Plaaslike ingenieur help om geheime van heelal te ontsluit
Thomas Küsel, 'n Universiteit van Pretoria-alumnus en voormalige WNNR-ingenieur, is deel van ’n span wat Suid-Afrika se maan-antennas vir die Africa2Moon-sending ontwikkel. Die projek kan in 2029 die wêreld se eerste radioteleskoopreeks op die maan vestig en Suid-Afrika se ruimte- en radioastronomiekennis verder uitbrei sowel as geheime van die diep heelal ontsluit.
’n Oud-Tukkie is deel van die span van die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie-observatorium (SARAO) wat een van Afrika se mees ambisieuse ruimteprojekte ontwikkel.
Die organisasie werk aan die Africa2Moon-sending wat beoog om in 2029 Suid-Afrikaans-ontwerpte B.A.L.L.S.-antennas op die maan te plaas.
B.A.L.L.S. is ’n afkorting vir Bounced African Low Lunar Spheres. Die saamgestelde sfere, oftewel maanantennas, bevat lae-frekwensie radioteleskoop-antennas en elektronika.
Wanneer hierdie maan-antennas op die maan geplaas word, sal geheime van die heelal se diepste ruimtes ontdek kan word.
Onder die sleutel-ingenieurs op die projek is Thomas Küsel, ’n alumnus van die Universiteit van Pretoria wat ook tien jaar lank by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) in Pretoria gewerk het.
Africa2Moon is die eerste ruimteverkenningsending wat geheel en al deur Afrika gelei word en het ten doel om die wêreld se eerste radioteleskoopreeks op die maan te vestig.
Die groter droom van die sending is ook om ’n robotmaanbasis te vestig wat deur ruimtevaarders besoek kan word.
Die projek is gekies as een van die internasionale projekte vir China se Chang’e-8-maanmissie, waartydens ’n vuurpyl in 2029 na die maan se suidpool gelanseer sal word wat die maan-antennas as vrag sal dra.
Die span, onder leiding van projekleier dr. Carla Mitchell, is een van die belangrikste vennote in die projek. Die ander vennote is die Foundation for Space Development Africa, die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap, die Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van KwaZulu-Natal en ondernemings in die plaaslike ruimtebedryf.

Küsel en sy SARAO-kollega Japie Ludick, saam met spanlede Thabang Maretela en Severin Azankpo, is verantwoordelik vir die strukturele model van die maan-antennas.
Vir Küsel is die projek ook ’n persoonlike hoogtepunt in sy ingenieursloopbaan.
Hy sê die ontwerp van die antennas verg oplossings vir buitengewone uitdagings.
“Die maanomgewing is baie ongenaakbaar en daar is baie uitdagings,” sê hy.
Volgens hom is temperatuurbeheer die grootste tegniese uitdaging met die ontwerp van tegnologie vir gebruik op die maan.
“Miskien is die grootste uitdaging om ’n stelsel te ontwerp wat die uiters koue temperature tydens die reis na die maan en op die maanoppervlak kan oorleef. Temperature daal tot so laag as -260ºC, maar die elektronika en batterye kan nie sulke koue oorleef nie, daarom moet ons hulle warm hou. Ons het egter min verhittingskrag beskikbaar, daarom moet ons die maan-antennas met uiters doeltreffende termiese isolasie ontwerp,” verduidelik hy.
Nog ’n uitdaging is om die toerusting veilig op die maan te laat land.
“Die landing op die maan is baie hard, en die balle moet moeilike landingstoestande oorleef terwyl die baie delikate instrumente binne-in beskerm word,” sê hy.
Die maan-antennas is ontwerp om radiogolwe op te spoor wat nie vanaf die aarde waargeneem kan word nie.
“Die doel is om baie lang radiogolwe op te spoor wat ons nie op aarde kan waarneem nie omdat die atmosfeer dit blokkeer. Dit kan dus slegs in die ruimte of op die maan opgespoor word. Die maan-antennas is uniek omdat hulle hierdie lang radiogolwe kan opspoor, terwyl hulle terselfdertyd baie klein en kompak is sodat hulle na die maan vervoer kan word,” verduidelik hy.
Die eerste fase van die sending behels die ontplooiing van drie antennas.
Indien dit suksesvol is, is die uiteindelike doel om 55 antennas op die maanoppervlak te plaas, een vir elke Afrika-land.
Hy sê Suid-Afrika beskik reeds oor ’n sterk grondslag in satellietingenieurswese, maar die projek neem die land se ruimtevermoëns na ’n nuwe vlak.
Hy meen Suid-Afrika is reeds internasionaal gevestig op die gebied van radioastronomie en dat die maanprojek die volgende groot stap verteenwoordig.
“In terme van wetenskap is Suid-Afrika reeds bekend as een van die wêreld se voorste lande op die gebied van radioastronomie, soos ons met die ontwikkeling van die MeerKAT-radioteleskoop bewys het. Die Africa2Moon-sending sal ons in staat stel om die wêreld te lei in die volgende stap om die nuwe grens van diep-ruimte-radioastronomie te verken.”

Die sending beklemtoon Suid-Afrika se groeiende rol in internasionale ruimteprojekte en bou voort op die kundigheid wat oor dekades in satellietingenieurswese en radioastronomie ontwikkel is.
Vir hom is dit ook ’n bewys van die gehalte van Suid-Afrikaanse opleiding en navorsing.
“Africa2Moon sal die eerste diepruimtesending wees. Dit sal ons ingenieurskennis uitbrei en ons in staat stel om in die toekoms aan nog meer opwindende diepruimtesendings deel te neem.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
