kan voorberei om met gemarginaliseerde bevolkingsgroepe te werk. Die 2025-loodsprojek het 20 finalejaar- voornemende onderwysers in die Intermediêre Fase betrek,” sê Weyers.

Sy verduidelik die doel van die aanvanklike projek was om te ondersoek hoe die selfdoeltreffendheid van ’n groep finalejaarstudente gevorm word deur hul betrokkenheid by diensleer in ’n skuiling vir hawelose gesinne.

Die navorsingsbevindinge het getoon dat die program nie net die studente se selfdoeltreffendheid versterk en hul perspektiewe verander het nie, maar ook ’n sterker gevoel van professionele verantwoordelikheid ontwikkel het om kwesbare kinders te ondersteun.

Sy beklemtoon volgens die studie dra dit by tot die ontwikkeling van ’n sosiaal-verantwoordelike onderwyser-identiteit.

Benewens die waarde wat die projek vir die studente ingehou het, was hulle ook verras deur die kinders se entoesiasme vir skoolwerk.

“Met elke besoek het die kinders gevra wanneer kom die tutors weer en, tot die voornemende onderwysers se verbasing, het hulle met elke besoek vir nóg huiswerk gevra,” merk Weyers op.

Sy sê hierdie reaksie het die behoefte aan voortgesette ondersteuning beklemtoon en ook nuwe uitdagings uitgelig.

“Ons het opgemerk dat die Grondslagfase-kinders voortdurend die tutorsessies onderbreek en ook vir werk vra. Ons het geweet ons moet die Grondslagfase-studente in 2026 insluit,” sê Weyers.

Daar is toe besluit dat die projek nie met die voltooiing van die navorsing sou eindig nie.

Volgens Weyers het die projek eenvoudig ’n té groot rol in die kinders se lewens begin speel om dit te staak.

“Ons het in 2026 voortgegaan en alle tweedejaar- tot vierdejaar-studente in van die ander onderwysfases genooi om betrokke te raak. Hulle kon hul ure vir die diensleerkomponent van hul module registreer of bloot vrywillig diens doen.

Vandag neem meer as 60 studente-tutors aan die projek deel. Om te verseker dat die kinders deur die jaar ondersteuning ontvang, sluit nuwe groepe studente elke twee maande by die projek aan.

Die rotasiestelsel verseker dat daar deurlopend tutors beskikbaar is om met skoolwerk te help en om ’n bestendige verhouding met die kinders te bou.

Die studente word ook aangemoedig om buitemuurse aktiwiteite aan te bied.

Volgens Weyers sluit dit onder meer groepskaak en musieklesse in. “Ek is trots om te sê dat ons studente-tutors die skuiling byna elke weeksdag en ook op Saterdae besoek.”

Die daaglikse betrokkenheid het daartoe gelei dat die projek veel verder strek as bloot akademiese ondersteuning. Die tutors werk saam met die skuiling om hul leerders se individuele behoeftes beter te verstaan.

Drie finalejaarstudente, Megan Gouws, Gizelle Groesbeek en Ledile Mokwala, tree op ’n vrywillige basis as projekleiers vir die projek op.

Hulle werk saam met die maatskaplike werker by die skuiling om weeklikse tutorbesprekings te koördineer, uitdagings aan te spreek, kinders se spesiale behoeftes te kommunikeer en administratiewe take te ondersteun.

Die projek bied terselfdertyd aan toekomstige onderwysers die geleentheid om praktiese ervaring op te doen in ’n omgewing waar hulle met uiteenlopende uitdagings en lewensomstandighede kennis maak.

Volgens die navorsingsbevindinge help hierdie blootstelling om hul professionele ontwikkeling te versterk en hul begrip van inklusiewe en sosiaal verantwoordelike onderwys te verdiep.

Die voortgesette uitbreiding van die projek weerspieël, volgens Weyers, die waarde van diensleer as deel van onderwysopleiding en die positiewe impak wat volgehoue ondersteuning op kinders in kwesbare omstandighede kan hê.

Die sukses van die projek en die bevindinge van die navorsing sal ook internasionale aandag geniet wanneer Weyers die studie op 24 Julie as ’n virtuele aanbieding tydens die tiende World Conference on Teaching and Education aanbied.
Die konferensie vind in die laaste week van Julie in Kopenhagen, Denemarke, plaas en bring internasionale navorsers, akademici en studente byeen om moderne onderwysneigings te bespreek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button