Verligting in sig met 10-jaar bestuurslisensies op horison
Die besluit om bestuurslisensies vir ligte voertuie na 10 jaar te verleng, bring verligting ná jare se druk van burgerlike organisasies. AfriForum en Outa verwelkom die hervorming, maar waarsku dat die Departement van Vervoer vinnig moet optree om instelling te verseker en bestaande stelselprobleme op te los.

Die kabinet se besluit om die geldigheidstydperk van bestuurslisensies vir ligte voertuie na 10 jaar te verleng, word deur burgerlike organisasies verwelkom, wat reeds jare lank vir dié verandering beywer.
AfriForum sê die besluit wys dat volgehoue openbare druk uiteindelik resultate kan lewer, maar dat die instelling daarvan nie vertraag moet word nie.
Die aankondiging volg ná meer as vyf jaar se gesprekke, voorstelle en druk van organisasies wat aangevoer het dat die bestaande vyfjaar-hernuwingsiklus onnodige druk op Suid-Afrika se lisensiëringstelsel plaas.
Die burgerregte-organisasie glo die verlenging van die geldigheidstydperk is ’n belangrike stap om die las op motoriste en die Departement van Vervoer se administratiewe prosesse te verminder.
Volgens die organisasie het daar oor die afgelope paar jaar herhaaldelik groot agterstande ontstaan met die uitreiking van hernieude bestuurslisensiekaarte.
AfriForum het daarom verskeie kere met die departement in gesprek getree en aangevoer dat ’n langer geldigheidstydperk nodig is om die stelsel meer doeltreffend te maak.
Minister van Vervoer, Barbara Creecy, het volgens AfriForum reeds in Maart vanjaar in ’n skriftelike antwoord aan die organisasie onderneem om die proses af te handel om bestuurderslisensies langer geldig te maak.
AfriForum-woordvoerder Louis Boshoff sê die belangrikste volgende stap is dat die besluit vinnig in werking gestel word voordat nuwe opeenhopings in die stelsel ontstaan.
“Die departement het steeds net een lisensiekaartdrukker in sy besit, wat dekades oud is en dikwels onklaar raak. Nuwe drukkers moet aangeskaf word en ander probleme in die stelsel moet steeds uitgestryk word. Hierdie besluit behoort eintlik net die eerste stap te wees om te verseker dat effektiewe en betroubare prosesse in plek is vir die lisensiëring van motorbestuurders,” sê Boshoff.
Die besluit sal van toepassing wees op ligte voertuiglisensies met kodes A, A1, B en EB.
Lisensies vir swaar kommersiële voertuie en openbare vervoer sal volgens die bestaande reëls bly funksioneer, terwyl professionele bestuurderspermitte steeds volgens die huidige tydperke hernieu moet word.

Onderskrif: Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa Foto: Outa-webwerf
Burgerlike organisasies het ook daarop gewys dat die verandering nie onmiddellik beteken dat motoriste nie meer hul lisensies volgens die huidige reëls moet hernu nie.
Die nodige wysigings aan wetlike voorskrifte moet eers afgehandel en amptelik gepubliseer word voordat die nuwe geldigheidstydperk in werking tree.
Totdat die verandering formeel ingestel is, moet motoriste voortgaan om hul lisensiekaarte volgens die bestaande vereistes te hernieu.
Die Organisasie vir Toegepaste Belastingverantwoordelikheid (Outa) het ook die kabinet se besluit verwelkom en gesê die hervorming is lank reeds nodig.
Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa, glo dat die pandemie bloot bestaande probleme in die stelsel beklemtoon het.
Volgens die organisasie het die vyfjaarsiklus onnodige druk geplaas op ’n stelsel wat reeds met ondoeltreffendheid, swak dienslewering en ander uitdagings gesukkel het.
Hy verduidelik die organisasie het ook navorsing gedoen oor bestuurderslisensie-geldigheidstydperke in 35 lande en bevind dat die gemiddelde geldigheidstydperk ongeveer 8.5 jaar is.
Volgens hom hou langer geldigheidstydperke vir gewone bestuurslisensiekaarte nie noodwendig verband met swakker padveiligheid nie.
Hy sê padveiligheid word eerder bepaal “deur faktore soos effektiewe wetstoepassing, verantwoordelike bestuurders, padwaardige voertuie en veilige paaie”.
Hy beklemtoon ook dat die regering nou duidelikheid moet verskaf oor wanneer die nuwe stelsel in werking sal tree en of dit slegs op nuwe lisensiekaarte van toepassing sal wees of ook kaarte wat reeds uitgereik is.
Die organisasie vra dat die Departement van Vervoer die nodige wysigings sonder verdere vertraging afhandel, ’n duidelike instellingsplan bekend maak en motoriste inlig oor die oorgang na die nuwe stelsel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

