Misbruik van opswaaidromme plaas metro onder druk
Oorvol openbare opswaaivullisdromme wat met huishoudelike afval gevul word, veroorsaak onwettige storting, onaangename reuke en plaas groot druk op die metro se dienslewering. Die dromme is slegs bedoel vir klein hoeveelhede rommel van voetgangers wat onderweg na hul bestemmings is.
Die toenemende misbruik van openbare opswaaistraatdromme vir huishoudelike en tuinafval in die Moot plaas groot druk op die metro se hulpbronne.
Oorvol opswaaistraatdromme, onwettige storting daarrondom en meegaande gesondheidsrisiko’s neem toe, terwyl gemeenskapsleiers inwoners versoek om verantwoordelik op te tree en oortreders aan te meld wat selfs hul swart sakke wat in swart munisipale vullisdromme hoort, in en langs sulke opswaaidromme plaas.
Alhoewel dié openbare vullisdromme vir voetgangers bedoel is, word dit toenemend misbruik as stortplekke vir huishoudelike en tuinafval in veral Wyk 52, volgens klagtes wat Rekord ontvang het. Die wyk sluit buurte in soos Derdepoort, Bergtuin, Waverley, Rietfonteine en Villieria.
Volgens DA-raadslid Adriana Randall is dié dromme uitsluitlik bedoel vir klein hoeveelhede rommel wat mense weggooi terwyl hulle onderweg is, en nie as plaasvervangers vir huishoudelike of kommersiële vullishouers nie.
Randall sê die nuwe verskynsel plaas groot druk op die metro se hulpbronne. Wanneer huishoudelike afval en sakke vol rommel in openbare dromme gegooi word, loop dit oor, onwettige storting neem toe, slegte reuke ontstaan en gesondheids- en veiligheidsrisiko’s word groter.
“Dit vertraag ook dienslewering omdat stadswerkers ekstra tyd moet bestee om die probleem aan te spreek,” volgens Randall.
Volgens haar moet spesiale spanne tans weekliks probleemgebiede identifiseer waar die misbruik die ergste is.
Brandpunte sluit tans veral bushaltes in Waverley, Starkey, Spioenkop en Codonialaan in.
Sy sê een openbare opswaaivullisdrom moes reeds verwyder word nadat dit herhaaldelik misbruik is en uiteindelik uit die grond geruk is.
Volgens die metro se Afvalbestuursverordening van 2008 moet alle afval in die goedgekeurde munisipale houers met wiele vir die betrokke eiendom geplaas word. Die misbruik van openbare rommeldromme word as onwettige storting beskou en oortreders kan beboet word.
Randall sê die DA wil saam met die metropolisie departement en afvalwetstoepassers werk om probleemgebiede te monitor en die munisipale bywette hierrondom te toepas. Sy sê die wet moet regverdig toegepas word en dat oortreders aanspreeklik gehou moet word.
Sy sonder die bydrae van sekuriteitsmaatskappye soosBrinant, ProShield en Axon uit om die misbruik van die swaaidromme deur voortgesette sigbare wetsoorsig te bekamp.
Versoeke is ook aan die burgemeesterskomiteelid vir Omgewing en Afvalbestuur, Obakeng Ramabodu, gerig om die frekwensie van vullisverwydering in swaaidromme by probleemgebiede te verhoog.
Volgens Randall word daar ook beoog om versoeke te rig dat openbare opswaaivullisdromme wat voortdurend misbruik word en min voordeel vir voetgangers inhou, ná 0146n behoorlike ondersoek verskuif of verwyder word.
Sy glo opvoeding speel ’n belangrike rol om die probleem te bekamp. Volgens haar moet inwoners verstaan dat openbare opswaaidromme bedoel is vir klein hoeveelhede rommel wat onderweg weggegooi word soos ’n koeldrankblikkie, lekkergoedomhulsel of piesangskil.
Dit is nie bedoel vir swartsakke, huishoudelike afval of groot hoeveelhede rommel nie.
Sy meen die stad behoort inwoners deur pamflette of brosjures bewus te maak van die korrekte gebruik van die dromme.
Volgens haar is aanspreeklikheid ook belangrik en oortreders moet beboet word.
Sy glo dat samewerking tussen die metropolisie, die stadsraad, organisasies en inwoners nodig is om die probleem suksesvol aan te spreek.
Een van die redes wat inwoners aanvoer wat tot die misbruik kan lei, is dat die munisipale vullisdromme met die wiele soms gesteel word. Die proses om ’n nuwe een te verkry, verg ’n lang tyd, aangesien ’n polisiestasie besoek moet word om ’n verklaring te verkry. Hierdie dokument moet by ’n aansoek aan die metro vir ’n nuwe vullisdrom met wiele geheg word.
Intussen word daar van swaaidromme gebruik gemaak of word onwettige storting op oop terreine gedoen, volgens wetsgehoorsame inwoners
Randall moedig inwoners aan om hul huishoudelike vullisdromme teen diefstal te beskerm deur dit vroegoggend uit te sit en weer in te neem sodra dit leeggemaak is.
“Waar moontlik behoort bure mekaar te help deur dromme in te neem wanneer iemand nie tuis is nie,” doen sy aan die hand.
Sy beveel ook aan dat inwoners hul vullisdromme duidelik merk of verf sodat dit maklik uitgeken kan word. Foto’s van die dromme kan help om dit vinnig te identifiseer indien dit verdwyn.
Indien iemand afval in ’n huishoudelike vullisdrom stort wat nie daar hoort nie, behoort dit aangemeld en geëskaleer te word.
Inwoners waarsku ook dat vullisdromme nie oornag buite eiendomme gelaat moet word nie, aangesien daar verskeie voorvalle aangemeld is waar die vullisdromme teenaan heinings deur misdadigers geskuif is om oor heinings te klim en in te breek.
Om probleme met openbare swaaidromme of algemene afvalbestuur in die Tshwane Metro aan te meld, kan inwoners probleme by 012 358 3122 of 012 358 0561 aanmeld.
Vir algemene klagtes oor afvalbestuur kan 012 358 0577 of 012 358 0579 gekontak word. Die e-Tshwane-platform kan ook gebruik om ’n versoek of klagte aan te teken of ’n boodskap kan gestuur word na die Tshwane WhatsApp-lyn by 087 153 1001. Klagtes kan ook per e-pos gestuur word na wastemanagement@tshwane.gov.za of customercare@tshwane.gov.za.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
